EntertainmentLocal news

Meer as 1 650 stemme word een in massakooroptrede

"Wagner het oor die jare ’n groot passie en toegewydheid gehad vir die Waterberg-plato."

Die 1Koor-vertoning 2023 was ’n vertoonvenster van die ryke verskeidenheid van stemme en die dinamiese koortradisie in Pretoria en omgewing.

’n Totaal van 27 kore met meer as 1 650 stemme het Saterdag een geword tydens die 1Koor-opvoering in die Moreleta Park NG Kerk se groot ouditorium.

Van die Pretoria-skole en hul dirigente wat deelgeneem het, is Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Eldoraigne, Laerskool Stephanus Roos, Laerskool Garsfontein, Laerskool Wierdapark, Laerskool Bakenkop, Laerskool Hennopspark, Laerskool Anton van Wouw, en Laerskool Constantiapark.

Die skole het saam een massakoor gevorm. Vir sommige liedere is leierkore saam met hul dirigente aangewys.

Laerskool Wierdapark is een van die kore wat die voortou geneem het onder die dirigentstokkie van Leanda Schelhase.

Die beroemde koorleier, Anton Pottas, het deurgaans as dirigent opgetree en is ook musiekdirekteur van die 1Koor-produksie.

Pottas het beïndruk met sy sielvolle vertolking saam met die koor van die gospelliedjie, “Waymaker”.

Bobby van Jaarsveld se optrede saam met die massakoor by die 1Koor-opvoering het 1 650 stemme verenig in een koor met die vertolking van sy gewilde liedjie “Spieëltjie, spieëltjie sê vir my”.

Sestien liedjies is deur die massakoor gesing, waaronder Laurika Rauch se “Vier Woorde”.

Die hoogtepunt van die aand was die massakoor se vrolike vertolking van die gewilde “Circle of Life”-liedjie uit die rolprent The Lion King.

Die aand is ingelui met die bekende Carike Keuzenkamp-liedjie “Dis ’n land” en afgesluit met Riana Nel en Retief Burger se gevoelvolle liedjie “Die Seën”.

’n Groot en waarderende gehoor, bestaande uit geesdriftige koorouers, geliefdes van die koorlede soos oumas en oupas en skoolhoofde en personeel, het die koorlede met fluite en applous aangemoedig.

Vanuit die gehoor is daar look luid saamgesing en ritmies met hul selfoonflitse gewaai op aandrang van die sjarmante seremoniemeester van die aand, sanger Rian Swanepoel.

Die veelsydige dirigent Anton Pottas wat as musiekdirekteur van die 1Koor-vertoning opgetree het maar self ook die gehoor met sy vertolking van “Waymaker” saam met die massakoor beïndruk het.

Swanepoel het saam met een van die sangers, Anlia Starr, ’n kragduet gevorm met hul vertolking van die bekende liedjie “Shallow” uit die rolprent A Star Is Born.

Die aand is ingelui deur ’n video-uitbeelding van die “Waterberg Kantate”, begelei met foto’s van ’n liefhebber van die Waterberg-area in Limpopo.

Impressario vir die aand en besturende direkteur van iTickets, Albertus Potgieter, sê die inleiding was gedoen om Chris Wagner te huldig.

“Wagner het oor die jare ’n groot passie en toegewydheid gehad vir die Waterberg-plato. Hy het in sy nalatenskap fondse beskikbaar gemaak om die streek te bevorder. Sy weduwee het van die fondse geskenk om die kooraand en die huldeblyk aan hom moontlik te maak,” sê Potgieter.

Solo-optredes saam met die koor deur Bobby en Karlien van Jaarveld was vir die koorlede ’n hoogtepunt, veral ook toe die twee befaamde kunstenaars tussendeur die koorlede beweeg het en ook handtekeninge uitgedeel het.

Kliek hier om die Waterberg Kantate te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button