Aitsa-toekennings: ‘n Viering van musiek en Afrikaanse skeppingsvernuf

Van 'n sewejarige se geesdriftige danspassies tot die gewyde sang van die Vox Chamber Koor - die Aitsa-toekennings van 2024 was voorwaar 'n musiekfees en 'n viering vir Afrikaans as taal!

Die Aitsa-toekennings van Pretoria FM op 18 September was ’n aand van sterre in glansrokke en kunstenaars wat aangedaan raak by die ontvangs van hul toekennings.

Daar is ook eer en hulde gebring aan ’n legendariese sanger by wyse van ’n medley van haar liedjies. Laurika Rauch het ’n lewenslange toekenning ontvang van die Aitsa Trust.

“Wat ’n pragtige aandenking! Die vreugde van hierdie vertolkings vanaand sal my lank bybly. Die kunstenaars en almal se aanbiedings was ongelooflik. Ek aanvaar en ontvang graag die toekenning met dankbaarheid.

Ek wil graag liedjieskrywers en die gehoor uitsonder vir hul ondersteuning. Sonder die liedjieskrywers het ons nie musiek nie. Ek wil in besonder vir my man, Christopher Torr, bedank wat sovele liedjies vir my geskryf het,” het Rauch gesê.

Hulde is by wyse van ’n multimedia-aanbieding aan die sanger Jan Bloukaas (Jean du Plessis) gebring wat tans ’n stryd teen breinkanker voer.

Vir Willie Spies, voorsitter van Pretoria FM, was die aand ’n viering van beide die vyfde verjaarsdag van die toekennings sowel as die radiostasie, Pretoria FM, se 31ste verjaarsdag.

“Die inskrywings was ’n rekord hoeveelheid. Die kaartjieverkope en die borgskappe was ook ’n rekord. Ons wenners is welverdiende wenners en die finaliste was almal puik, wat vir sterk mededinging van ’n hoë standaard gesorg het. Ons sien uit na Aitsas 2025.”

Vanjaar se Aitsas het 591 inskrywings opgelewer.

Slegs musieksnitte wat vanaf 1 April 2023 tot 31 Maart 2024 uitgereik is, kon vir vanjaar se toekenningsgeleentheid in aanmerking kom.

Beoordeling van al die snitte is deur ’n paneel onafhanklike deskundiges gedoen.

Die gehoor is vermaak deur die skreeusnaakse aktrise, Marion Holm as seremoniemeester, en optredes deur onder andere Spoegwolf, Elandré en Demi Lee Moore het vir verdere opwinding gesorg.

 

Elandré was die een van talle kunstenaars by die Aitsa-toekennings wat dawerende applous ontvang het. Foto: Elize Parker
Abel Knobel het ‘n lied vertolk uit die musiekblyspel, Die Kaplyn, wat handel oor die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s.

Moore het twee toekennings gekry asook ’n Aitsa gedeel met ’n produksiespan van die video van haar treffer, “Hart Breek”.

Sy het die gehoor vermaak met ’n staaltjie oor haar man, musikant Barthlo Visagie, wat volgens haar “geen ritme het nie. As ons dans, lyk dit of ons ’n yskas skuif. Maar dit pla ons nie. Soms moet jy net nie omgee om jou bolla los te maak en jou biscuit te skud nie,” het sy geskerts.

Gewilde sanger, Juanita du Plessis het vanjaar haar eerste Aitsa ontvang vir die Afrikaanse treffer “Liewe Jinne” in die kategorie Liedjie van die Jaar.

Hierdie prestasie het Du Plessis aangedaan gelaat voor die mikrofoon. Sy het haar span sowel as haar kinders en man, Doepie, bedank vir hul toewyding.

Die hartebreker van die aand was die internetster van Mpumalanga, Klein Kwagga (Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen), Hy het op die jong ouderdom van sewe in ’n dansvideo op die maat van Bernice West se liedjie “Lyfie” beroemd geword. Die video is binne ’n week minstens 17 miljoen keer gekyk. Saam met die knapiegroep (boy band) Jan Jan Jan het hy die gehoor aan die skater gehad met sy geesdriftige danspassies.

Dansers het die gehoor op verskeie van die wenliedjies se musiek vermaak.

Die wenners is soos volg:

Klassieke snit van die jaar – Franco Prinsloo en die Vox Chamber Choir, met “Deurgrond”
Nuweling van die jaar – Die Piesangskille
Instrumentale snit van die jaar – Jacques Rautenbach, met “Neverending”
Kletsrymliedjie van die jaar – Biggy, met “Janneman”
Alternatiewe of Rockliedjie van die jaar – Barto, met “Vlam in die wind”
Ballade van die jaar – Juan Boucher en Tasché, met “Suid”
Boeremusieksnit van die jaar – Vatvas Dansorkes, met “Rudie se tokkel”
Geestelike liedjie van die jaar – Joshua na die Reën met die Universiteit van Pretoria Camerata, met “Die Groot Gees van Hemel en Aarde”
Vervaardiger van die jaar – Dee Graaff Productions en Paulo Azevedo, met “Wat nou?” van Riana Nel
Liedjieskrywer van die jaar – Elvis Blue, met “Die Langpad gee nie om nie”
Musiekvideo van die jaar – Johan C. Venter, Eric T. Graham, Tehan Buys, met “Hart Breek” van Demi Lee Moore
Kontemporêre liedjie van die jaar – Riaan Benade, met “Stoom”
Album van die jaar – Appel, met Wille Ding
Popliedjie van die jaar – Demi Lee Moore, met “Hart Breek”
Afrikaanse liedjie van die jaar – Juanita du Plessis, met “Liewe Jinne”
Meeste stromings: Groep/Duo – Bernice West en Bok van Blerk, met “Die Afrikaner maak so”
Meeste stromings: Vroulik – Demi Lee Moore, met “Hart Breek”
Meeste stromings: Manlik – Eloff, met “Vlerke”
My kunstenaar: Volgens publieke stemme is die wenner Jennifer Zamudio

Die oorhandigings is onder andere deur die BRAVO! aanbieders, Ewan Strydom, en Marciel Hopkins asook die sportkommentators Hennie Koortzen, Victor Matfield en die glansegpaar, Donnalee Roberts en Ivan Botha gedoen.

– Kliek hier om te sien hoe die Vox Chamber-koor ’n medley van Laurika Rauch-liedjies sing:

 

– Kliek hier om na Zaan Sonnekus te luister:

 

– Kliek hier om na Marion Holm te luister:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version