Tannie Hes vier 100 jaar: “Kyk net na Bo”

'n Honderdjarige oud-inwoner van Pretoria se goue herinneringe sluit in haar dae tussen skape op 'n Karooplaas, telegramme, petrolkoepons en klante van haar handwerkkunswinkel in die middestad van Pretoria.

Die aand voor haar 100ste verjaarsdagpartytjie het Hester Joubert, bekend as tannie Hes, in die kerksaal self toegesien dat elke pakkie koekies wat sy vir die meer as 40 gaste gebak het met ’n lintjie toegedraai op elke bordjie geplaas word.

Die uitgebreide Joubert-familie het van ver gekom om hul geliefde tante se verjaarsdag te herdenk.

Toe daar ’n bordjie is wat per ongeluk oorgesien is, het sy dadelik plan gemaak om nog ’n pakkie op te maak.

En almal was dit eens: Dis hoe hulle haar ken. Altyd aan die versorg, die een wat nooit ’n verjaarsdag vergeet nie, altyd ’n handgemaakte geskenk ter hand het en ’n swart notaboek byderhand om notas oor resepte en ander gebeurlikhede te maak.

Oor die geheim om 100 jaar oud te word, is sy kort en kragtig: “Moenie dink aan die jare wat verby is nie. Kyk net na Bo. Daar is niks anders nie.”

Hierdie gebore Strydenburger het die gehardheid van die Karoo en haal veel oor haar geboortedorp aan wanneer sy gesels.

“Die inwoners het mekaar goed geken en waar nodig ondersteun. Ek was lief vir sport. Wanneer ons ’n byeenkoms gehad het, het ek altyd gehardloop. Ons was ook lief vir ons onderwyspersoneel. Ek het van hulle saam met my suster gaan besoek en hulle het my by ons vakansieplek kom sien.”

So fluks is Joubert se brein nog, sy noem sommer ook ’n rits name van die onderwysers soos Mej. Bresler wat ’n invloed op haar gehad het.

Sy besit ook duidelik steeds die deeglikheid wat sy al die jare as mede-eienaar van die bekende kunsnaaldwerk- en wolwinkel, Arthena, in die Standard Bank-gebou in die middestad van Pretoria, ingespan het.

By Arthena kon jy die mooiste gehalte tapisserieë, borduurgare en Jan Paul Barnard-wol vir jou handgemaakte artikels aanskaf.

Haar aandag aan detail is ook waarvoor haar voormalige klante van haar babawinkel op Klerksdorp haar sal onthou asook klante van haar suster Trynie se kunsnaaldwerk- en wolwinkel op Klerksdorp.

Hester (links) en Trynie Joubert

Joubert het met ’n glimlag by haar partytjie op 1 Februarie teruggedink aan die jare toe sy en Trynie die winkel in die middestad bedryf het.

Die twee susters het ook vir jare in die Penthouse van die Granada-woonstelblok regoor die Uniegebou gewoon.

Die Britse Uitsaaikorporasie het destyds met die inhuldiging van Nelson Mandela hul woonstel as nuuskwartiere gebruik omdat dit so ’n onbelemmerde uitsig op verrigtinge gehad het.

Tans woon sy in Potchefstroom in die Groenwilgers aftreeoord.

Hester is die enigste oorlewende van die gesin van vyf kinders. Haar broer Andries het jare gelede al na sy ewige tuiste verhuis. Haar suster Trynie is in 2013 oorlede, haar broer Hannes in 2017 en haar oorblywende broer, Piet in Julie 2024.

Teen die funksiesaal se mure was talle foto’s uit Joubert se uitgebreide fotoskyfieversameling van haar en Trynie se reise oorsee na plekke soos Londen, Italië, Duitsland, Frankryk, Switserland, Israel en Spanje.

‘n Verskeidenheid van haar reisfotoskyfies is in reisfoto’s verander en uitgestal tydens Hes Joubert se 100-jarige verjaarsdagvieringe. Foto: Elize Parker

Een van haar gunstelingtydverdrywe as Karookind was om handjie by te sit wanneer skape gedoseer is.

“My twee broers het die skape gevang. Nadat ek die medisyne ingegee het, het hulle die skape weer laat gaan,” vertel sy nostalgies.

Gedurende 1940 het die gesin na De Aar verhuis sodat die kinders hoërskool toe kon gaan.

In 1942 het Joubert op hierdie dorp in ’n winkel begin werk met ’n salaris van een pond tien.

“Werk was skaars. Ek was Woensdagmiddag af, maar Saterdae het jy laat gewerk. As jy pligsgetrou was, het jy gewerk tot alles klaar was.”

Hierdie werksetiek is tekenend van haar lewe. In 1943 het die gesin na Brakpan verhuis waar haar suster gaan kuier en werk gekry het.

Voor: Elsa en Hester Joubert. Agter: Charl en Dirkie Joubert

Dit was nog die dae van telegramme aanstuur en sy het ’n telegram van haar suster gekry: “Huis gehuur, kom!”

“Ons het dankbaar begin pak en meubels per spoor gestuur. Ons is na Brakpan met ’n Model A Ford-kar, maar daar moes baie brandstof ingegooi word deur die gebruik van petrolkoepons. Dit was ’n lang pad en ons senuwees was op breekpunt.”

Hester het toe weer in ’n winkel begin diens doen sowel as na haar verhuising na Potchefstroom saam met haar broer, Piet, ’n bekende sakeman van die dorp. Hier was sy weer aan ’n winkel verbonde voordat sy met haar eie besigheid op Klerksdorp begin het.

“Wat ek van my winkeldae onthou is dat als vinnig moes geskied. Aflewerings het snags gebeur want die winkelvoorraad is gedurende die nag afgelaai en jy moes vinnig regpak en inpak voor die winkeldeure oopswaai,” vertel sy.

Dis ook dae wat vrouens deftig aangetrek het vir geleenthede. Sy was betrokke by die Musiekvereniging en was verantwoordelik vir die besprekings vir konserte van Rudi Neitz, Gè Korsten en vele ander kunstenaars.

“My rokke wat ek na vertonings gedra het, het netjies gepas. ’n Mens voel goed as mense vir jou kyk en goedkeurend knik.”

In haar modieuse skoene en ’n fleurige pienk rok op haar 100ste verjaarsdag, het sy vele komplimente gekry.

“Die goeie ding is, mens voel gelukkig nie so oud soos mens lyk nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

Exit mobile version