Geliefde progerielyer wou liedjie voor opehartoperasie hoor

Die ouers van progerielyer, Beandri Booysen, se hartsbegeerte is om hul dogter vir 'n vakansie by die see te neem wanneer sy gesond genoeg is na haar tiende operasie.

Die geliefde Beandri Booysen, progerielyer van Doornpoort se ouers, Pieter en Bea, het aan Rekord gesê dis baie moeilik met tye na haar tiende operasie wat hierdie keer ’n opehartoperasie was.

“Maar ons staan sterk vir haar alhoewel sy die sterkste in ons gesin is. Sy hou ons bymekaar en op ons tone. Sy is al deur so baie en staan steeds sterk. Haar geloof is baie sterk en sy het self gesê sy plaas die operasie in die Here se hande en Hy sal na haar omsien,” verduidelik Bea.

Beandri (18) het op 10 Oktober die opehartoperasie in ’n hospitaal in Johannesburg ondergaan nadat aortastenose by haar gediagnoseer is.

Aortastenose is ’n harttoestand wat voorkom wanneer die aortaklep vernou, wat dit moeilik maak vir bloed om van die hart na die res van die liggaam te vloei.

Sy is as baba met Hutchinson-Gilford-progerie gediagnoseer, ’n siekte waar ’n lyer vier tot agt keer vinniger verouder as die normale persoon van haar ouderdom.

Die Progeria Navorsingstigting meld dat in September vanjaar het hulle kennis gedra van 151 kinders en jong volwassenes in 48 lande met die Hutchinson-Gilford Progeria-sindroom. Die stigting se webblad verduidelik dat diegene met die sindroom, ’n progerien-produserende mutasie in die LMNA-geen het.

“Sy is al van kleins af ons Angel, ons dogtertjie wat ons altyd wou hê en vir wie ons baie lief is. Ons almal sal enigiets doen om haar eina weg te vat. Ons weet al vir ’n lang tyd dat die operasie gedoen sou moes word, maar dit het net vinniger gebeur as wat ons verwag het. Haar aortastenose gradient het drasties verhoog wat dit genoodsaak het om die operasie vroeër te doen,” wys Bea uit.

Sy verduidelik Beandri se aortakleppe werk ook nie soos hulle moet nie en sy het ook verkalking in haar aorta en ander are in haar liggaam.

“Sy het al drie beroertes gehad, maar steeds hou dit haar nie terug nie. Alhoewel sy nie Graad 12 kon voltooi in ’n normale skool nie, as gevolg van haar mobiliteit, het sy studies voltooi in Child Daycare, Child Psychology en Life Coaching. Sy lewe haar lewe voluit ten spyte van enige struikelblokke wat oor haar pad kom.”

Haar ouers sal haar graag met vakansie see toe neem as sy ten volle herstel het van die groot operasie. Die gesin was meer as ses jaar laas met vakansie.

Beandri is een van vier kinders. Sy het drie ouer broers: Jaco (35), Herman (34) en Ruben (26).

Bea vertel hul kon as ouerpaar saam met haar in die teater gaan.

Voor sy onder narkose geplaas is, het die geneesheer op haar versoek haar spesiale liedjie van Phil Wickham “The battle belongs to you” gespeel en sy het ook gevra dat die dokter moet bid voor sy narkose toegedien word.

Beandri saam met haar broers: Herman, Ruben en Jaco Foto: Albert Bredenhann

Die operasie was ongeveer drie en half ure en daarna is sy na intensiewe eenheid vir hartpasiënte geneem.

“Ons was baie verlig om te hoor dat die operasie goed afgeloop het en sy nie op ’n ventilator geplaas was nie, wat ’n wonderwerk is. Sy was baie wakker Donderdagaand na die operasie, maar van Vrydag af was sy meer slaperig van al die medikasie. Sy het baie pyn en is tans op 28% suurstof en sukkel met asemhaling. Daar is ook vog op haar longe waarvoor sy medikasie ontvang, en haar liggaampie is geswel.”

Hulle hoop om op 14 Oktober haar chirurg te sien, maar hy het Vrydag aan die ouerpaar gesê sy doen beter as normaal vir iemand wat só ’n groot operasie ondergaan het.

Beandri word op 20 November 19 jaar oud. Sy het voor die operasie 13.1kg geweeg.

Die geliefde TikTokker wat meer as 270 000 volgelinge het, se geneesheer het ook reeds op 11 Oktober aan haar ouers, bevestig dat sy beter as normaal vorder.

Die ouerpaar bly tans in Johannesburg in ’n gastehuis om naby aan Beandri se hospitaal te wees en mag haar net vir twee en ’n half uur per dag sien.

“Die personeel en dokters van Maboneng Heart and Lung Institute hier by die Sunninghill-hospitaal is puik en kyk baie mooi na haar. Sy is nie gewoond om alleen in ’n hospitaal te bly nie. Die fisioterapeut sal binnekort probeer dat sy op ’n stoel sit, maar sy sal eers oor ’n paar dae na ’n normale saal oorgeplaas kan word,” verduidelik Bea.

Nadat sy na die operasie wakker geword het, het Beandri gevra om ’n video-oproep na die Booysens se uitgebreide familie te maak want sy wou almal gerusstel dat dit goed gaan met haar.

Alhoewel die gesin oor ’n mediese fonds beskik, is daar talle ander kostes waarvoor die skarebefondsing mee sal kan help soos bykomende ondersoeke. Teen Sondagaand (13 Oktober) het talle individue reeds bygedra op Back-n-Buddy om die totaal op bykans R70 000 te laat staan.

“Ons het ’n BackaBuddy vir haar gestig om te help met onvoorsiene onkostes, want ons weet nie wat die toekoms inhou nie,” vertel haar ouers.

– Kliek hier om Beandri se boodskap voor haar operasie te sien wat op 24 September geplaas is deur Albert Bredenhann:

https://www.facebook.com/691682465/videos/567116379074652/

– Kliek hier om na die skarebefondsingsblad te gaan.

TikTok Star Beandri Booysen Prepares for Life-saving Open-Heart Surgery

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version