Wenner van Lucas Strachan skild reeds bepaal in Carltonliga

Weens die uitslae in die afgelope naweek se Carltonbeker wedstryde is die wenner van die Lucas Strachan skild vir 2022 reeds bepaal met nog een reeks ligabepalings voor die einde van die eerste rondte in die toernooi.

Die wenner van die Lucas Strachan Skild vir 2022 is reeds bepaal, hoewel daar nog een naweek se ligawedstryde oor is voor die eerste rondte van die World Sports Betting Carltonbeker liga eerskomende naweek voltooi word.

ABE Midas Naka Bulle sal dié gesogte skild vanjaar in hul vertoonkans kan uitstal, al verloor hulle ook eerskomende Saterdag teen Centurion in hul laaste wedstryd van die eerste rondte van die toernooi.

Centurion se nederlaag teen die Northam Rhinos die afgelope naweek het dié klub van die kans ontneem om in aanmerking te kom vir die Lucas Strachan Skild. Om sake vir die manne uit die suide van die stad nog mistroostiger te maak, het hulle boonop hul tweede plek op die punteleer aan Harlequins afgestaan, nadat die Blokkiestruie volpunte gekry het in hul wedstryd teen die Grizzlies van Tuine.

Die waagstuk om Rustenburg Impala weer toe te laat om aan die World Sports Betting Carltonbeker toernooi deel te neem, is ook besig om te boemerang, nadat dié klub die afgelope naweek nie hul verpligting teen ABE Midas Naka Bulle kon nakom nie. Dit het beteken dat die manne van die Moot outomaties volpunte op die punteleer gekry het, aangesien die wedstryd as ’n 40-0 oorwinning vir hulle aangeteken word.

– Centurion se vertoning teen die Northam Rhinos was ’n groot teleurstelling vir hul ondersteuners, onder wie baie nog gehoop het om dalk vanjaar in hul halfeeu-feesjaar die Lucas Strachan Skild in te palm.

Hierdie droom het egter Saterdag op Centurion se tuisveld gesneuwel, toe die Notham Rhinos hulle met 29-12 geklop het.

Percy Williams was op skrumskakel weer een van die Northam Rhinos s uitblinkers.

Die tuisspan het die wedstryd reeds in die eerste helfte verloor. Ná ’n goeie begin het hulle slegs vier minute nodig gehad voor linkervleuel Curtley Brinkhuis sy man kon klop om ’n puik drie vanaf ’n vaste fasset (skrum) te druk.

Ongelukkig was dit waar Centurion se goeie spel in daardie helfte geëindig het. Halfpad deur die eerste helfte het die Bosvelders losgetrek met ’n blitzkrieg van drie drieë in ses minute, wat hulle in staat gestel het om teen rustyd met 17-5 voor te loop.

Twee van hierdie drieë wat vanaf lynstaan-dryfbewegings, terwyl die derde bloot die uitbuiting van swak verdediging was.

Centurion het hard probeer, maar kon eenvoudig nie momentum bou nie. Ongedwonge foute en swak dissipline het hulle verhoed om hul normale spelpatroon af te dwing, terwyl Northam hul oorheersing voorlangs gebruik het om vorentoe te speel.

Daar wag harde werk vir Reynhardt Schutte en sy spanmaats as hulle steeds die droom van silwerware in hul 50ste bestaansjaar wil verwesenlik. Dis egter nog nie te laat nie en die span beskik oor baie talent. Hulle moet net volgens hul potensiaal speel om terug te bons.

– Harlequins se goeie seisoen duur voort en dié span uit Groenkloof het Saterdg hul vyfde oorwinning in vanjaar se World Sports Betting Carltonbeker toernooi behaal, toe hulle die Grizzlies van Tuine  met 24-5 geklop het.

Quins het volpunte gekry deur vier drieë te druk, terwyl die Grizzlies een van hul minder goeie dae beleef het met ’n enkele drie om vir hul moeite te wys.

Die telling mag egter misleidend wees, want Harlequins moes hard werk vir hierdie oorwinning. Danksy hul baie goeie verdediging, is die manne van die Weste verhoed om meer punte aan te teken.

Oudergewoonte was die Grizzlies egter baie gevaarlik op die aanval. Dié span wag nog vir hul deurbraak, maar as beserings hulle nie te veel pla nie, sal dié deurbraak waarskynlik binnekort kom.

– Die Pretoria Rugbyklub sukkel ook nog om behoorlik vastrapplek in hierdie liga te kry en ná hul nederlaag teen Tuks die afgelope Saterdag is die ander span uit Groenkloof steeds segeloos.

Tuks het die wedstryd met 73-29 gewen, nadat hulle elf drieë ingeryg het.

Hoewel die studente oudergewoonte puik hardlooprugby gespeel het, was hul verdediging weer verdag, toe hulle die manne van Pretoria toegelaat het om self vier keer te druk vir ’n baie welkome bonuspunt.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version