Klassieke mikromotors eersdaags uitgestal

Sonderlinge mikromotors kan eersdaags by 'n uitstalling in Silverton beskou word waartydens lugverkoelde motors ten toon gestel sal word.

Van Suid-Afrika se skaarsste mikromotors sal binnekort in Silverton deel wees van die gewilde jaarlikse motorskou vir lugverkoelde motors.

Die Mikromotorklub van Suid-Afrika is die “eregas” vir die dag en vier terselfdertyd sy 35ste bestaansjaar, volgens mikromotor-eienaar Pedro Diederichs.

Motorliefhebbers en belangstellendes kry op Sondag, 6 Oktober die geleentheid om weer terug te tree in die verlede en van hierdie motortjies eerstehands te beleef.

Diederichs vertel dat meer as 70 jaar gelede moes verarmde Europeërs ná die Tweede Wêreldoorlog planne maak om met goedkoop vervoer oor die weg te kom.

“Dit was toe dat ’n era aangebreek het waar bromponies en mikromotors ’n alledaagse gesig in stede, dorpe en op die platteland geword het. Dit was veral in Duitsland, Frankryk en Italië waar die aardigste rygoed hul verskyning gemaak het soos voertuie met goedkoop, eenvoudige klein lugverkoelde enjins, lig op brandstof en met innoverende ontwerpe, selfs met net drie wiele.”

Buite Olifantskamp in die Krugerwildtuin staan ’n Goggomobil, Isetta en Messerschmitt.

Hy verwys na name wat die ouer garde sal onthou.

“Messerschmitt, BMW Isetta, Goggomobil, NSU Prinz, Fiat, Auto-Bianchi, Lloyd, Heinkel, Vespa en Citroen 2CV is handelsmerke wat mense dalk ken. Min mense kan glo dat die nederige BMW Isetta-mikromotor die eens sukkelende BMW-fabriek letterlik van bankrotskap gered het.”

Pretwaarde, nostalgie, skaarsheid, vreemdheid sowel as die geldwaarde daaraan verbonde, is van die redes hoekom versamelaars volgens Diederichs in die motortjies belangstel.

Hy wys daarop dat vandag verkoop verskillende mikromotorfabrikate vanaf R100 000 tot R2-miljoen plus, afhangende van hul toestand. Messerschmitts en Isettas is die gewildste.

Vanaf die 1950’s tot diep in die 1960’s is verskillende fabrikate in veral Europa ontwikkel en gebou en het daar tot ’n uitvoermark wêreldwyd sou ontstaan, verduidelik Diederichs.

Ook Suid-Afrika het in hierdie tydperk mikromotors (motortjies met enjins kleiner as 700cc) ingevoer waarvan vandag slegs ’n paar honderd as versamelmotors oorleef het.

“Die skaarsste is waarskynlik die ‘heilige graal’ van mikromotors, die Messerschmitt Tiger. Hierdie voertuig is ’n 500cc met vier, pleks van drie wiele, ’n vliegtuigagtige kajuit en ’n topspoed van 120km/uur.”

Só ’n voertuig is meer as R2-miljoen werd in markte oorsee en dit is waarskynlik die rede hoekom net een in Suid-Afrika oorgebly het.

Wanneer dit by die nasien en diens van sulke motors kom, vertel Diederichs klublede onderneem die take self en vra wenke en onderdele via oorsese klubs aan.

Diederichs is self ’n jare lange klublid van die Mikromotorklub van Suid-Afrika met sy Goggomobil sedan van 1958.

Benoude oomblikke naby Satara in die Krugerwildtuin toe een van die Isettas tydens ’n Mikromotorklub-uitstappie skielik gevrek het as gevolg van ’n pap battery.

Hy glo die klub kan al 35 jaar bestaan as gevolg van lede se passie vir bewaring, uitstappies en ’n aanvoeling vir goeie beleggings.

Wat vir hom uitstaan van die klub se bedrywighede is die gebruik om elke vyf jaar spesiale herdenkings te reël en so is besoeke al aan onder meer aan die Nasionale Krugerwildtuin, Dullstroom en selfs Kaapstad gebring.

Die Krugerwildtuin het interessante “ontmoetings” tussen wilde diere en die motortjies opgelewer, terwyl gewone toeriste hul meer vergaap het aan die rare motortjies as aan die wildlewe.

“Een so ’n ‘ontmoeting’ was toe ’n bulolifant ’n gestrande Isetta met ’n pap battery naby Satara van nader gaan bekyk het. Gelukkig het die klub se erepresident, Lothar Frohlich (intussen oorlede) nie uitgespring om te probeer wegkom nie en die olifant het belangstelling verloor en weggestap,” vertel Diederichs.

Ander lugverkoelde motors soos Volkswagen-kewers en kombi’s, Karmann Ghias, Citroens, Corvairs en selfs Ferarri’s, sal te siene wees by die skou wat gevind kan word by die Pretoria Oumotorklub, Keuning Straat, Silverton, Pretoria. .
Toegang is R30 per persoon en gratis vir kinders.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version