Local newsNews

Vleisrokers: “Nou gaan ons rook!”

Die rook het getrek by die vleisrookkompetisie op die sportvelde van die Laerskool Pierneef want hier het die vleisrokers saamgetrek, elk met sy eie en dikwels selfgeboude vleisroker, een wat tot aan die agterkant van ‘n ou Dodge-bakkie gemonteer is.

Die Big George Custom Smokers-vleisrookkompetisie van die Suid-Afrikaanse Vuur, Rook en Vleisvereniging op 5 Oktober is deur die bekende TV-persoonlikheid van Pretoria en een van die ses finaliste van die Great SA Bake Off, Johan van Gass, gewen.

Van Gass, ’n inwoner van die Moot, was die algehele wenner nadat hy talle van die kategorieë soos die beesvleisberokings-kategorie gewen het.

In die tweede plek was die span van Centurion, die Rookeloos-span en in die derde plek JD Mieliepap Kok van Kemptonpark.

Jacques Engelbrecht, wat die dag namens die vereniging georganiseer het, sê die kompetisie het ’n veelvuldige doel gehad.

Jacques Engelbrecht van die Suid-Afrikaanse Vuur, Rook en Vleisvereniging by ‘n ou Dodge waarop ‘n vleisberoker gemonteer is. Foto: Elize Parker

“Om die vleisrokers en kultuur van vleisrook in Suid-Afrika ’n hupstootjie te gee, die hande van die Moot-projek te sterk en hulle te bedank vir hul ontwikkelingswerk in die Moot. Ook om entrepreneurs ’n verkoopdag te bied en die inwoners van ’n kinderhuis te laat deel in die vreugde van die dag,” vertel Engelbrecht.

Hy was in Augustus deel van die vereniging se vleisrookspan, die Crimson Kings, wat in Stuttgart, Duitsland aan die World BBQ Competition gaan deelneem het.

“Hierdie was nie sommer ’n tjops-en-worskompetisie deur ’n klomp naweekbraaiers nie. Daar was bekende sjefs en tot haute causine-inskrywings. Ons het 74% gekry en die wenners 87%, net 12% meer. Die kompetisie was taai!” sê Engelbrecht.

Die bekende komediant Matie van Graan, Jeremiah Bruni en sanger Leon Gropp was van die beoordelaars by die kompetisie op die sportvelde van die Laerskool Pierneef.

Bruni is verbonde aan die Amerikaanse Ambassade en is spesiaal deur die vereniging genooi om kundigheid uit te ruil.

“Dit is deel van ons oogmerke by die vereniging om ook meer internasionale blootstelling te kry. Ek het hom by ’n braaikompetisie raakgeloop en gedink ons kan baat by sy beoordeling,” sê Rautenbach.

Jeremiah Bruni (beoordelaar) en deelnemer Karina Nel Foto:Elize Parker

Van die vleisrokers was bereid om van hul bestanddele, geheime en metodes met lesers van Rekord te deel.

Alle voorbereiding moet op die terrein gedoen word aangesien die vleis eers die oggend van die kompetisie aan deelnemers gegee word. Vir hierdie kompetisie is bees-, hoender- en varkvleis aan die deelnemers verskaf.

Die wenner Johan van Gass, oftewel Pappa Joe soos hy bekend gestaan het op die TV-kompetisie en op TikTok waar hy talle aanhangers het, sê deel van die geheim van vleisrook in ’n berokingstoestel is om die vleis klam te hou.

Van Gass het self sy berokingstoestel gebou en dis algemeen bekend as Pappa Joe se eie Steam Punk-trein.

Om vleis klam te hou, het hy en sy wederhelf en regterhand by kompetisies, Annélia, ’n spesiale botteltjie om die vleis mee nat te spuit.

Daar mag soos op die Moot-kompetisiedag selfs ’n bietjie Bourbon in wees om die skale in sy guns te beklink.

Bourbon is ’n tipe Amerikaanse whiskey wat spesifiek gemaak word van ’n graanmengsel wat ten minste 51% graan bevat.

Met die kompetisie het Van Gass die Bourbon op sy varkvleis-inskrywing gebruik.

Soms gebruik hy ook appelasyn gemeng met onder meer esdoornstroop om die vleis nat te hou.

Carol Botha en Matie van Graan Foto: Elize Parker

“Daar moet altyd genoeg vog in die toe-oond wees,” glo Van Gass.

Die egpaar glo ook in hul eie spesiale spesery- en kruiemengsel wat gebraaide paprika bevat.

Annélia meen “die braai van die paprika in ’n pan voor jy hom toevoeg tot die mengsel, gee ’n meer spesiale smaak as gewone paprika”.

Die Van Gass-span is lief om veral wildsvleis te vuurrook asook kortrib en hoender, en dis veral wildfilette en beesstert wat hul spesialis-vuurrookdisse is.

As ’n geheim gee Johan weg dat hul soms ook ’n volle, geskilde pynappel by die vleis in die pan plaas en dan die pynappel in skywe sny en saam met die vleis aanbied.

Die Rookeloos-span van Centurion het tweede geëindig in die Big George Custom Smokers-vleisrookkompetisie: Karel van der Walt, Donovan McGhee, Thomas Snyman en Willem du Preez Foto: Elize Parker

As jy hom egter die kuns afvra van vleisrook, beklemtoon Johan die voorbereiding van die vleissnitte: “Die vleis moet netjies gesny word en die hoeke moet veral netjies rond wees want dit laat die vleis makliker en meer eweredig gaar word.”

Vir die Rookeloos-span van Willem du Preez van Centurion, wat die tweede plek ingeneem het, is daar volgens hom net een geheime bestanddeel wanneer dit by alle kosvoorbereiding kom: “Liefde!”

Hy vertel dat ’n spesiaal gemengde sous gemaak met Jimnysous en olyfolie en ’n paar ander bestanddele darem ook ’n bydrae gemaak het.

Die wenner in die derde plek, JD Hall van JD Mieliepap Kok van Kemptonpark se pa, Darrell, het ook kom handjie bysit.

Hulle het saamgewerk aan die aanmaak van Hall se spesiale sous wat heuning, suiker, tamatiesous en appelasyn bevat om die vleis mee klam te hou.

JD maak van jongs af al kos. Hy glo vir die vleisrookkompetisies moet die vleis gereeld met ’n kwassie geverf word om klam gehou te word.

– Volg Johan van Gass op TikTok: https://www.tiktok.com/discover/johan-van-gass-aka-pappa-joe

– Luister na Willem du Preez oor vleisrook:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button