Local sportSchool sportSport

Vier top skole-atletiekspanne pak mekaar by Oos-Moot

Twee van Pretoria se A-bond skole, ’n spogskool uit Johannesburg en ’n opkomende atletiekkrag in die Ooste van die stad was die afgelope naweek deel van die Vierhoekige Skole Atletiekbyeenkoms wat in die Moot plaasgevind het.

Die Hoërskool Oos-Moot het die afgelope naweek die huidige atletiekseisoen in alle erns begin toe hulle gasheer gespeel het vir ten minste drie sterk teenstanders tydens ’n Vierhoekige Uitnodigings-byeenkoms.

Die Oosies se atlete het die baan gedeel met teenstanders van Hoërskool Garsfontein, Helpmekaar Kollege van Johannesburg en Curro Hazelden.

Hoewel die byeenkoms se naam aandui dat slegs vier skole betrokke was, het ’n kleinerige span van die Randpark High School in Randburg, Johannesburg, ook deelgeneem.

Die byeenkoms was veral belangrik vir die atletiekspanne van Oos-Moot en Garsfontein ten opsigte van evaluasie van hul voorbereiding, aangesien albei oor enkele weke aan die Pretoria A-bond byeenkoms sal deelneem.

Curro Hazelden kan beslis ook uitsien na ’n groot seisoen en hulle behoort later in Februarie ’n kandidaat te wees om die Pretoria C-bond te wen. Deelname teen top skole soos hierdie kon dus ook help om hul eie situasie te evalueer.

Daar het die afgelope maand heelwat reën geval in die Moot-area, wat die grasbaan van Oos-Moot dus redelik swaar gemaak het. Ten spyte van hierdie tegniese faktore was daar egter wel ’n paar puik prestasies tydens die byeenkoms.

Die 100m vir seuns o.16 het ’n hele paar kwaliteit vertonings opgelewer en dit was veral die stryd tussen Leandro Delort van Oos- Moot (10,60s) en Drew Baron van Garsfontein (10,71) wat aandag getrek het.

Wayanda Balaza van Curro Hazeldean se tyd van 10,20s, waarmee hy die 100m vir seuns o.19 gewen het, het ook die oog gevang. Balaza was die enigste atleet wat die 200m vir seuns o.19 in ’n tyd vinniger as 22s kon voltooi. Hy het dit in 21,89s gedoen.

In hierdie wedloop kon Oos-Moot egter moed skep vir hul senior aflosspan in latere byeenkomste, aangesien Tapiwas Rwafa ( tweede in 10,77s) en Wade Williams (derde in 10,88s) albei met Garsfontein en Helpmekaar se naellopers afgereken het.

Matthew Burnett van Oos-Moot se skoolloopbaan staan einde se kant toe, maar hy het weer gewys dat hy vanjaar vir oulaas sy stem dik gan maak in die ligblou frokkie van sy skool. Hy het die 3000m (0.19) in ’n baie goeie tyd van 09:15,94 gewen.

Die hekkies-items het vir die byeenkoms se hoogtepunte op die baan gesorg. In hierdie afdeling was die tweestryd tussen Helpmekaar se Stiaan Myburg (13,60s) en Garsfontein se Zanrich Botha (13,61s) in die 110m hekkies vir seuns o.16 uitstaande.

Dit was egter die meisies o.14 wat in die 90m hekkies wedloop vir die beste prestasie van die dag gesorg het. Mokgadi Maake van Curro Hazeldean (13,16s), Miré Rautenbach (Helpmekaar, 13.64s) en Juané Botes (Helpmekaar, 13.76s) het goud, silwer en brons gewen, terwyl al drie meer as 900 punte op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel verdien het.

Curro Hazeldean se Tisetso Mosimba (7,21m) in die verspring vir seuns o.17 en Garsfontein en Jaden Stewart (55,03m) in die diskus vir seuns o.15 was die twee beste veldatlete tydens die byeenkoms.

Ongelukkig het reën en swaar weer die byeenkoms kortgeknip en die aflos-items kon nie plaasvind nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button