Centurion se Pedri met twee benoemings

“Dit is vir my ’n groot eer om die erkening te kry terwyl ek iets doen wat my passie is en wat ek geniet.”

Centurion-sanger en liedjieskrywer Pedri van der Westhuizen is vinnig besig om die plaaslike musiektoneel te beïnvloed met optredes vir sy tuisskare sowel as op die wêreldverhoog, maar op die ou end is hy net mal oor musiek.

Pedri het dit alles gedoen sedert hy slegs ’n jaar gelede sy debuut-enkelsnit vrygestel het. “Deel van die lewe” is goed ontvang deur plaaslike radiostasies en musiekkenners, wat ’n ophef gemaak het oor sy gemaklike wêreldbeskouing en die manier waarop die lirieke dit weerspieël.

Pedri, wat as ’n musikale waaghals beskryf word, het sy musiekloopbaan op ’n belowende voet begin met twee benoemings by die Afri-Indie Musiektoekennings vir Nuweling enkelsnit en Nuweling liedjieskrywer van die jaar.

Hy het onlangs twee nuwe enkelsnitte vrygestel: “Mooi Oomblikke” en “Nou”.

Image provided

Die eerste het ’n regte rock-sitkamer-gevoel, terwyl “Nou”, daarenteen, meer ’n pop-rock-gedrewe liedjie is. Hy wyk egter nie af van sy sterk liriekgedrewe filosofie nie.

Pedri, wat albei snitte geskryf het, openbaar onaardse diepte wanneer hy filosofeer oor die geheime van die lewe en die nou – van die oomblik, van lewe en van liefhê.

Rekord het met Pedri gesels oor sy musiek en sy tuisdorp.

Het jy altyd gesien hoe jy ’n plaaslike naam vir jouself maak in hierdie bedryf in Pretoria?

My verhoog was nog altyd elke geleentheid hoe groot of klein waarin ek my liefde vir musiek kan uitleef. My spore lê diep in Pretoria maar ek het ook die voorreg gehad om op ’n wêreldverhoog soos in Maleisië, Fillipyne en Amerika op te tree. Onlangs het ek die voorreg gehad om hier in Pretoria vir Elvis Blue, Ricus Nel, Bernice West, en Adam Tas te kon open.

Image provided

Tydens my optrede by Aardklop het ’n skare my begroet.

Hoe was die Pretoria- en Centurion-gemeenskap deel van jou reis?

Ek het grootgeword op die plaas, in ons gemeente en die gemeenskap in Centurion en groter Pretoria. Die inhoud en betekenis van my liedjies is ook hier by my hartsmense gebore. Die atmosfeer van die plaas en met die klank van die mense om my is die inhoud van my liedjies gebore.

Jy het vir jou studies in teologie ingeskryf en jy sê dat jy hieruit inspirasie put om jou liedjies te skryf. Wat dink jy dra dit by?

Daar is twee belangrike dae in ’n mens se lewe. Die eerste is die dag wanneer jy gebore is en die tweede is die dag wanneer jy ontdek hoekom jy gebore is. Ek is gebore om ’n verskil te maak en waarde toe te voeg tot mense se lewens. Die basis van dit alles vind ek in my skeppingsdoel. My teologiese graad is die fondasie van die lewenswaardes waaroor ek sing.

Image provided

Hoe word jou studies en loopbaan vervleg met jou musiek en liedjieskryf?

My musiek is inspirerend van aard omdat dit ’n positiewe beeld dra. Die kennis wat ek bekom, is nie om meer te weet van alles nie maar om meer te kan wees in alles. Die klanke wat uit my uitkom is op grond van die musiek wat in my is.

Jy is in twee kategorieë benoem vir vanjaar se Afri-indie. Hoe voel dit om hierdie tipe erkenning te kry en hoekom is dit vir jou belangrik?

Dit is vir my ’n groot eer om die erkening te kry terwyl ek iets doen wat my passie is en wat ek geniet.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version