Midstream College se rugbyspan doen dit wéér

Die Midstream College se eerste rugbyspan is die afgelope naweek vir die tweede jaar agtereenvolgens as Noordvaal Cup (Groep 2) kampioen gekroon.

Hou gerus vir Midstream College dop op die sportveld. Dié skool is besig om hulself stadig maar seker te vestig as ’n krag in verskeie sportsoorte en dit sal niemand verbaas as hul rugbyspanne binnekort te sterk raak vir die Groep 2-liga in die Noordvaal Cup skolereeks waar hulle tans deelneem nie.

Dít kan binnekort promosie na die Noordvaal Cup Bowl-afdeling beteken, waar Midstream dan in een van die top vier ligas sal deelneem.

Midstream se atletiekspan het hulself vanjaar skynbaar in Pretoria se A-bond gevestig, toe hulle daarin kon slaag om in die sesde plek te eindig in die spankompetisie, wat beteken dat hulle deel van dié geselskap sal bly en nie weer gerelugeer sal word soos die vorige keer toe hulle vir net een seisoen tussen die top skole kon deelneem nie.

Nou lyk dit of Midstream se rugbyspanne ook stadig maar seker besig is om hulself as ’n krag in die Noordvaal streek te vestig.

Die skool se trots, sy eerste rugbyspan, het die afgelope naweek daarin geslaag om vir ’n tweede jaar agtereenvolgens as kampioen in die Groep-2 liga van die Noordvaal Cup Skolereeks gekroon te word.

Verlede jaar, toe Midstream geskiedenis gemaak het deur dié titel die eerste keer ooit te wen, het hulle dit op hul tuisveld gedoen. Vanjaar het Midstream egter hul karakter gewys deur ook weg van die huis goed genoeg te wees om die silwerware te wen.

Midstream se eerstes moes Rustenburg toe reis, waar hulle teen die Bergsig Akademie te staan gekom het in die einstryd.

Na ’n klipharde en spannende stryd het Midstream met 20-15 gewen en kon dié span en hul ondersteuners vir ’n tweede seisoen agtereenvolgens feesvier.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version