Erfenisdag: Harte roep uit na inwoners se komvandaan

Inwoners van Eersterust wat die Afrikaanse Taalraad se Erfenisdagvieringe bygewoon het, stem saam: Dit maak saak waar jy vandaan kom.

Die Afrikaanse Taalraad, onder leiding van Merlyn van der Rheede, het Saterdag ’n suksesvolle Erfenisdagfunksie in Eersterust aangebied met die tema Jou komvandaan en die oordrag van jou erfenistaal aan jou nageslag.

Van der Rheede verduidelik die Taalraad se doel is om Afrikaans in ’n meertalige konteks te bevorder.

“Ons beveg nie die gebruik van ander tale nie, maar staan vir meertaligheid en moedertaalonderrig by skole,” verduidelik Van der Rheede.

Lede van die gehoor het met vrae deur Sue Pyler-Slabbert, bekende omroeper en TV-ster, vir mekaar vertel van die dorpe en plekke waar hulle gebore en getoë is asook waar hulle as volwassenes wortelgeskiet het.

Talle gehoorlede het hierby ook die geskiedenis ingesluit van hoe hul paadjie na Eersterust gelei het.

“Afrikaans is my borsmelktaal,” vertel digter Evelyn de Vries aan die begin van die gesprek.

Sy het ook ’n groep leerders van Eersterust, wat sy afrig as die Khangans-dansgroep, gelei in oorspronklike Nama- en rieldanse.

Vir De Vries is dit belangrik dat die dansers hul identiteit deur die danse en liedjies versterk en só seker maak hulle weet waar hul voorouers vandaan kom.

Hierdie oudverpleegster glo dit kan die dansers help om te weet waar hulle in die groter weefwerk van Eersterust as sprekers van Afrikaans inpas.

“Ek wil graag sien dat hulle weet om in te koop op die Nama-kultuur deur die waardes, musiek en danse te leer, maak jy ook seker jy weet wie jy is. Vir ons Namas beteken dit ook om waardes oor te dra wat kinders kan help om hul onskuld te bewaar in ’n groter stadsgebied,” verduidelik De Vries.

Nolan en Rechelle Leydts
Drie geslagte van die Septembers bymekaar vir Erfenisdag: Janine, Amore en Maria

De Vries, oorspronklik van Marydale in die Noord-Kaap, wys daarop dat die danse en riele wat die kinders kan aanleer, elk ’n eie storie vertel en so die kinders nader aan die waardes van hul ouers en grootouers se komvandaan kan bring.

“Elke riel en Nama-stap het ’n storie wat ons kan terugvat na die mooiheid van destyds,” glo De Vries.

Die internetsensasie, Mpumi Rakudu, wat met sy ATKV-redenaarskompetisie se wentoespraak oor hoekom hy lief is vir Afrikaans harte wêreldwyd gewen het, het dié einste toespraak met sy vriendelike glimlag gelewer.

“Afrikaans is nie vir my die taal van onderdrukking nie, maar ’n taal wat my bemagtig en vrymaak,” sê hierdie matriekleerling van Mamelodi.

Dr. Fiona Ferris verwys na die tyd toe sy grootgeword het in plekke soos Kimberley en Silverton, en altyd aan huis by haar ouma “koortjiemusiek” gehoor het.

“Vanoggend het ek weer met een van daardie liedjies op my lippe wakker geword: ‘Daar is môre in my hart’,” vertel Ferris.

Sy beklemtoon hoe sy op die Universiteit van Wes-Kaap tydens haar studies en navorsing oor die verband tussen taal en ras, Engels, gepraat het.

Sy het wel Afrikaans bly praat met haar vriende en familie.

Vandag heg sy groot waarde as akademikus aan Afrikaans. “Afrikaans is broodnoodsaaklik en kan die sprekers daarvan op talle gebiede bemagtig,” meen Ferris.

By wyse van Pyler-Slabbert se vrae het dit gou geblyk dat ’n groot gedeelte van die Eersterust-inwoners teenwoordig by die funksie se komvandaan, oftewel geboorte- en grootwordplekke, in die Noord-Kaap is.

Dorpe soos Keimoes, Upington, Port Nolloth, Soverby en Kuruman is ’n paar keer genoem asook die Oos-Kaapse dorp, Uitenhage (nou bekend as Kariega).

Pyler-Slabbert noem haarself “’n plaasmeisie van George wat stad toe gekom het”.

“In die begin in die radiowese is ek dikwels uitgekryt oor my uitspraak wat nie so standaard -Afrikaans is soos wat luisteraars soms sou wou hê nie,” vertel Pyler-Slabbert.

Die digter en gemeenskapskultuurleier, Evelyn de Vries (onder heel regs) en dansgroepleier Rebecca Minnaar (agter heel links) het met ‘n groep dansers van die Khangans-dansgroep van Eersterust, tradisionele Nama- en rieldanse gedoen tydens ‘n funksie van die Afrikaanse Taalraad.
Dennise Ferris en Maria Dada

Vir haar is een van Afrikaans se sterkpunte die feit dat ’n storie in Afrikaans heerlik met klankeffekte vertel kan word.

“Min storievertellers in ander tale gebruik soveel selfgemaakte byklanke soos mense wat op die storietrein in Afrikaans klim,” sê sy.

Vir pastoor Danie Matthys is die vraag dikwels: “Praat jy goeie Afrikaans of praat jy regte Afrikaans?”

“Mense wil jou soms op sterkte van die wyse waarop jy Afrikaans praat in ’n boks druk, maar elkeen van ons moet ons uitdruk op die manier wat die beste vir ons is. My asemhaal is in Afrikaans. Ek staan nie terug daarvoor nie, maar ek is ook nie onnodig konfronterend daaroor nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version