LettersOpinion

Die Kaap is nie die enigste met waterprobleme

Dit is egter nie net die ‘wonderlike Kaap’ wat deur watertekorte getref is nie.

Ek staan verstom vir die leser Verras wat so lekkerkry in die brief So het die wiel toe gedraai, (Rekord Pretoria Moot, 16 Februarie).

Ek is ’n gebore Kapenaar maar woon die afgelope 32 jaar in Pretoria. So drie jaar terug het ek heelwat tyd in Parow deurgebring ten tye van my ma se siekbed en my gewaarwording was dat dinge in die Kaap werk. Selfs die lastige ‘load-shedding’ was nie ’n probleem nie, want die munisipaliteit het voortdurend gekommunikeer, en as die woonbuurt se beurt vir 10:00 tot 12:00 geskeduleer was, was die krag vir seker teen 12:05 weer aan.

Ongelukkig kan reënval nie bestuur word nie en, of die infrastruktuur nou oud of splinternuut is en onderhou word, as die reën nie in die opvanggebiede val nie, kan die Kapenaars niks daaraan doen nie, behalwe toegee aan die dringende versoeke om op enige manier moontlik water te bespaar nie, en bid vir wonderwerke!

Dit is egter nie net die ‘wonderlike Kaap’ wat deur watertekorte getref is nie. Die Oos-Kaap, Bloemfontein en Noord-Kaap is net nie eerste in ’n mens se gedagtes nie en kry ook nie so baie dekking in die media nie.

Die verwysing na ‘lopende kraanwater’ in Gauteng bekommer my – is Verras enigsins bewus daarvan dat daar steeds waterbeperkings in Pretoria geld? Laat hy/sy die water loop terwyl tande geborsel word? Wanneer spuit hy/sy die tuin nat? Wat doen hy/sy om self bewustheid oor ons brose watersituasie aan te wakker en sy/haar ‘mindset’ te verander oor hoe om met hierdie skaars hulpbron om te gaan?

En dankie tog! Een minder Gautengse motor in die Kaapse strate!

Este Koorts

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button