’n Verskaffer van nooddienste het sy kommer uitgespreek oor ’n groeiende tendens van paramedici en nooddienswerkers wat die land verlaat om hul loopbane in ander lande voort te sit en te bou.
Volgens die organisasie Crisis on Call werk Suid-Afrikaanse paramedici onder van die moeilikste omstandighede ter wêreld weens die hoë vlakke van misdaad en onveilige paaie.
“Ons woon in ’n land met een van die hoogste moordsyfers ter wêreld, sowel as een met die meeste motorongelukke. Dáárom is paramediese dienste noodsaaklik en dit maak Suid-Afrikaanse paramedici van die bestes ter wêreld,” verduidelik Crisis on Call woordvoerder, Ruan Vermaak.
“Paramedici word egter dikwels nie baie goed betaal nie en hulle werk in ongelooflike uitdagende omstandighede. Hulle raak heeltemal uitgebrand en gaan soek dan groener weivelde oorsee, waar hulle beter vir hul ongelooflike ervaring vergoed word en onder veiliger omstandighede kan werk.”
Hy vertel hoe in Desember verlede jaar ’n senior paramedikus met meer as 20 jaar se ondervinding na ’n toneel ontbied is waar ’n pasiënt ’n ernstige hoofbesering opgedoen het.
Terwyl die paramedikus haar probeer help het, het sy iemand die huis binne hoor kom en ’n vuurwapen is op haar gerig. Die aanvallers het haar juweliersware gesteel voordat hulle in ’n voertuig gevlug het.
Foster Mohale, woordvoerder van die Departement van Gesondheid, bevestig daar is ’n toename in aanvalle op mediese nooddienswerkers sedert 2014.
“In dele van die Wes-Kaap weier paramedici om in party areas te werk sonder gewapende polisiebegeleiding. Dit neem hulle dus baie langer om by ’n toneel uit te kom, maar hulle is so gereeld aangeval en beroof dat hulle geen ander keuse meer het nie,” sê Mohale.
’n Bekende paramedikus in Pretoria-Noord, Xander Loubser, meen veiligheid is nie die enigste oorweging nie, maar ook jou persoonlike veiligheid as Suid-Afrikaner.
Vir hom is vergoeding die hoofrede hoekom paramediese personeel die land verlaat.
“Ek dink paramedici kom op ’n punt wat hulle besef dit is nou al 20 jaar of so wat hulle werk en hul ledemate soos hul rug en knieë begin ingee en besef hul salarisse is onvoldoende. ’n Mens doen dan baie introspeksie oor waar jy in jou loopbaan wil wees en besef jy het dalk in Suid-Afrika jou plafon bereik.”
Loubser glo ook Suid-Afrikaanse paramedici word juis geteiken deur organisasies vanaf plekke soos Dubai juis oor hul uitgebreide ervaring. Hy glo min paramedici kry die mate van ervaring soos diegene wat aan werksomstandighede in Suid-Afrika blootgestel is.
“Suid-Afrikaanse paramedici is so ervare omdat daar soveel trauma-insidente is en die gevalle hul blootstelling gee om ervaring op te tel.”
Hy glo daar is ook nadele verbonde aan ’n buitelandse kontrak.
“Die slegte gedeelte van ’n kontrak is as jy terugkom en moet aanpas by Suid-Afrikaanse omstandighede soos ’n laer salaris en leefstyl. Jy het dalk ook vir jare net ligter gevalle hanteer en sekere aspekte van jou loopbaan verleer.
“Dis werklik ’n groot besluit om oorsee te gaan werk. Ons het definitief ’n vergoedingsaanpassing nodig in die algehele industrie in Suid-Afrika,” sê Loubser.
“Privaat dienseienaars kan ook nie opmeet teen die staat met behuising en pensioenvoordele nie. Sulke dienseienaars is ook nie verseker van goeie vloei van fondse van die Padongelukkefonds en mediese fondse nie en moet hierdie faktor by aanstellings oorweeg.
“Die realiteit is die gesondheidsektor in Suid-Afrika gaan agteruit en geleenthede in die buiteland wink vir talle paramedici oor verskeie faktore,” sluit hy af.
Lees ook: Klag aanhangig nadat VF Plus-stadsraadkantore wederregtelik ontruim is
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.