Local newsNews

Rietbok-wrakstukke uiteindelik geïdentifiseer en op skandering vasgevang

'n Wrakondersoeker van Pretoria-oos is na die skandering van die see naby Oos-Londen nader as ooit vantevore om die tergende geheim op te los.

Vlieënier en inwoner van Pretoria-oos, Wouter Botes, is nader aan sy droom om wrakstukke van die Rietbokvliegtuig van die bodem van die see naby Oos-Londen te lig.

Botes was in September tydens ’n warm en sonnige week in Oos-Londen waartydens die oseaan kalm was met ’n geringe deining en ’n ligte wind.

Kayser-se-strand naby Oos-Londen.

“Dit was asof die weer ons die geleentheid wou gee om te doen wat ons gekom het om te doen,” vertel die skrywer en TV-aanbieder van programme oor raaisels.

Die wrakondersoeker en oplosser van talle Suid-Afrikanse raaisels, se soektog na tekens van die Rietbokvliegtuig kom al ’n lang pad waartydens hy ten spyte van verskeie faktore soos borge wat hom in die steek gelaat het, nie opgegee het nie.

“Dit is en was ’n geloofsaak vir my,” sê Botes.

Die Rietbok was ’n vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat op 13 Maart 1967 naby Oos-Londen in die see gestort het. Die Rietbok was ’n Vickers Viscount 818 en is in 1958 gebou.

Vlug 406 van Port Elizabeth na Johannesburg via Oos-Londen en Bloemfontein het laat die middag in slegte weer vertrek. Kaptein Gordon Lipawsky was in bevel met vier bemanningslede en 20 passasiers aan boord. Om ongeveer 17:10 het die vliegtuig 15 seemyl suidwes van die lughawe by Oos-Londen en sowat 2km van die kus by Kayser-se-strand in die see gestort. Die wrak lê op ’n diepte van 55-67m. Almal in die vliegtuig het omgekom.

Botes het tydens die onlangs ekspedisie ’n kranslegging gaan doen op die rotse namens gesinne van die slagoffers naby aan die punt waar die vliegtuig in die water geval het.

“Die Rietbok-vliegongeluk is en bly ’n emosionele saak. Vir my het dit mettertyd duidelik geword hoe belangrik feite vir die geliefdes is om afsluiting te kry,” deel hy sy waarnemings.

Hy het al landswyd verskeie gesprekke met van hierdie geliefdes gehad.

Botes het met voortdurende kontak met Blue Ocean Dive Resort Aliwal Shoal en hul span sowel as skipper John Barry, van Southern Cross Cruises, saamgewerk om die doel van sy ekspedisie tot uitvoering te bring.

Die skandering (onder) wys dat die wrakstuk dalk die boonste gedeelte van die vliegtuig kan wees.

Na die ondersoek kon hy aan die geliefdes van die slagoffers en borge verslag doen dat hy en die spanne die Rietbok-vliegtuig se finale rusplek gevind het. Dat ’n buitengewone gewelddadige botsing die vliegtuig in talle stukke laat breek het en dat soos verwag, die sterker onderstel van die vliegtuig redelik onaangeraak is maar van die res van die stukke geskei is.

“Die omgewing op die seebodem waar die teikens lê wat ons met skandering kon identifiseer, is werklik ongenaakbaar met baie sand en seeslik waaronder van die stukke geberg is,” verduidelik Botes.

Hy benadruk die teikens oftewel moontlike wrakstukke sal net met ’n fisiese duikslag geïdentifiseer kan word.

’n Hele paar aspekte van die ekspedisie is vir hom ’n riem onder die hart.

“Die skipper het werklik sy werk geken om ons uit te neem na waar ons met die skandering na moontlike teikens en tekens van die wrak kon soek. Dan is daar ook die hulp van die plaaslike sakelui, toerisme-organisasies en die museum in Oos-Londen op wie ons deurlopend kon staatmaak.”

Die kritiese onbepaalde faktor vooraf was of die skanderingsmasjiene van die maatskappy Lowrence in die taai toestande sou kon werk. Dit was een van Botes se grootste bekommernisse.

“Maar die maatskappy het spesiale nuut-ingevoerde toerusting tot ons beskikking gestel wat ons vir hulle moes toets en als was in orde,” dui hy aan.

Botes voel hy het sy doel bereik om die twee wrakterreine te skandeer en teikens te identifiseer vir moontlike uitduik. Nou kan die volgende besluite geneem word.

Dit sluit besluite in soos of dit die risiko werd is om die wrakstukke uit te duik. Die oogmerk is om die stukke op uitstalling in Oos-Londen se museum te plaas. Die risiko’s en ander aspekte van ’n moontlike volgende ekspedisie sal hy nou met kundiges bespreek.

Só het koerante die ramp destyds aangekondig.

Vir Botes was die ekspedisie na die strande en seebestemmings rondom Christmas Rock – en Kayser-se-strand beslis die moeite werd.

“Ek het van die begin gevoel ons is op die regte pad. Ek weet nou weer eens mens moet nie jou eie beperking wees nie. Jy moet altyd jou horisonne verbreed met goeie beplanning en ’n geloofsprong of twee maak. Daar is altyd nog ’n geheim wat opgelos moet word, nog ’n raaisel om na te vors.”

– Kliek hier om meer van Botes se ekspedisie te sien: https://www.youtube.com/watch?v=eOEht4TyL4k

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button