Hoërskool Die Wilgers ook op die atletiekbaan op pad boontoe

Hoërskool Die Wilgers se dominerende vertoning in Dinsdag se D-bond atletiek interhoër het gewys dat dié skool se sportprestasies nie net tot die rugbyveld beperk is nie.

Ons weet nou al ’n paar jaar dat Hoërskool Die Wilgers se sportmanne kán rugby speel, want hulle oorheers immers die Stadsbeker liga al verskeie seisoene lank in alle ouderdomsgroepe.

Ná Dinsdag se D-bond atletiek interhoër weet ons dat Die Wilgers ook oor genoeg kwaliteit atlete beskik om kampioene op die atletiekbaan te wees.

Die Wilgers se atletiekspan het alle aspekte van Dinsdag se D-bond byeenkoms op die Pilditch baan in Pretoria-Wes oorheers, om met hul totaal van 2449.5 punte as kampioen gekroon te word. Hulle sal dus volgende jaar opskuif na die C-bond.

Maragon Mooikloof, een van die twee privaatskole wat in dié liga in aksie was, sal ongelukkig afskuif na die E-bond, nadat hulle in die agtste plek geëindig het.

Die gasheerskool van die dag, Hoërskool Gerrit Maritz (2248.5 punte), het algeheel tweede geëindig. Terloops, die Gerries se aanbieding van die byeenkoms was werklik uitstaande. Die standaard van hul poging was enige tyd vergelykbaar met dit wat in die top ligas ervaar word, terwyl die beplanning, aandag aan detail en respek vir etiket – ook ten opsigte van die media – ’n aangename ervaring vir atlete, toeskouers en gaste verseker het.

Hoërkool Tuine (2104.5 punte) het in die derde plek geëindig, gevolg deur die Eduplex Skool (2047.5); Hoërskool FH Odendaal (1992.5); Lyttelton Manor (1825); Willowridge High School (1761.5) en Maragon Mooikloof (1477).

Hoewel slegs sewe nuwe rekords op die byeenkoms opgestel is, was daar ’n paar puik individuele vertonings.

Die twee top presteerders van die dag was albei verspringers. Jean-Jacques Ellis van Die Wlgers se nuwe rekord van 6,21m vir seuns o.14 is 863 punte werd op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel.

Tyler Campher van Gerrit Maritz het in die verspring item vir seuns o.16 ook ’n nuwe rekord opgestel. Sy afstand van 6.61m is 845 APE punte werd.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version