Local newsNews

Ten spyte van-konserte vier mondigwording

Mense met gestremdhede wat in die kunste wil presteer, kry 'n unieke geleentheid om eersdaags op 'n gedenktyd vir 'n Pretoria-trust in die kunste, hul talente ten toon te stel.

Die Ten Spyte Van-konserte en uitstallings wat jaarliks deur die Pierneefteater en die Cordis Trust aangebied word, vier vanjaar hul 21ste bestaansjaar.

Twee vertonings en uitstallings sal weer vanjaar aangebied word om verskeie persone met gestremdhede se talente uit te lig in die kunste.

Teatereienaar Jopie Koen en kunsteborg Fanie Marais het met die totstandkoming van die Pierneefteater in 2003 besluit om ’n forum en platform te skep vir mense met gestremdhede in die uitvoerende en beeldende kunste. Beide was toe aan die Pretoria-digkunsgroep, Die Woordgilde, verbonde.

Koen verduidelik die Ten Spyte Van-konserte en uitstallings is vir haar belangrik omdat sy deur die jare gesien het hoeveel dit vir mense beteken om op ’n verhoog te verskyn en hul talente met ’n gehoor te kan deel.

“In baie gevalle is dit mense wat nog nooit voorheen so ’n geleentheid gehad het nie. Almal wat besluit om te kom luister, kan verseker wees dat hulle vol dankbaarheid vir hul eie voorregte en vol inspirasie by die teater sal uitstap,” glo Koen.

David Lombard

Sy bly dankbaar teenoor Marais (82) en Cordis Trust wat hierdie geleenthede sedert 2003 reeds moontlik maak.

Marais sê dat hy by die afsterwe van sy 21-jarige talentvolle en begaafde dogter, Mardene, op 18 Oktober 1989, van haar skryfwerk bymekaar gemaak het en besluit het om haar talent te gedenk.

Hy het met sy aftrede in 1999 ’n gedenktrust, die Cordis-trust, geskep wat deernis tussen mense wil bevorder, hoop wil skep en Afrikaanse skryfwerk wil aanmoedig en gedenk.

“As ek praat van hoop skep, is dit sodat ons ook uit die ervaring om ander te help van hulle die motivering kan kry om positief te wees en positief te bly,” glo Marais.

Hy ondersteun graag sulke projekte met borgskappe omdat hy weet die kunste, en dan ook spesifiek kunste vir mense met gestremdhede, nie maklik borgskappe kry nie.

’n Sanger met verstandelike gestremdhede, David Lombard, se ma is trots op haar seun se deelname aan die Ten Spyte Van-konsert op 19 Oktober. Liedjies wat hy gaan sing is “Any dream will do” uit Joseph & The Amazing Technicolor Dreamcoat, “What a wonderful world” van Louis Armstrong en dan saam met Peter Pollock: “You’ve got a friend in me” uit Toy Story.

Lombard se ma, Christa, sê David, voormalig ’n leerder by Nuwe Wending en nou by Via Nova, het ’n uitstekende geheue met akteurs en sangers se name en rolle sowel as watter rolle in watter fliek of teaterstuk hulle gespeel het. Hy is ’n inwoner van Ons Huis, ’n tuiste in Elarduspark vir volwasse individue met intellektuele en geestesgetremdhede.

“Hy het ’n groot trommel vol teaterprogramme. Hy maak ’n studie van die rolverdeling en weet waar wie in wat opgetree het. Dit is sy omgewing waar hy absoluut in uitblink,” sê Lombard.

Sy vertel haar seun is besonders vir haar omdat hy van kleins af passievol was oor veral die ou Disney- en musiekflieks. Hy het dit oor en oor gekyk en so op sy eie, gedeeltes daaruit gememoriseer wat hy tot vandag toe nog saam met die karakters woord-vir-woord kan saampraat, sing en toneel speel.

“Ek beskou dit as ’n unieke talent wat hy ontvang het ten spyte van sy tekortkominge en die feit dat hy nie kon skoolgaan in die hoofstroomskole nie en ook nie goed is met somme is nie. Hierdie foto-horende brein het hom ’n besondere mens gemaak. Sy kennis en onthou van hierdie vermaaklikheidsbedryf en sy mense is absoluut formidabel. Mens kan hom iets vra van 15 jaar terug – hy sal so ’n bietjie dink en dan vir jou die antwoord gee… ongelooflik en soms is dit regtig moeilike name en vanne!” vertel Christa trots.

Hy is oraloor geliefd deur baie teater akteurs/sangers en wat hulle altyd so verstom wanneer hy die klomp “ou” programme te voorskyn bring vir hul handtekening. Hulle sê altyd glimlaggend hul lewe flits voor hulle oë verby.

David tree op as sanger tydens die konsert op die 19 Oktober by die Pierneefteater tussen 10:00 tot 12:30 en sal saam met nog ’n inwoner van Ons Huis, Peter Pollock, ook ’n duet sing. Ons Huis het ook ’n vroulike sanger op die program, Li-Marie Roos.

Daphney Thwala

Nog ’n sanger wat optree is die blinde sanger, HW Helberg, op 17 Oktober om 18:00 na die verskeidenheidskonsert wat dieselfde aand deur YANA se verskeidenheidskonsert.

YANA is ’n nie-winsgewende Pretoria-welsynsorganisasie in die Moot en geregistreer by die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling as ’n tuiste en versorgingsorganissie vir persone wat met skisofrenie gediagnoseer is.

Nog sangers wat optree is Marileen Booysen wat begelei sal word deur Wikus Visser op die kitaar, sowel as blinde komponis Jody-Ann wat van haar eie komposisies sal speel op Saterdag, 19 Oktober vanaf 10:00 tot 12:30.

Jazz The Vocalist, ’n sanger wat serebraal gestrem is, tree ook dieselfde dag op.

Die digkuns bly ook nie ver weg nie en Daphney Thwala, ’n digteres en motiveringspreker met ’n fisiese gestremdheid, sal van haar gedigte voorlees. Thwala het reeds twee digbundels gepubliseer. Sy het in 2023 uittreksels uit haar jongste digbundel The Beauty of a Rare Blossom by die 2023 Ten Spyte Van-konsert voorgedra.

Daar sal ook inligting deurgegee word Saterdag deur Annemarie Ungerer van die Movement Disorder Support. Dis ’n organisasie sonder winsbejag wat hulp verskaf aan families wat geraak word deur Parkinson se siekte, Huntington se siekte asook ander bewegingsiektes.

Andrew Hofmeyr sal op dieselfde dag meer vertel oor die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede.

Uitstallings sal aangebied word deur lede van Vlooigoed, Huis YANA, Movement Disorder Support en Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan info@pierneefteater.co.za of Whatsapp 072 460 5568. Vrywillige skenkings vir die kunstenaars dien as toegangskaartjie.

– Kliek hier vir ’n voorlesing deur Thwala: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/04/06/daphney-twala-launches-second-anthology/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button