LifestyleLocal newsNews

Biltong en spogwyne lok fynproewers

'n Wye verskeidenheid wyne van veral kleiner en boetiek-wynplase was te koop op die Wyn en Wildsfees by die Voortrekkermonument, maar dit is ook die biltong waarvoor die feesgangers by bekende Pretoria-biltongmakers tou gestaan het.

By die Wyn- en Wildsfees by die Voortrekkermonument op 28 September het twee biltongmakers hul geheime gedeel en het Pretoria-oos se wynbotteliers meer vertel van hoe hulle vanaf Faerie-Glen vir een van die Kaap se spogwynplase vir uitvoerversnitwyne sorg.

Barend Scheepers van Pretoria-oos vertel dat hy nie sy geheime bestanddeel van sy biltongmarinade kan weggee nie, maar hy kan wel vertel dat hy bruinsuiker byvoeg.

“Maar die hoeveelhede gaan maar op gevoel,” lag Scheepers.

Hy glo die biltongstukke moet vir ’n goeie vyf tot sewe dae hang om droog te word.

Hy verkies om geelvetbiltong aan ware biltongliefhebbers te bied waarvan die beeste op natuurlike grasveld geloop het en nie in voerkrale gevoer is nie.

Sy voorkeurwildsvleis om biltong van te maak, is waterbokke uit Limpopo, gemsbokke uit die Noord-Kaap en eland, maar hy glo blouwildebeessnitte maak steeds vir hom die lekkerste biltong.

Theunie Erasmus, biltongmaker van Pretoria-oos en sy wederhelfte, Alta, glo in goeie speserye soos koljander in die biltongmaakproses. Erasmus is wel bereid om die gordyn te lig op sy geheime bestanddeel wat hy al tien jaar vir sy biltongmakery gebruik: Worcestersous!

“Ek laat dit so vier dae in die marinade met die Worcestersous week,” gee Erasmus nog ’n stap in sy proses weg.

Anneliese Breed en Christelle Boshoff van Pretoria-oos

Sy voorkeur is nogal om van buffelvleissnitte gebruik te maak.

Vir Sonia Rheeder het haar uittrede uit die wêreld van verkope en bemarking glad nie beteken sy moet nou in Faerie Glen gaan stilsit nie.

Sy het saam met haar man, André, ’n geleentheid aangegryp wat aan hulle deur die spogwynplaas naby Franschhoek in die Wes-Kaap, Haute Cabrière, aangebied is om versnitwyne van hulle keuse saam te stel.

Hulle moes die oes van sekere kultivars uitkies, die versnit daarvan bepaal en onder hul eie handelsmerk bottel.

So het die Rheeders vanuit Pretoria begin om spogwyn hul keuse en voorkeur uit te voer onder die naam Watsonia.

“Ons doel is om unieke wyne saam te stel en aan wynliefhebbers te bied wat hul wynlandgebied van oorsprong aantoon maar ook ons eie styl en persoonlikheid wys,” sê Sonia.

Tans bied hul versameling ’n rooi versnitwyn met Syrah en Pinot Noir as basis kultivars sowel as ’n wit versnitwyn wat ’n Chardonnay- en Pinot Noir-versnyding is.

Zelda, Ame en Manie Keyser van Pretoria-oos

Sonia vertel dat sy nog altyd ’n wynplaas wou besit, maar dat die opsie om wynbotteliers te wees, ’n makliker en goedkoper opsie is.

“Ons wyne is veral gewild in Nieu-Seeland,” vertel sy.

Ook op die program by die fees was twee Pretoria-kunstenaars wat die gehoor op hul voete gehad het, Shakira Peach en die Tukkie-student, Matthew Charles, sowel as die Wes-Kaaps gebaseerde Indie-orkes en SAMA-bekroonde orkes, Posduif.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button