Min trane was in sig en daar was ’n gees van opgewondenheid toe graad een-leerders in Pretoria-oos en die Moot gul ontvang is by onderskeidelik Laerskool Garsfontein en Laerskool Villieria.
Talle van die ouers glo dis omdat soveel van die leerders ook al in graad R by dieselfde skole ingeskryf was.
Nogtans was die eerste dag in die “groot skool” ook vir hierdie ouers ’n nuwe hoogtepunt en mylpaal.
Marko Swanepoel sê die keuse van ’n laerskool vir sy dogter, Mijan, was belangrik en hulle het juis ervaar dat graad R by Laerskool Villieria haar potensiaal ontwikkel het.
“Ons wou haar in Laerskool Villieria plaas omdat ons weet hulle bevorder onderrig in Afrikaans. Ons weet sommer dit gaan ’n goeie jaar vir almal by die skool wees,” meen Swanepoel.
Vir Oupa Flip Prinsloo van die Moot was dit belangrik om by sy kleinkind, Enzo, se eerste dag saam by die skool te wees. Hulle twee spandeer dikwels tyd saam en die gemis aan beide kante gaan dalk groot wees.
“Ons twee is beste maatjies en ek wou sien hoe lyk sy omgewing in die dag en hoe lyk sy nuwe maatjies,” vertel Prinsloo.
Enzo hoop dat sy Oupa ook gelukkig by die huis sal wees noudat sy ure by die skool langer gaan wees. “Oupa is ook my beste maatjie. Ek hoop hy sal oukei wees,” vertel hy.
Die waarnemende hoof van Laerskool Villieria, Jaco Grobler, het al vroeg reg gestaan vir ouers van al die grade met ’n padpatrollie wat reeds vroeg aan diens was. Reëlings is ook getref om verkeer in die omgewing vlot te laat verloop en die skool se klerebank het reggestaan om ouers by te staan.
By Laerskool Garsfontein is die inname van graad een-leerders vanjaar ’n stewige 250 leerders.
Daar is reeds op 14 Januarie, ’n dag voor die skole amptelik begin, met twee verwelkomingsessies in hul klasse seker gemaak nuwe leerders voel welkom.
Die graadhoof, Lizel Gouws, sê hul span ook skoolleiers in om die ouers en leerders te verwelkom ’n dag voor die skole begin sodat daar genoeg tyd aan elke nuwe leerder en ouers se navrae spandeer kan word.
“Dis vir ons belangrik dat elke graad een-leerder weet wat om te doen, waarheen om te gaan en veilig en tuis voel,” verduidelik Gouws. “Ons probeer die dag so maklik as moontlik vir almal maak.”
– Kliek hier om te sien hoe Alta Lewis haar dogter Mieke Lewis gehelp het om tuis te voel by Laerskool Villieria:
– Kyk hier hoe ouers en nuwe graad 1s by die fotohokkie eers die geleentheid neem om die groot dag met ’n foto te herdenk:
Lees: Nooddienswerkers kies toenemend om oorsee te werk
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.