Local sportSchool sportSport

Curro Hazeldaen verras by Podium atletiek se eindrondte

’n Wêreldrekord, ’n SA rekord en 36 byeenkomsrekords getuig van die opwindende atletiek wat toeskouers Saterdag by die eindronde van die tweede Curro Podium skole-atletiekreeks op die Pilditch baan in Pretoria-Wes kon aanskou.

As daar nog enige twyfel was by liefhebbers van skole-atletiek dat Curro Hazeldaen op ’n atletiek missie is, dan het dié skool die afgelope Saterdag alle twyfel uit die weg geruim.

Hoewel Curro Hazeldean se atlete hierdie week nog aan die Pretoria C-bond atletiekbyeenkoms deelneem, is hulle ongetwyfeld op pad boontoe en dit sal niemand verbaas as hulle dié kompetisie maklik wen nie.

Hierdie stelling word gerugsteun deur die feit dat Curro Hazeldean die afgelope naweek vriend en vyand verras het deur algeheel tweede te eindig tydens die eindrondte van die gewilde Curro Podium skole-atletiekreeks.

Curro Holdings, die beheermaatskappy van die Curro Skole, het verlede jaar met hierdie konsep vorendag gekom en vanjaar se reeks – wat op laer- en hoërskole vlak aangebied word – was reeds die tweede suksesvolle aanbieding daarvan. Streeksbyeenkomste word eers vir skole uit die noorde en suide van die land aangebied, waarna die eindrondte dan volg. Dié eindrondte is vanjaar vir die tweede keer agtereenvolgens in die Pilditch stadion in Pretoria-Wes aangebied.

Atlete van 44 hoërskole uit vyf van die land se nege provinsies was deel van hierdie skouspel, terwyl die teenwoordigheid van Curro Windhoek se atlete boonop kontinentale status aan die byeenkoms gegee het. ’n Curro Uitnodigingspan, wat veral o.19 atlete ingesluit het wat nie meer op skool is nie, was ook deel van die aksie.

Dan was daar die sogemaande Classic Shootout items op die program. Van die land se heel beste senior atlete, waaronder verskeie Olimpiese kandidate getel het, kon deelneem aan wedlope wat oor ongewone afstande beslis is. Dit het ingesluit twee 150m wedlope (mans en dames), twee 300m wedlope, ’n 600m wedloop vir mans en ’n 1000m wedloop vir vroue.

In die 150m wedloop vir mans het die Olimpiese ster, Akani Simbine, ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord (15,04s) opgestel oor dié ongewone afstand. Die groot skare op die paviljoen was later wéér op hul voete, toe die jong superster uit Botswana, Letsile Tebogo, die 300m wedloop in ’n nuwe wêreldrekord tyd (30,69s) afgeblits het.

Hoewel Hoërskool Menlopark, soos verlede jaar, die algehele kompetisie (seuns en meisies gesamentlik) gewen het, was die groot verrassing van die dag die feit dat Menlo se seuns in dié afdeling deur Curro Hazeldean onttroon is. Laasgenoemde het met 21429 ’n volle 174 punte meer as die Parkies se seuns (21265) ingepalm. Afrikaans Hoër Seunskool was derde (20497) en Hoërskool Zwartkop (19977) vierde. Die beste seuns-span van buite Gauteng was Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys High) wat met 18886 punte vyfde geëindig het.

Wat die meisies betref het Menlopark (21760) eerste geëindig, met Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria (21541) in die tweede plek, Hoërskool Noordheuwel (21013) derde, La Rochelle Girls’ High School van die Paarl (20630) vierde en Paarl Girls High (20284) in die vyfde plek.

In die gesamentlike span-kompetisie het Menlopark weer met die louere weggestap, terwyl Curro Hazeldean baie groter skole verras het met hul tweede plek. Hulle is gevolg deur Noordheuwel, Hoërskool Zwartkop, Midstraem College, Helpmekaar Kollege, Paarl Gimnasium, Hoërskool Montana, Hoërskool Dr. Malan van Meyerton en Hoërskool Durbanville.

Hoewel Curro Hazeldean baie vertroue uit herdie uitslag sal kry met die oog op hul C-bond atletiekbyeenkoms, is dit ook ’n feit dat sommige skole wat ’n invloed op die uitslag kon gehad het, nie deelgeneem het aan die reeks nie, terwyl ander se spanne nie op volsterkte was nie. Onder die wat nie deelgeneem het nie, tel A-bond skole uit Pretoria, soos Hoërskool Waterkloof en Hoëreskool Oos-Moot.

Op die baan het die deelnemers gesorg vir skitternede atletiek. Daar het 36 byeenkomsrekords op die dag in die slag gebly, terwyl dit in verskeie items gebeur het dat die sewe top deelnemers almal die vorige jaar se rekord kon klop.

Ses atlete het op die dag prestasies behaal wat volpunte (1000) op Atletiek SA se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd was.

  • Kgopotso Manaleng (seuns o.15) van die Curro Podium Uitnodigingspan (POD) se tyd van 12,51s het aan hom 1000 punte en die titel as Junior Seuns baanatleet van die dag besorg.
  • Dewald Bezuidenhout (seuns o.15) van Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria se 19,50m in die gewigstoot item was ook 1000 punte werd, terwyl hy as Junior Seuns Veldatleet gekroon is.
  • Matodzi Ndou (seuns o.17) van Curro Hazeldean het die 110m hekkies item in ’n tyd van 13,21 gewen vir sy 1000 punte.
  • Lesebe Dikgale (seuns o.17) van Curro Hazeldean het die 400m hekkies item in 50.69s afgelê en ook 1000 punte verdien. Hy en Ndou is gesamentlik as senior seuns baanatlete van die dag aangewys.
  • Alica Khunou (meisies o.19) van Hoërskool Menlopark se wen-afstand van 53,45m in die diskus item was 1000 punte vir haar werd.
  • Ashley Erasmus (POD) was kort op die hakke van Khunou in die diskus en sy het ook 1000 punte verdien met haar gooi van 53.10. Sy het boonop ’n verdere 1000 puunte verdien deur die gewigstoot item met ’n afstand van 16.74m te wen. Erasmus en Khunou is gesamentlik as veldatleet van die dag aangewys.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Back to top button