Local sportSchool sportSport

Skoolseun van Menlopark verbeter krieket wêreldrekord met kolf

‘n Plaaslike skoolseun het die afgelope naweek wêreldwyd aandag getrek toe hy as kolwer ‘n nuwe wêreldrekord aangeteken het in die o.19 krieket wêreldbekertoerooi, wa tans in Suid-Afrika afgehandel word.

Steve Stolk, ‘n matriekseun van die Hoërskool Menlopark, sal eers op 10 Februarie vanjaar 18 jaar oud word, maar dié talentvolle jong krieketspeler het reeds die wêreld aan sy voete.

Stolk het verlede week krieket liefhebbers wêreldwyd laat regop sit en die kollig behoorlik op homself laat val toe hy tydens Suid-Afrika se wedstryd teen Skotland in die o.19 krieket wêreldbekertoerooi ’n nuwe rekord opgestel het vir die vinnigste 50-tal ooit in dié toernooi.

Rishabh Pant, deesdae ’n superster in Indië, was die vorige rekordhouer. Hy het tydens die o.19 krieket wêreldbekertoerooi van 2016 in Bangladesh in ’n wedstryd teen Nepal 50 lopies geslaan van die eerste 18 balle wat hy getrotseer het.

Die afgelope naweek het Suid-Afrika se o.19 span op Senwespark in Potchefstroom teen Skotland in die huidige o.19 krieket wêreldbekertoerooi te staan gekom. Skotland het eerste gekolf en 269 lopies aangeteken, wat beteken het dat die Suid-Afrikaners 270 in hul 50 boulbeurte moes jaag.

Stolk en sy spanmaats sou dus teen ’n redelik stewige pas van 5.4 lopies per boulbeurt (amper ’n lopie per bal) moes kolf. Dis toe dat Stolk lostrek en met die eerste 13 balle wat hy ontvang sy 50-tal haal om ’n nuwe toernooirekord op te stel.

Dit was veral die arme Qasim Khan, draaibalbouler van Skotland, wat behoorlik deurgeloop het onder Stolk se flitsende kolf. In die derde boulbeurt het Stolk ses grenshoue (vyf sesse en een vier) van Khan se boulwerk gemoker.

Dié krieketster van Menlopark het uiteindelik 86 lopies van net 37 balle geslaan om Suid-Afrika te help om die wenlopies in slegs 37 boulbeurte te behaal. Sy beurt het agt sesse en sewe viere ingesluit, terwyl hy ’n byna ongelooflike treftempo van 232,4 gehandhaaf het.

Die jong SA-span het die wedstryd met sewe paaltjies gewen.

Hoewel hy wêreldwyd opslae gemaak het met sy prestasie van Saterdagmiddag, is Stolk geruime tyd reeds op die radarskerm van diegene van krieket noukeurig volg. Hy het in September verlede jaar ook die nuus gehaal toe hy as plaaslike sogenaamde “rookie” deur die Pretoria Capitals op die veiling van die SA20 toernooi opgeraap is.

Glad nie sleg vir ’n skoolseun wat oor twee weke eers 18 word nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button