Local sportSchool sportSport

Oos-Moot soek weer Noordvaal glorie

Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan tree eerskomende naweek in die eindstryd van die Noordvaal Cup se Skild-reeks aan as verdedigende kampioen, maar hul teenstander gaan ’n harde neut wees om te kraak.

Die Hoërskool Oos-Moot se eerste rugbyspan het nou reeds ’n instelling geword wanneer die uitspeelrondtes van die Noordvaal Cup se Skild-afdeling jaarliks gespeel word.

Vanjaar is geen uitsondering nie, behalwe dat die Oosies eerskomende Saterdag teen Hoërskool Secunda as verdedigende kampioen op die veld gaan draf.

Oos-Moot het Hoërskool Klerksdorp verlede jaar in ’n epiese stryd geklop om die trofee te verower. Vanjaar was Klerksdorp deel van die Plaat-liga, nadat hulle gepromoveer is. Secunda het egter hierdie seisoen as die Oosies se grootste bedreiging na vore getree. Trouens, Oos-Moot het in die ligafase van die kompetisie slegs een keer verloor en dit was teen die einste Secunda.

Die eintelling van die liga-fase stryd tussen die twee skole was 45-41 in die guns van die Hoëvelders. Dit beteken dus dat enigiets moontlik is in die eindstryd, aangesien daar nie veel te kies is tussen die twee skole nie. Oos-Moot het boonop die voordeel dat verskeie van hul spelers ook verlede jaar deel was van die kampioenspan en dus ondervinding het van die druk in hierdie situasie.

Oos-Moot het die afgelope naweek op hul tuisveld in die halfeinstryd korte mette gemaak van Heidelberg Volkskool, deur hulle met 25-5 te klop.

Charl van der Sluis was oudergewoonte een van Oos-Moot se staatmakers in hul halfeindstryd teen Heidelberg Volkskool. Hy het tien punte met die skopskoen aangeteken.
Foto: Facebook/Gingersnaps Photography

Die Oosies het ’n baie suksesvolle seisoen agter die blad, waartydens hulle slegs vier keer (uit 17 wedstryde) verloor het. Hieronder tel twee nederlae – in die ligafase, sowel as die eindstryd – teen Hoërskool Noordheuwel in die NWU Prestige reeks. Ter wille van perspektief kan genoem word dat Noordheuwel natuurlik deel is van die Noordvaal Cup se Beker-liga, wat twee ligas hoër is as die Skild-liga waar Oos-Moot kompeteer.

Hulle enigste ander nederlaag, behalwe vir die stryd teen Secunda, was by die Oakdale Rugbyweek teen die Perason High School van die Oos-Kaap.

Net soos verlede jaar sal die eindstryd ’n weg-wedstryd vir Oos-Moot wees, maar hulle het reeds gewys dat hulle in staat is om hierdie soort hindernis te oorkom. Dit gaan waarskynlik ’n klassieke eindstryd wees waarin Oos-Moot se giftige agterlyn hul sterkpunt sal wees, terwyl Secunda sake met hul makro-agttal sal probeer oorheers.

– Die Oosies se o.14 span het ook deurgedring na die naweek se eindstryd in die liga, nadat hulle met Heidelberg Volkskool (13-8) afgereken het. Dié spannetjie kom Saterdg in hul eindstryd te staan teen Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button