Posduif kry vlerke

Dis nie tipiese sokkietreffers nie want die groep Posduif het 'n eiesoortige klank, maar 'n gehoor kan nie anders as om op te spring en saam te beweeg op hierdie groep wat so goed harmoniseer en 'n opgewekte energie met hul musiek loslaat nie.

Die kragtige en ritmiese klanke van die alternatiewe popmusiekgroep, Posduif, trek ver oor die plein voor die Voortrekkermonument.

Die groep van vyf, wat liedjies skryf met positiewe boodskappe met sterk baslyne deur hul baskitaarspeler en ’n melankoliese blues klank deur saksofoonspeler, Malusi Masia, se optrede is deel van hul landswye toer om twee nuwe enkelsnitte vry te stel.

Die twee uiteenlopende snitte, die melankoliese en nostalgiese ‘Kaalvoetkinders’ en die tong-in-die-kies tergliedjie, ‘Voetfout’, se gelyktydige vrystelling is doelbewus so beplan.

“Onderskeidelik een vir trane in jou oë en die ander vir ’n glimlag om jou mond,” verduidelik hoofsanger, James Boland.

Lank en lenige Boland, sê hy is “ongelooflik dankbaar” vir die musikale reis wat die groep tot aan die voet van die trappe van die Voortrekkermonument gebring het vir ’n optrede saam met Pretoria-kunstenaars op die optredelys soos Shakira Peach en Matthew Charles.

Boland is die ware gentleman van Suid-Afrikaanse alternatiewe popmusiek met ’n goeie sin vir humor wat vir ’n onnutsige vonkel in sy oog sorg.

Posduif tydens hul optrede by die Voortrekkermonument einde September. Foto: Elize Parker

Posduif het in 2018 as groep weggespring toe Boland saam met die Engelse groep Rubber Duc begin optree het.

Die nuutsaamgestelde groep Posduif se liedjie ‘Brandy Special’ het gou op almal se speellyste beland op die stroomdienste en meer as 400 000 trefslae gekry.

Rubber Duc het toe bestaan uit Nick Jordaan, Brendan Campbell, Sheldon Sham en Amiel Gopal. Die groep is bekend vir hul jazzy folkmusiek.

Vandag bestaan Posduif uit kitaarspelers en sangers Boland en Jordaan, Gopal as baskitaarspeler, Campbell as vervaardiger en kitaarspeler, dromspeler Nick McCreadie en saksofoonspeler Malusi Masia.

Al die lede was in die duister oor Afrikaanse musiek toe hulle saam as groep weggespring het, maar in die afgelope ses jaar voel Boland het hulle die bedryf begin verstaan.

“Ons het in die begin nie eers Afrikaanse musiek geluister nie! Wat nog te sê om Afrikaanse lirieke te skryf!” lag Boland.

Na toekennings, soos deur Bokradio vir Groep van die Jaar en Liedjie van die Jaar, en die Suid-Afrikanse Musiek Vereniging se toekenning vir beste popalbum in 2022 vir Niks vergelyk, moes die bedryf saamstem: Posduif vlieg hoog.

Malusi Masia: Foto: Elize Parker

Maar aan hierdie groeplede is daar geen teken van arrogansie nie.

Inteendeel, daar is net die nederigheid van musikante wat ’n pad met mekaar en hul families stap en daarby, lekker saamkuier.

Almal goeie ‘vrinne’ soos Boland sê in sy Somerset-Wes Afrikaans.

Eintlik is hulle steeds verbaas oor die aand wat hul naam as wenners in 2022 by die Suid-Afrikaanse Musiek Vereniging se toekennignsaand uitgeroep was.

“Dit het gevoel of ons in ’n alternatiewe realiteit was. Daar was soveel ander groot name wat die aand die toekenning kon ontvang,” sê Boland.

Een van die “vrinne”-kuiers op ’n wildplaas in Rustenburg het juis aanleiding gegee tot die skryf van die September-vrystelling van die enkelsnit ‘Kaalvoet Kinders’ wat om die onskuld en eenvoud van kleintyd draai.

Boland het ’n fyn oor vir dialoog en het gou raakgehoor hoe die wildplaasbestuurder na sy kaalvoete verwys as sy “Liewe Jesus-skoene”.

Net daar is die liedjie ‘Kaalvoet Kinders’ gebore.

Boland en Jordaan skryf saam aan die groep se liedjies, en skryf ook liedjies vir ander groepe sowel as kunstenaars soos Eloff.

Hy herinner hom die eerste keer wat die groep as Posduif in ’n kroeg in Rustenburg voor ’n gehoor van meesal boere moes gaan speel het.

“Daar was eerlikwaar hooibale en tot ’n donkie in die bar! Dit was ’n goeie vuurdoop.”

Brendan Campbell. Foto: Elize Parker

Hy voorsien ’n besige 2025 na die huidige toer vir die groep aangesien daar reeds ses liedjies reglê om opgeneem en vrygestel te word.

As deel van hul huidige toer gaan die groep op 19 Oktober op Loftus saam met Kurt Darren optree in ’n vertoning met die naam Kaptein en Vriende. Hulle is ook die openingsgroep op die optredelys vir die Amerikaanse countrymusiek kunstenaar Kip Moore, op die DHL-stadium in Kaapstad op 26 en 27 Oktober.

Posduif het vroeër vanjaar ’n album met die titel Brandstigter geloods in Centurion.

Hierdie albumtitelliedjie delf in hoe ’n verliefde mens só aan die neus gelei kan word, dat hy bereid is om alle reëls te breek.

Die nege liedjies op die album wys die groep se toewyding aan hul bewonderaars, hul gesinne en hul liefde vir kampvure en deurnagdanse.

Posduif is ook as musikante tuis op die verhoog asof dit ’n tweede tuiste is en kry met hul energieke optrede gou ’n gehoor aan die dans.

“Ons wil mense gelukkig maak: Van die kinders tot by Ouma!” sê Boland.

– Kliek hier om na ‘Kaalvoet Kinders’ te luister:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version