Local sportSchool sportSport

Garsies spreek swembad leemte aan met nuwe akademie-vennootskap

Die Hoërskool Garsfontein het hul gebrek aan ’n eie swembad, wat weens logistieke probleme nie kan realiseer nie, oorkom deur in samewerking met die Royal Fins Aquatics swimming club ’n swem akademie op die been te bring, waar hul swemmers afgerig sal word deur die beste moontlike afrigters in die plaaslike swembedryf.

Die Hoërskool Garsfontein is landwyd bekend as ’n skool wat op alle vlakke en gebiede presteer.

Een van die merkwaardigste sportprestasies van hierdie skool is dat hul swemspan dit kon regkry om reeds vir ’n dekade lank in die Pretoria A-bond gala te kompeteer, hoewel sover bekend Garsfontein die enigste skool in hierdie liga is wat nié oor hul eie swembad beskik nie.

Die skool het boonop jaarliks swemmers opgelewer wat aan die SA kampioenskappe deelneem.

Daar is slegs een rede waarom Hoërskool Garsfontein nog nie oor hul eie swembad beskik, soos die meeste van hul teenstanders nie. Hierdie rede is logisties van aard – die skool het eenvoudig nie genoeg ruimte op hul terrein om ’n swembad aan te bou nie.

Garsies se sportbestuur het egter ’n plan gemaak om die probleem aan te spreek. Daar is onlangs ’n ooreenkoms aangegaan waarvolgens die skool met Swem SA en die Royal Fins Aquatics swimming club sal saamwerk om ’n Hoëprestasie Akademie vir Swemmers op die been te bring.

Hierdie sal as vlagskip projek dien, waarna ander soortgelyke akademies tot voordeel van verskeie skole op die been gebring kan word as dit sukesvol is.

Die merkwaardige jong Olimpiese Swemmer van Pretoria, Pieter Coetzé, wat self nog sy laaste maande as skoolseun beleef, het as spreker by die geleentheid opgetree, aangesien hy ook die amptelike ambassadeur van die projek is.

Die Suid-Afrikaanse Olimpiese Swemmer, die 19-jarige Pieter Coetzé, praat met leerlinge van Hoërskool Garsfontein tydens verlede week se bekendstelling van die Hoëprestasie Akademie vir Swemmers wat die skool saam met Royal Fins Aquatics swimming club gaan begin.
Foto: Koos Venter

In sy kort, maar inspirerende toespraak het Coetzé aan die leerlinge van Garsfontein die raad gegee om nooit hul drome sommer so te laat vaar die. Hy het egter ook daarop gewys dat dit uiterste dissipline en baie selfbeheersing verg om ’n internasionale swemmer te wees.

Coetzé word beskou as Suid-Afrika se blinkste jong swemmer en hy is beslis ’n medalje-kandidaat by volgende jaar se Olimpiese Spele.

Die Royal Fins Aquatics swimming club is geleë ’n klipgooi van die Hoërskool Garsfontein se terrein af. Dit beteken dat dit maklik sal wees om swemmers daar te kry waar die aksie is.

Volgens Anchei Luus, direkteur en afrigter by Royal Fins Aquatics swimming club is daar reeds leerlinge van Garsfontein wat by die akademie oefen. Sy glo dat daar egter heelwat van die skool se top swemmers is wat weens hul program sal verbeter, nie net wat hul tye betref nie, maar ook hul swemtegnieke.

Swem SA se doelwit is om binnekort sowat 20 soortgelyke swemskole regoor die land te vestig.

Luus het beklemtoon dat alle swemmers in die omgewing wat belangstel, welkom is om aan te sluit. Die swemskool beskik oor volop parkeerplek en ’n verhitte swembad, wat oefening deur die loop van die jaar makliker maak.

Volgens die president van Swem SA, Alan Fritz, sal hul uiteindelik ten minste 20 soortgelyke swemskole landwyd wil vestig.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Back to top button