Meer as ‘n tikkie nostalgie vir oudleerlinge by reünie

Altesaam 60 oudleerlinge van die 1974-matriekklas van die Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria het herinneringe en staaltjies gedeel tydens 'n besoek aan die rooibaksteengeboue van die skool.

Afrikaans Hoër Meisieskool se bistro Vincents het op 5 Oktober gegons met stories, anekdotes en herinneringe van ’n half dekade terug toe 60 oudleerlinge van die 1974-matriekklas bymekaar gekom het om hul 50ste reünie te vier.

Die vertrek was ’n see van modieuse blou uitrustings en dékor in die kleur van die skoolklere.

Oudleerlinge het moeite gedoen om van die buiteland soos Australië, Nederland en Engeland hul skoolmaats vanuit provinsies soos Wes-Kaap en KwaZulu-Natal en diegene wat steeds in Pretoria woon, te kom sien en herinneringe te deel.

Hulle het met breë glimlagte bekende gesigte herken en kon ou vriendskappe hernieu.

Om dit boonop vir almal makliker te maak, het die organiseerder en sameroeper vir die geskiedkundige dag, Brenda Johnston (néé Lotter), vir al die oudleerlinge naambalkies met hul nooiensvanne gemaak.

Vir Johnston was dit ’n groot voorreg om die oudleerlinge te verwelkom en na ’n middagete, op ’n toer van die terrein en die gange van die rooibaksteengeboue te neem nadat hulle kostelike staaltjies en anekdotes uitgeruil het.

Oudleerlinge het van heinde en verre gekom om die 50ste reunie van hul Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria 1974-matriekklas te vier soos Hettie Dellow wat van Kent in Engeland gekom het. Foto: Elize Parker
Catherine van Eeden en Reine Maan van Centurion Foto: Elize Parker

“As ek reg getel het, was ons 166 meisies in matriek. Hoe het die 50 jaar verby gevlieg! Dit voel of ons gister hier op die skoolbanke gesit het,” het Johnston die algemene gevoel onder die oudleerlinge uitgedruk.

Vir haar was die skool nie net “’n plek om te leer nie maar waar ons mekaar ondersteun het, digte vriendskappe gesmee het waarvan talle nog so sterk is soos toe ons op skool was en in baie gevalle sterker”, meen sy.

Marie du Preez van Pretoria-oos, Wena du Toit en Brenda Johnston Foto: Elize Parker
Foto’s van die matriekklasse van 50 jaar gelede was te siene op die reünie.

Die skool het talle mylpale in die 50 jaar gevier waarop van die oudleerlinge gewys het soos die honderdjarige bestaansvieringe in 2020 en die deurlopende 100%-slaagsyfer van matrieks.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version