Hoërskool Menlopark vier hul 60ste verjaardag met 21ste oorwinning by Pretoria A-bond atletiek interhoër

Slegs die kookwater atletiek kon die karnaval-atmosfeer oortref wat geheers het by Vrydag se Pretoria A-bond atletiek interhoër byeenkoms in die Pilditch stadion, wat in hul 60ste feesjaar deur Hoërskool Menlopark aangebied én gewen is.

In die dae toe die All Blacks op hul allerbeste was, is daar gereeld die volgende grappie vertel: Rugby is ’n spel waar daar 30 spelers vir 80 minute lank op die veld agter ’n bal aanhardloop… en as die eindfluitjie blaas, wen die All Blacks!

Met die tong in die kies kan ’n mens dié grappie dalk ook toepas op die Pretoria A-bond atletiek interhoër: Top skole-atletiek in Pretoria is ’n geleentheid waar nege skole jaarliks teen mekaar deelneem… en as die laaste aflos-item afgehandel is, wen Hoërskool Menlopark die span-kompetisie.

Nádat Vrydag se Pretoria A-bond interhoër afgehandel is, kan Menlopark wéér spog dat hulle die kampioen in die span-kompetisie is, ’n prestasie wat hulle nou reeds vir die 21ste agtereenvolgende jaar kon herhaal.

Voordat die Afrikaans Hoër Seunskool-ondersteuners egter té opgewonde raak, hier is die goeie nuus vir hulle –  Affies (1455 punte) het die afdeling vir seuns gewen. Trouens, hulle het hul grootste oorwinning in byna ’n dekade oor die seuns van Menlopark (1230) behaal toe hulle hul aartsvyand met 225 punte geklop het in dié afdeling.

Daarteenoor het Menlopark se meisies (1397,5 punte) ’n driekuns behaal teenoor Afrikaans Hoër Meisieskool (AHMP) wat met 1342 punte in die tweede plek in dié afdeling was. Soos genoem was dit die meisies van Menlo se derde agtereenvolgende oorwinning oor AHMP, wat voorheen gereeld dié afdeling gewen het.

In die spankompetisie was daar ’n paar verrassings. Dinge lyk nie goed vir Prestige College van Hammanskraal nie. Nadat dié skool tot so onlangs as 2020 nog derde in die spankompetisie geëindig het, lyk dit of hulle stoom begin opraak. Prestige College (1291 punte) het in die spankompetisie sewende (laaste) geëndig, ’n volle 446 punte ná Midstream Kollege (1737 punte).

Hierdie uitslag beteken dat Prestige College na baie jare as een van die presteerders in die Pretoria A-bond nou gerelegeer sal word en hulle sal volgende jaar in die B-bond moet kompeteer. Hoërskool Oos-Moot, wat Donderdag se B-bond byeenkoms gewen het, sal in 2024 weer by die A-bond aansluit.

Die volledige uitslag in die spankompetisie was: Hoërskool Menlopark (2627.5),  Hoërskool Waterkloof (2281.5), Hoërskool Zwartkop (2205), Hoërskool Montana (1936), Hoërskool Garsfontein (1870), Midstraem College (1737) en Prestige College (1291).

Die byeenkoms is in snikhede weer op die Pilditch baan in Pretoria-Wes op skitterende wyse deur Hoërskool Menlopark aangebied. Die nege skole was in groot getalle op die paviljoen en op die graswalle rondom die stadion verteenwoordig, wat hierdie byeenkoms ’n absolute belewenis gemaak het om te aanskou. Ná twee maer jare van Covid regulasies kon Pretoria se spog-atletiekskole hulself weer ten volle uitleef op die baan, maar ook as toeskpouers wat deel was van ’n kleurvolle sportfees.

Atletiek-entoesiaste kon hul verlustig aan skitterende aksie op die baan, soos ’n mens aan hierdie byeenkoms gewoond geraak het.  Altesaam 25 byeenkomsrekords is deur die loop van die dag verbeter.

Die kwaliteit van die atletiek by hierdie byeekoms word verder onderstreep deur die feit dat daar in dertien items atlete was wat daarin kon slaag om prestasies van 950-1000 punte op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel te verdien. Dít word beskou as wêreldklas prestasies.

In drie verskillende items het atlete volpunte 1000 op die APE tabel behaal. Hulle is Timeke Coetzee (AHMP), wat die verspring vir meisies o.17 met ’n nuwe rekord-afstand van 6,52m gewen het; Hencu Lamberts (Affies), wat die gewigstoot vir seuns o.17 met ’n afstand van 19.83m gewen het en Alicia Khunou, met haar nuwe rekord afstand van 48,63 in die diskus item vir meisies o.17.

Onhou gerus Timeke Coetzee se naam, want van dié jong dame gaan ons nog baie hoor. Sy het nie minder nie as drie wêreldklas prestasies tydens die byeenkoms behaal. Terwyl sy volpunte in die verspring verdien het, het sy ook die driesprong (meisies o.17) met ’n nuwe rekord afstand van 12,43m (978 APE punte) gewen, terwyl haar silwer medalje in die 200m verdien is met ’n tyd van 24,22 (960 APE punte). Colene Scheepers van Menlopark (24,09 s en 971 APE punte) het haar in die 200m geklop in ’n nuwe rekord tyd.

Coetzee se wen-afstand by Vrydag se interhoër is slegs 41cm (bietjie langer as ’n skool-liniaal) weg van Karin Mey se senior nasionale rekord van 6,93m. Is dit dus onrealisties om visioene te sien van die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat dalk binnekort verder as 7m gaan spring?

Hencu Lamberts, wat ook silwer gewen het in die diskus (54.15m en 907 APE punte) is as senior victor ludorum aangewys.

Die senior victrix ludorum was Alicia Khunou, wat haar volpunte in die diskus opgevolg het met ’n nuwe rekord poging van 16,36m (980 APE punte) in die gewigstoot vir meisies o.17.

Megan Nieman van Menlopark, wat die 90m hekkies vir meisies o.14 in ’n nuwe rekordtyd van 13,01s (83 APE punte) gewen het en ook die goud in die 200m gevat het met haar tyd van 25,48s (908 APE punte), is aangewys as junior victrix ludorum.

Nog ’n Parkie, Chris Swanepoel van Menlo (seuns o.15), wat die diskus met ’n rekord afstand van 60,34m (962 APE punte) gewen het, terwyl hy die brons medalje verdien het in die gewigstoot, met sy afstand van 15,33m (853 APE punte), is aangewys as junior victor ludorum.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version