Geldghoeroe-broers wys in boek hoe om welvaart te behou

Die twee Botha-geldwysgere van Pretoria en televisiesterre van die program, het 'n boek oor die bestuur van welvaart die lig laat sien. Hierin plaas hulle die klem oor hoe jy kan beplan om jou welvaart te beskerm.

Twee oud-Tukkies, bekend vir hul Welvaartskeppers-televisieprogram oor die maak en bestuur van geld, PJ en Geo Botha, het nou ’n boek die lig laat sien.

Hierin wil hulle die publiek help om slimmer oor die maak en bestuur van geld te word.

Die titel van hul boek, Word ryk, bly ryk – Hoe om welvaart te skep en te bestuur, toon reeds hul welvaartfilosofie.

Beide is gesertifiseerde finansiële beplanners en bedryf saam met hul pa, Riaan, Bovest Wealth Management.

PJ sê dat die begrip “welvaart” dikwels moeilik is om te verstaan.

“Welvaart beteken meesal om onafhanklik keuses rondom jou en jou gesin se leefstyl en toekoms te kan maak.”

Die boek verduidelik die Botha-gesin se moets en moenie oor hoe om geld te verdien, te laat groei en aan ’n volgende geslag oor te dra.

Daar is gevallestudies van entrepreneurs soos Whitey Basson en Raymond Ackerman en hoe hulle welvaart geskep het.

Meer onbekende Suid-Afrikaanse entrepreneurs, soos haarstilis Gary Rom en farmaseutiese entrepreneur Hannes Strydom se suksesverhale word ook gedeel.

Die twee Botha-broers van Bovest Wealth Mangement, PJ (links) en Geo (sittende) se boek “Word ryk, bly ryk – Hoe om welvaart te skep en te bestuur” wys salaristrekkers, pensioenarisse en entrepreneurs hoe om welvaart te skep en te behou.

Die fokus is om salaristrekkers, pensioenarisse en entrepreneurs te bemagtig.

PJ waarsku dat mense op pensioenskemas nie met ’n bedanking voor aftree-ouderdom die volle uitbetaling moet aanvra nie.

Daar moet steeds met ’n langtermyn pensioenplan voortgegaan word.

“Veral entrepreneurs maak dikwels die fout om al hul geld terug te ploeg in hul besighede en nie voorsiening vir aftrede te maak nie.”

Hy glo beleggers meen dikwels hulle is toegerus om self hul beleggings te bestuur.

Statistiek bewys egter dat oor ’n tydperk van tien jaar het diegene wat hul geld in samewerking met ’n adviseur bestuur het, se beleggings 2% meer groei getoon as selfbestuurders.

Hy glo pensioen-uitbetalings moet ook nie gebruik word om kinders, familie of vriende se behoeftes aan kontant aan te vul nie.

“Ouers moet veral ‘nee’ vir hul kinders sê wanneer pensioen-uitbetalings gemaak word anders verarm hul hulself en hul gesin.”

Sy broer, Geo, stem saam dat ’n finansiële adviseur ’n besliste plek in ’n belegger se lewe het.

“Daar is altyd meer voordele as nadele hieraan verbonde. Soms kan mens as ’n belegger so verlief raak op ’n aandeel of produk, dat jy kop verloor.”

Volgens hom maak adviseurs dit makliker om rasionele besluite oor geld te neem.

“Niemand wil stadig ryk word nie. Spekulatiewe metodes vier dikwels hoogty en beleggers moet daarteen beskerm word. Niemand is werklik slimmer as die aandelemark nie alhoewel dit soms so rondom ’n braaivleisvuur klink.”

Geo wys daarop dat beleggers soms glo om adviseurs te help, is duur.

“Om foute te maak met jou geld, kan jou egter duurder te staan kom. Die regte beleggingsadvies kan jou welvaart beskerm en laat groei.”

Moets van welvaartbestuur:

– Identifiseer uit watter geldfoute van jou ouers kan jy leer.
– Weet waarna jy streef in jou lewe om jou doelwitte met geld te identifiseer.
– Werk deur drie maande se bankstate en maak notas van waarop jy geld uitgee. Stel jou begroting daarvolgens op.

Moenies van welvaartbestuur:

– Moenie spandeer voor jy spaar nie. Sit 20% van jou inkomste weg voordat jy geld uitgee.
– Moenie dat ’n gebrek aan kwalifikasies jou terughou of as verskoning gebruik om geld te verdien nie. Bevorder jou kennis en vaardighede deurlopend.
– Moenie met die aankoop van motors die volle skuld aangaan wat die bank jou aanbied nie en wees versigtig vir die bedrag wat jy teen die einde moet betaal.

Word ryk, bly ryk – Hoe om welvaart te skep en te bestuur word op 18 Julie bekendgestel en sal teen middel Julie in boekwinkels op die rakke wees teen R250.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version