Local news

Moot-gemeenskap kan terugkyk op ‘n jaar van selfdoensukses

'n Gemeenskap vol hoop het gesorg dat deur verfraaiing, opknapping en herstel 'n kopskuif gemaak is oor hoe gemeenskappe hul kan vernuwe.

“Die feit dat ons vir die Moot en ander mense in ander dorpe en woonbuurte hoop kon gee dat mens ’n verandering te weeg kan bring is vir ons opsigself ’n hoogtepunt van die Moot-projek. Ons kon glimlagte op mense se gesigte sit selfs in hierdie donker tye.”

Een van die projekte is straatverfraaiing. Spekboomplantjies is spesiaal deur ‘n kewekery se kwekerskool vir die doel geskenk.

So sê mede-stigter van Die Moot-projek, Johan Oberholster.

Hennie Mostert, ook ’n mede-stigter van die apolitiese instansie uit die gemeenskap vir die gemeenskap, sonder nog hoogtepunte uit.

Hieronder tel veral die versieringswerk aan brûe in die Moot soos die Walter Batissbrug in Fratesweg, Irma Sternbrug in 13e Laan en Peter Clarkebrug in Steadlaan, sowel as die aanbring van die Groot Vyf in die skilder Esther Mahlangu se styl op die 24ste Laan-brug.

Elkeen van hierdie brûe se betonkante, wat as relings dien, is met kunswerke versier. Hierdie werke is geïnspireer deur internasionaal bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars.

Volgens Oberholster het Elsie Weich op die verfraaiingsfront met die kuns ’n groot rol gespeel.

Ander versierings- en verfraaiingswerk is ook gedoen met die aanbring van muurkuns by die Moot-slothuis en Rietondale High se graffitimuur.

Die werk by die Slothuis het gepaard gegaan met ’n seremonie waartydens ’n belofte afgelê is deur gemeenskapslede om mekaar te alle tye met deernis, integriteit en respek te behandel, hul diere te versorg en veilig te hou, asook die omgewing te koester en skoon te hou.

Bankies in talle parke in die Moot is deur Die Moot-projek se hardwerkende lede en die gemeenskap afgeskuur en geverf.

 

Speelparktoerusting is onder hande geneem deur projekspanne van die Moot-projek.

Slotjies is simbolies aan die Slothuis vasgemaak om die belofte te herdenk.

Die versiering van Queen’s Corner en Queen’s Quarter se ingang met ’n gebreekte klipversiering en ’n Suid-Afrikaanse vlag, is ’n verdere hoogtepunt vir Oberholster en Mostert.

Beide sonder ook die aanplant uit van 125 Vanwykshoutbome op CR Swartrylaan.

Nog ’n hoogtepunt vir die mede-stigters is die ses belangrike straatroetes wat deurlopend skoongehou is regdeur die jaar met ’n span voorheen werklose mense.

“Hierdie mense lewer nou ’n groot bydrae in die omgewing. Dit maak ons trots om ook ’n wesenlike verskil aan soveel mense se lewens te maak,” sê Oberholster.

Individue soos John Lodder maak skenkings aan Die Moot-projek.
Moot-inwoners was tydens die onlangse staking dankbaar vir die Moot-projek se bydrae om strate skoon te hou.

Mostert plaas klem daarop dat die volle gemeenskap ’n bydrae maak.

“Almal werk saam om die Moot op te hef onder leiding van ’n klein bestuurspan en projek-areaverteenwoordigers oor die hele Moot versprei. Daar is sulke verteenwoordigers in Villieria, Rietfontein, Mayville, Kilnerpark, Queenswood, Waverley, Môregloed, Riviera, Gezina, Wonderboom-Suid en Rietondale,” bevestig Mostert.

Van die Moot se inwoners het selfs opknappingprojekte uitgelig soos die aanplant van spekboompies op sypaadjies asook die skenkings van individue waar die nood by opknappingsprojekte druk, soos besems, skuurpapier en vullisverwyderingsakke.

Ook genoem deur trotse gemeenskapslede is die skoomaak van die Hartbeesspruit, die herstel van draadheinings en die aanplant van ’n laning vrugtebome.

Die werk wat Die Moot-projek ook vir die gemeenskap tydens die onlangse munisipale staking gedoen het soos om strate skoon te hou, is ook ’n riem onder die hart vir Moot-inwoners.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, sê Die Moot-projek het momentum gekry met hul inisiatief. Die uitgangspunte van die bestuur strook met die fokus van die Sakekamer.

“Ons is besig met ’n proses in die stad van Pretoria om ons land se hoofstad ’n wêreldklasbestemming te maak. Ons werk graag saam met ander groeperinge soos Die Moot-projek om hierdie oogmerk te realiseer,” verduidelik Ferguson.

Vir hom is dit ‘n prestasie dat die projek nou ook uitgebrei het na die Jan Niemand Park-buurt waar daar volgens hom ’n geweldige behoefte vir ondersteuning is.

“As die parkies, omgewing en skole beter begin lyk, dan begin mense hoop kry. Dit gaan daaroor om die vuur van hoop aan te steek en verder te laat brand. Die Moot-projek kon dit regkry. Ons is so dankbaar vir die sakemanne wat betrek is om die omgewings beter te maak en die projek het ons algehele ondersteuning,” beklemtoon Ferguson.

Inwoners hard aan die verf aan ‘n brug in die Moot om die buurt te verfraai.
Deel van die Moot-projek se uitgangspunt is om grafitti toe te verf, neem jy weer die buurt terug vir gemeenskapslede.

Pastoor Japie Venter van Doxa Deo-kerk se gemeente stem saam.

“Daar waar hoop is, aanvaar mense verantwoordelikheid. In die Moot het verskeie individue, besighede en ook ons kerk die nood gesien om ons gemeenskap mooi en leefbaar te maak en ook om wat stukkend is, reg te maak,” sê Venter.

Hy verduidelik hoe die gemeente se mans ook inspraak in mans in Jan Niemand Park se lewens begin maak het.

“Ons het ook verantwoordelikheid aanvaar vir die versorging van die parkies. In ’n stadium het die predikante en leierskap ingespring en gras gaan sny. Ons uitgangspunt is om die gemeenskap te dien en nie net deur die gemeenskap gedien te word nie,” verduidelik Venter.

Die gemeente het ook vir die Chris Steyn-park verantwoordelikheid aanvaar en veral die speelparktoerusting reggemaak.

“Ewe skielik is daar al hoe meer families wat daar stap sowel as draf en piekniek hou. Dit is waaroor die verbetering vir ons gaan. Ons maak ons plek skoon en wag nie vir iemand anders om dit namens ons te kom doen nie,” benadruk Venter.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button