Local sportSchool sportSport

Hoërskool Menlopark maak atletiekgeskiedenis met nuwe sintetiese baan

Die Hoërskool Menlopark het die afgelope naweek atletiek geskiedenis gemaak, toe hulle die eerste skool in Pretoria (en slegs die vierde landswyd) geword het om hul splinternuwe sintetiese aletiekbaan amptelik te kon open.

Die Hoërskool Menlopark is al dekades lank sinoniem met prestasie op die atletiekbaan en kan hulself met reg beskou as waarskynlik Suid-Afrika se top atletiekskool.

Om hierdie rede was dit dalk gepas dat Menlopark die afgelope naweek atletiek-geskiedenis kon maak deur die eerste skool in Pretoria en slegs die vierde skool in die land te word wat hul eie, splinternuwe, atletiekbaan met sintetiese oppervlak in gebruik kon neem.

Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit (reeds sedert die vroeë 1980’s) was die eerste skool in die land wat oor ’n sintetiese atletiekbaan beskik het, terwyl Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp ’n paar jaar gelede die tweede geword het. Queen’s College Boys‘ High School in Queenstown, Oos-Kaap, het verlede jaar hul nuwe sintetiese baan in gebruik geneem.

Hoewel dié mooi nuwe diepblou baan van Menlopark, wat einde verlede jaar voltooi is, reeds gebruik is tydens die skool se onlangse interhuis, is die amptelike ingebruikneming gevier met ’n massa-uitnodigingsbyeenkoms waar die Parkies-atlete met tien ander skole vanuit vier verskillende provinsies kon meeding. Sowat 1800 atlete was deel van die dag se aksie.

Uit Gauteng het top skole soos Pretoria Boys High School en Pretoria Girls High School, Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg, Hoërskool Monument uit Krugersdorp, Hoërskool Vorentoe uit Johannesburg en Prestige College uit Hammanskraal in die aksie gedeel. Dan was daar HTS Middelburg uit Mpumalanga, Hoërskool Ellisras uit Limpopo, asook Hoërskool Wesvalia (Klerksdorp) en Potchefstroom Volkskool, wat albei uit Noordwes gereis het vir die geleentheid.

Die klem van die byeenkoms het geval het op die feestelike amptelike ingebruiknemeing van die nuwe sintetiese baan, maar daar was tog ook verskeie puik prestasies. Altesaam tien rekords het op die baan en in veld-items gespat. Heel gepas was dit Menlo se eie internasionale ster, Alicia Khunou, wat die top prestasie van die byeenkoms gelewer het toe sy die diskus item vir meisies o.19 met ’n nuwe rekord afstand van 53.82m gewen het. Dit was ook die enigste vertoning van die dag wat volpunte (1000) op Atletiek Suid-Afrika se High Schools Athletics Performance Evaluation (APE) tabel verdien het.  Sy het die gewigstoot item ook met ’n afstand van 14,19m (950 ATP punte) gewen.

Nog atlete wat die oog gevang het met skitterende prestasies vir só vroeg in die siesoen, was Joshau Gerber van Menlopark met sy rekord afstand van 63.00m (995 ATP punte) in die diskus vir seuns o.15; Christé Loedolff van Menlopark met haar 46,09m (984 ATP punte) in die diskus vir meisies o.17; Taelyn Smith van Menlopark se prag-hoogte van 2,05m (980 ATP punte) in die hoogspring vir seuns o.16; Janelle Kirkpatrick van Menlopark se 13,38s (962 ATP punte) in die 90m hekkies vir meisies o.14. Sy het ook die verspring met ’n afstand van 5,53m (920 ATP punte) gewen; Werner Bezuidenhout van Menlopark se 13,81s (949 ATP punte) in die 110m hekkies vir seuns o.19; Rachel Schwulst van Menlopark se rekordtyd van 2;11,93 (952 APE punte) in die 800m vir meisies o.16; Tumi Ramokgopa (Prestige College) se wentyd van 24,74s (923 APE punte) in die 200m vir meisies o.17. Sy het ook die 400m in ’n tyd van 56,77s (912 ATP punte) gewen; Jaco van Dyk van Menlopark se 17,09m (936 ATP punte) in die gewigstoot vir seuns o.14; Merlé Janse van Rensburg van Menlopark se 41,15m (928 ATP punte) in die diskus vir meisies o.16 en Nicolas Nieman van Menlopark se rekord afstand van 7,03m (910 ATP punte) in die verspring vir seuns o.17.

Nog ’n hoogtepunt op die baan was twee wedlope oor 150m deur senior atlete wat spesiaal genooi is vir die geleentheid. Sommige van Suid-Afrika se heel beste opkomende naellopers het hieraan deelgeneem.  Chane Vermeulen van die Rand Atletiekklub het die vroue-wedloop in 17,30s gewen, terwyl Slayden van Staden van Tuks die wenner was in die mans wedloop met ’n tyd van 15,15s.

Tydens ’n amptelike seremonie vir die opening van die baan het die 86-jarige voormalige Olimpiese atleet en wêreldrekord houer in die 400m (440 tree) hekkies, Gert Potgieter, en sy vrou Renate, deelgeneem aan ’n simboliese fakkel-oorhandiging. Die fakkel wat gebruik is dateer uit ’n amptelike seremonie voor die 2004 Olimpiese Spele in Athene en die Potgieters, wie se kinders en kleinkinders almal oud Parkies is, het dit vir hierdie spesiale geleentheid geskenk. Die fakkel is deur hulle aan dr. Eon Gerber, seun van FA Gerber (Hoof van Menlopark vanaf 1973 tot 1980) oorhandig, waarna hy dit weer aangegee het vir Dieter Böhmer (adjunkhoof van Menlopark vanaf 1985 tot 1988). Die volgende ontvanger van die fakkel was dr. Carel van der Merwe, hoof van Menlopark vanaf 1984 tot 2012 en hy het dit gepas aan sy opvolger, Schalk Reynders (hoof vanaf 2013 tot 2023) oorhandig. Nico Erasmus, waarnemende hoof van die skool het dit van Reynders ontvang, waarna dit oorhandig is aan die huidige hoofleiers van die skool, Viljee Smit en Keira de Jager.

Hulle het die fakkel oor die nuwe baan se wenstreep gedra en ’n simboliese lint gebreek, wat vasgehou is deur twee top atlete van die skool, Alicia Khunou en Werner Bezuidenhout.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button