Twee tienertoneelspelers van Pretoria wen nasionale pryse

Twee plaaslike belowende toneelspelers het met die louere weggestap by 'n nasionale toneelkompetisie waaraan meer as 3 000 tieners deelgeneem het. Drie Pretoria-skole was onder die tien finaliste wat produksies op die planke by die Kunstekaap in Kaapstad gebring het.

Twee Pretoria-tieners het met pryse weggestap by die ATKV-Toneelfinaal wat vanaf 23-28 September by Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind het.

Liza Stolz het as Priska in die produksie Kou my vingers tot die been van die Hoërskool Eldoraigne die toekenning ontvang vir die mees belowende spel in ’n rol.

Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is deur Alexia Retief as Zandria in die produksie Teddie et al. van die Hoërskool Zwartkop verwerf.

Die twee Pretoria-skole het saam met Hoërskool Garsfontein deel uitgemaak van die toptien finalis-skole wat deurgedring het tot die uitdunrondes.

’n Merkwaardige prestasie, aangesien meer as 3 000 tieners van regoor Suid-Afrika vanjaar in 187 produksies aan die 60ste ATKV-Tienertoneelfees deelgeneem het.

Alexia Retief van Hoërskool Zwartkop

Ná nege streeksfeeste oor die land heen het die toptien-produksies deelgeneem aan die nasionale finaal.

ATKV-woordvoerder Mercia Eksteen sê die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes het met VIR SPOT daarin geslaag om die beoordelaars met hul puik spel te oorrompel en is as die nasionale ATKV-Tienertoneelwenner aangewys.

Die Hoërskool Parel Vallei het ook die tweede plek behaal met die produksie 99 Luftballons.

Die Curro Durbanville Hoërskool met Mensdom is as die derdeplekwenner van ATKV-Tienertoneel 2024 aangewys.

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, het tydens die opening van die ATKV-Toneelfinaal beklemtoon dat “teater ’n onontbeerlike rol in die samelewing speel”.

Die beoordelaars Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, André Lötter, Liezl de Kock, Lindsey Cele, Solomon Cupido en Marlo Minnaar, was dit eens dat die top-16-produksies tydens die ATKV-Toneelfinaal kreatiewe en simbiotiese baanbrekerswerk is.

Hulle reken dat die toekoms van die teater met sulke talent en innovasie kerngesond is.

Meer as 920 tjokkers van regoor Suid-Afrika het ook vanjaar aan die aparte ATKV-Tjokkertoneelkompetisie deelgeneem en die topses-produksies is na die tweede nasionale finaal vir tjokkers genooi. Die beste produksie en wenner van R10 000, asook die ATKV Tjokkertoneeltrofee, is Laerskool De Hoop in Kaapstad.

 

– Kyk hier na die volledige prysuitdelingseremonie op 28 September:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version