Local newsNews

Jeugsimfonie-orkes in harmonie met Duitse akkordeonorkes

'n Onvergeetlike aand met unieke opvoerings deur 'n Duitse akkordeonorkes is deur musiekliefhebbers by die Voortrekkermonument geniet.

Die FAK Jeugsimfonie-orkes en die Duitse Landes Jugend Akkordeon Orkes Nordrhein-Westfalen (Duitse Jeug-trekklavierorkes) het op 11 Oktober ’n konsert by die Voortrekkermonument se Senotaafsaal aangebied as deel van die orkes se toer na Suid-Afrika.

Onder leiding van Jaco van Staden het die FAK Jeugsimfonie-orkes twee van sy talentvolle soliste ten toon gestel: Danelle Rautenbach, wat die eerste beweging van Edward Elgar se Tjellokonsert uitgevoer het en Ellie Pereira, wat die tweede beweging van Sjostakowitsj se Klavierkonsert nr. 2 uitgevoer het.

Dirigent van die FAK Jeugsimfonie-orkes, Jaco van Staden (voor) aan die woord voor ‘n opvoering van die orkes. Foto: Elize Parker

Pereira, ’n inwoner van die Moot, se broer Josie, is ’n tjellospeler en op tienjarige ouderdom die jongste lid van die orkes.

Die Duitse orkes onder leiding van Silke D’Inka en orkeslede het ook ’n begeleide toer deur die monument geniet en die historiese betekenis daarvan verken.

Die FAK Jeugsimfonie-orkes se orkesbestuurder, Lieandri Ackermann, sê die Duitse orkes het hulle genader om ’n konsert aan te bied.

Martina Ahrendt, woordvoerder van die besoekende orkes, verduidelik hul groep musikante vorm ’n akkordeonorkes.

“Waar die instrumente soos viole en tjellos individueel in ’n simfonie-orkes die musiek vertolk, gebruik ons net akkordeons,” verduidelik sy.

Lede van die FAK Jeugsimfonie-orkes: Voor: Danelle Rautenbach, Charmile Strauss, Rieghardt Strauss en Ellie Pereira Agter: Gideon Venter, Johan Viljoen en Mikah Rautenbach Foto: Elize Parker
Duitse Landes Jugend Akkordeon Orkes Nordrhein-Westfalen se bestuurspan: Thomas en Martina Ahrendt en Silke D’Inka. Foto: Elize Parker

Van Staden, was bo en behalwe vir die puik vertolking, vir nog ’n rede trots op die uitvoering saam met die besoekende orkes.

“Dit is vanjaar die tweede herdenking van die stigting van FAK Jeug Simfonie-orkes en ek is baie trots op die groot hoogtes wat hierdie orkes reeds vanjaar bereik het.”

Hy verduidelik die konsert was ook om dankie te sê vir elke orkeslid se harde werk hierdie jaar. “Dit was ’n voorreg om hierdie tipe interkulturele projek te kon doen en interessant om ’n trekklavierorkes te beleef.”

Ellie Pereira Foto: Elize Parker

Vir Van Staden het vanjaar vele hoogtepunte vir die orkes ingehou.

“Die orkestoer in die Julie-vakansie was een van hierdie hoogtepunte waar ons plaaslike gemeenskappe kon vermaak,” meen hy.

Hy het jong Pretoria-musikante uitgenooi om vir oudisies aan te meld.

“Ons hou binnekort weer oudisies vir 2025 en belangstellendes moet ons mediabladsye dophou.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button