Local newsNews

Centurion-akteur gee nuwe gestalte aan gevestigde blyspelkarakter

'n Musiekblyspel gaan in Oktober 'n gevestigde karakter vir die eerste keer uitbeeld in die fopdosser-tradisie. Hiervoor moet Renier Kruger 'n gedaanteverwisseling ondergaan.

Akteur, sanger en teatergrimeerkunstenaar, Renier Kruger van Centurion, se eerlike en weerlose kant kom gou ter sprake toe hy oor die karakter gesels wat sy alter ego, Riri Rouge, op die verhoog geword het tydens vertonings.

“Ek wou met haar naam reeds iets van ’n Franse invloed inbring en so bietjie misterie,” vertel Kruger, ’n oudleerling van Hoërskool Waterkloof en Open Window Academy, waar hy filmkunde studeer het.

Hy is al langer as agt jaar in die vermaakbedryf en het landwyd getoer met vertonings soos Alles wat mal is waarin sy karakter Riri Rouge die hoofrol speel en gehore aan die lag gekry en gehou het met haar melodramatiese blik op die lewe.

Sy eerste geld het hy juis as komediant al op ’n jong ouderdom verdien.

“Ek het tydens vakansies by die Klerksdorp-dam altyd grappies teen betaling vertel. Darem nou nie sulke flou grappies soos die van my oupa en oom nie. Hulle soort humor was sulke grappies soos ‘Wat sê die haas vir die hoender?’,” lag Kruger.

Sy ma, Gerda, was nog altyd lief vir dramastukke en toneel, vertel Kruger. “Sy het my lief vir toneelspel gemaak,” verduidelik hy.

Hy het reeds tydens sy skooljare aan tienertoneelkompetisies deelgeneem, asook klarinet gespeel.

Hy het na skool by die Kohl Make-up Academy aangesluit om meer van teatergrimering te leer en ook mettertyd as lektor opgetree om studente meer te leer oor veral grimering vir rolle in die vermaaklikheidswêreld.

Sy eerste blootstelling aan opvoerings in die fopdosser (drag)-tradisie, was toe hy op 18-jarige ouderdom die karakter Genevieve la Coq by ’n teater in Clubview, Centurion gesien het.

Kruger sê om hierdie teatervorm waar ’n man die rol inneem van ’n uitspattige vrou vol satiriese humor met flambojante uitrustings, ’n pruik en swaar grimering en só ’n ander persona skep, is ’n kuns op sy eie.

“Genevieve is ’n ware diva en mentor vir vele van ons. Haar optrede die aand was verstommend,” sê hy opgewonde, steeds in vervoering oor hierdie vorm van vermaak.

Nou, op 26-jarige ouderdom, het Kruger al dikwels landwyd gereis om ook sy liefde uit te leef om so ’n soortgelyke rol te speel.

Met die skepping en vorming van Riri Rouge wou hy “’n tannie vir almal skep wat lewensraad uitdeel”.

Hy het met onvoorwaardelike liefde grootgeword, vertel Kruger. Dit help hom in die vermaaklikheidwêreld waar “alles nie glitz en glam is nie en die pruike dikwels waai”.

Alhoewel Kruger goed kan sing, vertolk hy liedjies deur voor te gee hy sing terwyl hy met musiek harmoniseer oftewel liriekmimiek (lipsync).

Renier Kruger is ook ‘n gekwalifiseerde teatergrimeringkunstenaar en het die grimeringsvoorkoms vir die karakters in die musiekblyspel, Cabaret, ontwerp.

In die satiriese vertoning, Alles wat mal is, tree hy saam met Bernard Buys op wat die rol van Betty Bangles inneem, en kamma-sing hy 13 liedjies.

Hy glo dat met enige vermaak is die kunstenaar se rol om die gehoor ’n oomblik van die wêreld te vergeet.

Toe hy deur die Scenario-college in Centurion genader is om klas in teatergrimering te gee, het Kruger nie kon dink hy sal juis deur hierdie werk weer so gou op die verhoog beland nie.

Hy het egter die geleentheid aangegryp om die rol van die seremoniemeester, Emcee, in die musiekblyspel, Cabaret, te speel toe die kollege en teater se bestuur dit aan hom aanbied.

Die speelvak van die blyspel begin op 4 Oktober by die Centurion-teater.

Cabaret is ’n Amerikaanse musiekblyspel met musiek deur John Kander, lirieke deur Fred Ebb, en teks deur Joe Masteroff. Die blyspel speel af in 1929 tot 1930 in Berlyn tydens die einde van die Jazz-era terwyl die Nazi’s aan bewind kom, en fokus op die naglewe by die vervalle Kit Kat Klub.

“Die teaterbestuur het my verras deur my net bloot te laat inkom asof ons iets moes bespreek en toe is die afspraak ’n oudisie. Gelukkig het ek en my ma reeds dikwels na Cabaret gekyk,” dink Kruger nostalgies terug na vroeër vanjaar.

Hy is toe boonop gevra om saam met die stel- en klereontwerper die grimering vir die vertoning uit te werk en die akteurs op te lei om dit reg aan te wend.

“Ons het besluit om die styl en stemming outentiek aan die tyd rondom die Tweede Wêreldoorlog te maak,” verduidelik Kruger.

Om die karakter Emcee te vertolk in Cabaret pas Kruger perfek.

“Die karakter is nonchalant, eksentriek en flambojant. Groter as die lewe,” vertel Kruger.

Hy het ’n deeglike studie gemaak van diegene wat al die rol van Emcee vertolk het. Dit sal egter die eerste keer wees wat iemand die rol in die fopdossertradisie aanbied.

“Om sulke vermaak na die verhoog te bring, raak ook jou lewe aan.

“Ek kan nogals soms voel dat ek nie inpas in sekere omstandighede nie en dan simpel goed kwytraak. Om ’n karakter te vertolk wat direk die teenoorgestelde van my eie persoonlikheid is, het my geleer hoe om my in enige situasie te gedra en te laat geld,” glo hy.

In die wêreld van soortgelyke karakters soos Kruger se Riri Rouge-persona, is die verwerwing van titels op skoonheids- en persoonlikheidskompetisies belangrik.

“Om ’n drag queen te wees verg veel dissipline en die nakoming van sekere vereistes voor jy op die verhoog verskyn. Jy kan slegs optree in opvoerings indien jy titels van sulke skoonheidskompetisies agter jou naam het,” skets hy die prentjie.

Renier Kruger

Kruger het in 2017 sy eerste titel in só ’n kompetisie losgeslaan.

Vir hom is natuurlike leierskap een van die karakters waaraan kunstenaars moet voldoen indien hulle in die fopdossertradisie wil optree.

“Hierdie rolle wat ons aanneem vir die verhoog is ’n passie. Jy moenie sulke rolle aanpak net om vinnig geld te maak nie. Jy moet geesdrif vir die projekte rondom jou karakter hê om dit volhoubaar te maak.”

Cabaret is van 4 tot 12 Oktober op die planke en die gehoorarea van die Centurion Teater sal omskep word in die berugte Kit Kat Klub.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button