Hoërskool Garsfontein is Noordvaal Cup kampioen

Die trofee van die top liga in die Noordvaal Cup – die Beker-afdeling – staan vir die eerste keer sedert 2019 weer in Pretoria, hierdie keer in die trofeekas van die Hoërskool Garsfontein.

Die Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan is, ná sewe droë jare, weer die Noordvaal Cup kampioen.

Nadat die Bere van Garsfontein die afgelope paar seisoene telkens in die pylvak van die kompetise oor een van die laaste hekkies gestruikel het, het hulle Saterdag op hul tuisveld ’n byna perfekte seisoen op ’n hoogtepunt afgesluit, deur die span van Hoërskool Dr EG Jansen van Boksburg redelik maklik met 41-22 te klop in die top liga van die Noordvaal Cup, die Beker-afdeling.

Ironies genoeg was EG Jansen ook hul teenstander toe Garsfontein in 2016 laas as die beste rugbyspan noord van die Vaalrivier gekroon is.

Voormalige spelers en kapteins, wat by die Garsies se vorige kampioenspanne in 2015 en 2016 betrokke was, het die 2023 kampioene kom ondersteun. Van links is Leon Bantjes (hoof), PJ Steenkamp (2016 kampioenspan), Abri van der Weshuizen (2023 kaptein), Jaco Bezuidenhout (2015 kampioenspan) en Johan du Plessis (hoofafrigter). Foto: Facebook
Garsfontein se hoofafrigter, Johan du Plessis (links) en hulpafrigter, oud Springbok Jaco Kriel, wys hul vreugde nadat hul span as kampioen gekroon is. Foto: Facebook

Die statistici wat fokus op skolerugby se ranglyste dui aan dat 2023 waarskynlik Garsfontein se suksesvolse seisoen tot dusver in hul geskiedenis is, aangesien hierdie span op die meeste ranglyste die seisoen sal afsluit as die land se tweedebeste. Hulle word slegs deur die magtige Grey Kollege van Bloemfontein – toevallig ook die enigste span wat Abri van der Westhuizen en sy spanmaats vanjaar kon klop – getroef.

Waar die liga-bepaling tussen Saterdag se finaliste twee weke gelede in ’n spannende stryd tot die eindfluitjie geëindig het, was daar in Saterdag se eindstryd eintlik nooit twyfel wie die beste span op die veld was nie. Die Bere het van die afskop af oorheers en slegs ’n tegniese oordeelsfout het hulle verhoed om ná ’n minuut se spel reeds voor te loop, nadat linkervleuel Cassie Prinsloo oor die doellyn was, maar nie betyds die bal kon druk nie.

Daarna was dit egter grootliks eenrigting verkeer en Garsfontein het die druk weer opgebou, totdat hul driedruk-masjien op regtervleuel, Ruan Enslin, in die hoek oor is vir die eerste drie van die dag.

Soos dit ’n kampioenspan betaam, het die Garsies in hierdie eindstryd met een van hul beste vertonings van die jaar na vore gekom. Hierdie goed gedrilde span het die foute tot die minimum beperk en die druk regdeur die wedstryd op die besoekers gehou.

Toe heelagter Jason Hugo na 15 minute een van sy kenmerkende drieë met ’n kurktrekker-lopie uit gebroke spel gaan druk, was die koeël eintlik maar deur die kerk vir die Boksburgers. Terloops, outhou maar dié naam, want selfs in ’n span propvol potensiële toekomstige sterre het Hugo regdeur die seisoen uitgestaan.

EG Jansen moes wag tot drie minute voor rustyd voor hulle die eerste keer die doellyn kon oorsteek, maar soos ’n ware kampioenspan het die Bere onmiddelik daarna geantwoord met hul vierde drie om die rustyd telling op 27-7 te staan te bring.

Vreugde is… as jou skool se eerstespan hul derde Noordvaal titel onder jou leiding wen! Garsfontein se hoof, Leon Bantjes, wys sy vreudge nadatd ie eindfluitjie Saterdag geblaas het.
Foto: SuperSport Schools

Die Oosranders het na rustyd besef hulle sal met ’n groot poging vorendag moet kom om terug te kom in die wedstryd. Na ’n verwoede aanslag kon hulle die eerste punte van die tweede helfte aanteken met ’n drie deur linkervleul, Cameron van Wyk.

Garsies se Bere het egter wéér teruggeslaan met die drie van die dag – Enslin se tweede – wat begin is deur ’n vinnige tikskoppie in sy eie kwartgebied deur skrumskakel, Zian Celliers.

Hoewel EG Jansen nooit opgegee het nie, was die taak hierna net te groot, aangesien hulle vier keer punte moes aanteken in 15 minute. Hulle het wel probeer, maar die tuisspan het telkens teruggeslaan om uiteindelik die oorwinning te beklink.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version