Chaos onder Tshwane politieke partye heers steeds

Onsekerheid heers binne die partye op nasionale, provinsiale en munisipale vlak oor hoe die pad vorentoe in die Tshwane-leierskapposisies moet lyk. Partye hou samesprekings en beoog selfs om President Cyril Ramaphosa te betrek, maar geen helderheid is nog verkry nie.

Die DA eis dat Cilliers Brink in sy pos as burgemeester heraangestel word, terwyl die ANC beoog om dalk hul eie nominasie vir die pos te maak en so hul belofte aan ActionSA eenkant te skuif.

ActionSA sê indien die ANC nie voortgaan om hul nominasie, die waarnemende burgemeester Nasiphi Moya, te ondersteun nie, kan die ANC in die toekoms vergeet van hul steun in die Tshwane-raad.

Dit is die stand van sake in Pretoria die week nadat die voormalige burgemeester Cilliers Brink op 27 September uit sy pos onthef is by wyse van ’n mosie van wantroue, gelei deur die ANC en gesteun deur die EFF en ActionSA.

Op nasionale vlak het die vakante burgemeesters-amp in die hoofstad nou ook gevolge vir die Regering van Nasionale Eenheid (RNE)

Die DA se voorsitter van die federale raad, Helen Zille, het in ’n e-pos aan ANC-bestuur geëis dat Brink heraangestel word.

Haar ultimatum is: Herkies Cilliers Brink as Tshwane-burgemeester of die party sal onttrek aan onderhandelinge om drie ander metro’s te stabiliseer.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het op 1 Oktober aangekondig dat hy President Cyril Ramaphosa om ’n vergadering in die gees van samewerking van die RNE sal nader om ’n beslissing rondom die burgemeesterskap van Tshwane te bekom.

“Ons sal geen steen onaangeraak laat om Brink in sy pos te herstel nie,” het Steenhuisen in ’n verklaring gesê.

Op plaaslike vlak raak dit ook die gange in Tshwane-huis. Die stadsbestuurder, Johann Mettler, was genoodsaak op 30 September om ’n omsendbrief aan munisipale amptenare te stuur om hulle aan te spreek om nie minagtend teenoor Brink op te tree nie.

Hy het egter gesê dat dit ’n minderheid was.

Intussen is Brink besig met onderhandelings en bedank inwoners wat hul steun steeds in groot getalle aan hom toesê.

Een van sy se grootste teleurstellings rondom die verlies van sy pos is dat daar geen plan in plek van partye soos die ANC en ActionSA vooraf was oor hoe om voort te gaan om die inwoners van Tshwane te dien nie.

“Al wat hulle beoog het, was om my uit my pos te kry. Daar was en is steeds geen vooraf-aksieplan nie. Dis ’n resep vir ’n ramp vir Tshwane. Die partye baklei nou onder mekaar terwyl die stadsadministrasie moet voortgaan onder hierdie onbestendigheid. Dit is onverantwoordelik. Ons stad is broos genoeg op soveel gebiede sonder om nog met sulke onsekerheid voort te gaan.”

Brink glo ActionSA kan nie vertrou word nie. “Hulle oggend- en aandpraatjies stem nie ooreen nie. Boonop is hul leierskap onder Herman Mashaba nog nooit blootgestel aan ’n leierskapskonferensie nie. Enige nominasie van hulle kant vir burgemeester is net ’n marionet om hul besluite uit te voer.”

Voormalige Tshwane-burgemeester Cillers Brink
DA-leier John Steenhuisen

Hy beskou die EFF se uitlokkende gedrag tydens die vergadering op 27 September, wat hulle by die ANC en ActionSA geskaar het tydens die mosie van wantroue teen hom, as “die tipiese chaos vol rassistiese retoriek wat hulle so gewilliglik skep”.

Die ander teleurstelling wat Brink noem, is dat die huidige onbestendigheid die administrasie van die stad kan raak aangesien goeie munisipale aanstellings deur die veelpartykoalisie gemaak is wat dalk nou ongedaan gemaak kan word soos die van die stadsbestuurder.

Brink is ook bekommerd oor die feit dat sekere verslae nie tydens die vergadering oorweeg is nie aangesien die Speaker Mncedi Ndzwanana, volgens Brink sonder aankondiging die mosie van wantroue bo die oorweging van verslae op die agenda gestel het.

Die verslae se oorweging sou volgens die agenda alvorens die mosie plaasgevind het. Ander verslae was ook ter sprake soos ’n verdoemende verslag oor die brandweerafdeling en die metropolisie se opleidings-akademie.

“Onder die veelpartykoalisie was ons besig om die organisasiekultuur te verander en ons het reeds sekere verslae rondom beweerde korrupsie vir vervolgings en afdankings deurgevoer. Daar was ook soortgelyke verslae ter tafel gelê sowel as administratiewe verslae op 27 September wat nou nie oorweeg is nie,” wys Brink uit.

Hy is onverbiddelik oor wat die DA se rol in die opposisiebanke sal wees indien pogings nie slaag om ’n samewerkingsooreenkoms met die ANC te bereik oor die pad vorentoe vir die burgemeester en die burgemeesterskomitee nie.

“Ons sal nie toelaat dat gevestigde belange harder praat as ons inwoners se belange nie. Ons sal enige toekomstige regering in Tshwane verantwoordbaar hou en sal hulle op geen moontlike manier vryskeld of red nie. Veral met beweerde korrupsie, soos in die Edwin Sodi-geval, sal ons onversetlik met die opvolgproses wees,” verduidelik Brink.

George Matjila, ANC-sekretaris in Tshwane, sê dat die leierskap op nasionale vlak nog nie samesprekings gehou het om ’n aanbeveling vir ’n nominasie rondom die burgemeesterspos te maak nie.

Matjila beklemtoon dat die party met rolspelers sal vergader totdat hulle ’n besluit gemaak het.

Hy bevestig dat die provinsiale en nasionale leierskap wel ook, onder andere, oorweeg om ’n ANC-nominasie te maak, maar dat hierdie moontlikheid nog onder bespreking is.

Matjila beklemtoon die bestendigheid van Tshwane se dienslewering aan inwoners is vir die party die deurslaggewende faktor op die pad vorentoe.

ANC-sekretaris in Tshwane, George Matjila

Hy verwys na Zille se voorwaardes in ’n e-pos aan die ANC-leierskap dat Brink in sy pos herstel moet word.

“Zille se dreigemente sal nie werk nie,” meen Matjila.

Op sy beurt sê ActionSA dat indien die ANC sy eie kandidaat benoem vir die burgemeesterspos, sal hulle sonder ActionSA se steun in die raad moet klaarkom.

“Ons is bekommerd oor gerugte wat ons hoor maar ons wil nie deur die media onderhandelinge voer nie,” sê die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont.

Hy het sy steun weer aan die waarnemende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, onderskryf.

“Sy het sedert haar verkiesing as die adjunkburgemeester haarself as die beste kandidaat bewys. Die vordering wat die stad met die Hammanskraal-projek gemaak het, en vele ander, is direk toegeskryf aan haar projekbestuursvaardighede. Dr Moya se vermoëns word aangevul deur ’n rekord in etiese en eerlike leierskap.”

 

Nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont
Nasiphi Moya sal die burgemeester se pligte tydelik oorneem. Foto: Argief/ Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version