Naas Botha terug in skole-rugby – én terug in Pretoria – ná Hoërskool Eldoraigne hom werf

Die Springbok- en Bloubul legende, Naas Botha, en sy gesin gaan hulle binnekort in Centurion vestig wanneer hulle uit Bloemfontein terugkeer sodat hy op sy nuwe uitdaging as Direkteur van Rugby by Hoërskool Eldoraigne kan fokus.

Die Hoërskool Eldoraigne het die oë laat rek met hul groot vangs, toe daar aangekondig is dat die legendariese Springbok- en Bloubul losskakel, Naas Botha, aangestel is om oor te neem as hul Direkteur van Rugby.

Botha het aan Rekord bevestig dat hy ’n kontrak van drie jaar met die skool onderhandel het.

“Ons sal maar moet sien hoe dit gaan. As ek gelukkig is en die skool se bestuur en ouers is gelukkig, mag ek dalk langer betrokke bly,” het hy gesê.

Naas Botha (regs) en die Junior Springbok losskakel, Tinus de Beer. Laasgenoemde het in 2013 die SA Skolespan gehaal terwyl hy deur Botha by Hoërskool Waterkloof afgerig is.
Foto: Skermgreep

Volgens Botha sal sy eerste prioriteit wees om ’n rugby-omgewing by die skool te skep wat ouer-en-kind vriendelik is. Daar sal werkbare strukture gevestig moet word wat langtermyn sukses kan waarborg.

“Daarna is dit ook vir my belangrik om na die groter prentjie te kyk. Vir my beteken dít uiteindelik die Springbokspan. Ek dink met ’n pos soos hierdie het ’n mens ook ’n verantwoordelikheid om so veel as moontlik van die beste talent beskikbaar voor te berei om uiteindelik al die pad tot op internasionale vlak te presteer,” het Botha sy visie uitgespel.

In hierdie verband het Botha gesê hy glo dat daar deur alle skole onder die vaandel van die Blou Bulle as kolletiewe groep saamgewerk kan word om te sorg dat talent nie verlore gaan nie.

Skolerugby is nie vreemd vir Naas Botha nie Hy was aan die begin van die vorige dekade betrokke by Hoërskool Waterkloof.
Foto: Hoërskool Waterkloof

“Dit help nie ’n hoogs talentvolle speler beland by ’n sekere skool se derdespan, waar hy nooit raakgesien gaan word, net omdat hy dalk te vinnig gekies het oor watter skool hy wil bywoon nie,” het Botha sy kommer oor verlore talent uitgespel.

Botha het bevestig dat hy weet dat Centurion oor ’n paar puik laerskole beskik, maar dat baie van die rugbytalent uit dié skole uiteindelik deur groot skole in ander gebiede gewerf word. Volgens hom bevestig hierdie tendens die feit dat sy eerste taak sal wees om Hoërskool Eldoraigne se rugby weer op só ‘n standaard te kry dat dit een van die voedingsbronne vir die Blou Bulle se provinsiale spanne op skolevlak kan word.

Eldoraigne het vanjaar in die Noordvaal Bowl-afdeling gekompeteer en baie gemiddeld gepresteer. Dit is die vierde liga in Afdeling 1 van die Noordvaal kompetisie, met die Beker-afdeling; Plaat-afdeling en Skild-afdeling wat bo hulle geplaas is. Daar is dus ’n lang pad om te stap as Eldoraigne daarna streef om saam met die groot honde van die Beker-afdeling, waar Garsfontein vanjaar as kampioen gekroon is, te blaf.

Daar het die afgelope 24 uur groot opgewondenheid geheers op sosiale media, nadat dit bekend geword het dat Naas Botha terugkeer na Pretoria om by skolerugby betrokke te raak.
Foto: Facebook

Hoewel Botha al op verskeie vlakke by afrigting en die bestuur van rugbyspanne betrokke was, is skolerugby nie vreemd vir hom nie. Hy was aan die begin van die vorige dekade vir ’n paar seisoene betrokke by Hoërskool Waterkloof se rugby. Dis algemeen bekend dat Tinus de Beer, die gewese losskakel van die Blou Bulle, Griekwas en Pumas – wat in die komende seisoen vir Cardiff in Wallis gaan uitdraf – basies deur Botha spreekwoordelik “met die hand grootgemaak is” toe hy as skoolseun vir Waterkloof uitgedraf het.

Die Botha-gesin het sowat vyf jaar gelede Pretoria vir Bloemfontein verruil weens een van Naas se dogters se studies in dié stad. Hy het egter bevestig dat hulle beplan om terug te keer na Pretoria wanneer hy sy nuwe uitdaging by Eldoraigne aanpak.

Oor waar hy hom gaan vestig met sy terugkeer was sy antwoord duidelik.

“Ek is nie lus vir verkeer en sulke dinge nie, so ons sal waarskynlik kyk na ’n plek so na as moontlik aan die skool,” het hy gesê.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version