Local sportSchool sportSport

Garsies, Klofies beide deur na Noordvaal Cup halfeind

Twee plaaslike skole uit die ooste van Pretoria het met puik oorwinnings deurgedring na eerskomende naweek se halfeindstryde van die Beker-afdeling (top liga) van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi.

Pretoria het twee kandidate in die uitspeelfase van die Noordvaal Cup se top liga, die Beker-afdeling, wat vanjaar ’n nuwe kampioen gaan kroon.

Hoërskool Garsfontein, wat waarskynlik oor sy beste eerstespan beskik sedert die glorieryke span van die 2015 en 2016 seisoene, het die ligafase van die Noordvaal Cup onoorwonne afgesluit, terwyl Hoërskool Waterkloof ’n spannende stryd op hul tuisveld teen die verdedigende kampioen, Hoërskool Momument van Krugersdorp, gewen het om deur te dring na die halfeindstryd.

– Nie baie kenners van skolerugby het Waterkloof ’n kans gegee in hul wedstryd teen Monnas nie.  Die Wesranders was immers die verdedigende kampioen en het vanjaar gespog met nege spelers in die Lions se Craven- en Akademieweek spanne.

Maar, soos al voorheen in Rekord genoem is, spanne wat deur Cobus van Dyk afgerig word, gaan nie maklik lê nie en skrik nie sommer vir groot name nie. Met baie durf en deursettingsvermoë het die span van Waterkloof ’n agterstand ná ’n sukkelende eerste helfte uitgewis om Monnas uiteindelik met 26-22 te skok.

Klofies het sake egter met tye vir hulself moeilik gemaak. Trouens, hulle het so byna hierdie wedstryd in die eerste helfte weggesmyt. Terwyl hulle daardie eerste skof oorheers het en Monnas vir lang tye in hul eie gebied vasgepen het, kon Waterkloof net nie daarin slaag om hul gebiedsvoordeel én meerderheid balbesit in punte te omskep nie.

Die tuisspan was in die eerste helfte ten minste drie keer oor die doellyn, maar elke keer het die skeidsregter beslis dat die bal opgehou is. Oor die derde keer, toe senter Riwan van Aswegen oorgebeur het in die hoek, sal daar nog lank gesels word. Gaan bestudeer gerus die video opname by supersportschools.com …

Daarenteen het Monument letterlik net twee kanse in die eerste helfte gekry en elke keer gaan druk.

In die tweede helfte het die Klofies se senuwees skynbaar bedaar en hul fokus was baie beter. Ná ’n glips vroeg in dié helfte, waar ’n uitgewerkte beweging skeefgeloop en op ’n langafstand drie vir Monnas uitgeloop het, het die gety stadig maar seker begin draai.

Skitterspel deur Waterkloof se twee senters, Reuven Ferreira en Van Aswegen het ’n groot rol gespeel in die ommekeer en ook opgemaak vir ’n paar glipse op die verdediging in die middelveld.

Eers het Klofies se puik flank, Jean Jooste, vir Ferreira weggestuur met ’n skitterende handrug aangee om onder die plae te druk.

Toe volg waarskynlik die drie van die dag. Klofies se regtervleuel, Waldemar Griesel, het ’n kwartlyn inskop opgevolg en uit die lug gevang. Na ’n paar tree langs die kantlyn af het hy die wakker flank, Happy Makate, aan sy binnekant gevind. Makate het op sy beurt vir Van Aswegen wegestuur om welverdiend sy tweede drie van die dag (eerste wat toegeken is) te druk.

Ferreira se tweede drie het gekom van ’n hoë hangskop deur losskakel Franco Cronjé, wat deur die sterk binnesenter opgevolg is. Monnas het die skop verkeerd gelees en Ferreira kon dit oppik en deurnael vir die wendrie.

– In Boksburg moes Garsfontein se Bere sake teen Hoërskool Dr. EG Jansen uitveg om te bepaal wie bo aan die punteleer sou eindig.

Dit was uiteindelik ’n taai en opwindende stryd, maar die Garsies het veral danksy die akkurate skopwerk van hul losskakel, Nicallen Gabrielsen, die knoop deurgehaak met ’n oorwinning van 42-36.

Garsfontein speel nou eerskomende Saterdag op hul tuisveld in die halfeindstryd teen Helpmekaar Kollege, wat vierde op die punteleer geëindig het.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button