Local newsNews

Krugerdagvieringe nog relevant, glo genootskap

Vir 85 jaar reeds word kranse op die graf van Paul Kruger deur verskeie organisasies geplaas op 10 Oktober, maar het die dag nog relevante waarde?

Meer as 25 organisasies, instellings en families het die ZAR-leier, Paul Kruger, Donderdag gevier deur kranse ter herinnering by sy graf in die Helder-akker in Pretoria-Wes neer te lê.

Kruger is op 10 Oktober 1825 gebore. Dit is vanjaar 120 jaar sedert sy afsterwe op 14 Julie 1904.

Die kranslegging vorm deel van die Federasie van Kultuurvereniginge (FAK) se Krugerdagvieringe en is gevolg deur ’n kerkdiens in die Paul Kruger-kerk in Kerkstraat. ’n Feesrede met die tema: “70-jaar staan die Krugerbeeld op Kerkplein, waar staan die Afrikaner?” is ook gehou.

Die groep kransleggers sluit onder meer Solidariteit, Helpende Hand, die Marico Engelbrecht Familiebond, die Opperman-familie, die FAK, die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans en die SA Weermagvereniging, in.

Individue het ook enkele blomme gelê op die grafte van familielede in die helde-akker sowel as op die grafte van digters soos Jan F. E. Cilliers en Eugene N. Marais.

Volgens Hannes Noëth, voorsitter van die Krugergenootskap, het verskeie CVO-skole landswyd soos in Bloemfontein en Kareedouw, ook die dag met kransleggings gedenk.

Noëth sê dat sulke vieringe het nog relevansie en die aantal organisasies wat jaarliks by die vieringe aansluit, word meer.

“Die groter wordende betrokkenheid en teenwoordigheid is ’n bewys die vieringe rondom die voormalige president Kruger se geboortedag het steeds relevansie,” meen hy.

Hy beklemtoon dat op dieselfde dag wat die Krugervieringe plaasvind, ’n krisisberaad oor die Bela-wetgewing in die onderwys gehou word waarby taalregte van skoolgaande Afrikaanse kinders bedreig word.

“Ons wil sug en die eise van die tyd wil ons onderkry. Maar dis nie so maklik nie. Ons bou steen vir steen. Ons onthou en ons bou,” sê hy.

Dit is die 85ste jaar wat die vieringe en herdenkings onafgebroke plaasvind. Selfs gedurende die Covid-19-pandemie het die kranslegging en kerkdiens ook voortgegaan.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button