Vanjaar se LIG-konsert gee hoop

Die kersie op die koek was ’n halfmiljoen rand se skenking om Afrikaanse studente se studiedrome waar te maak.

Vanjaar se LIG-konsert wat op 19 September plaasgevind het, het soos in die verlede, talle hoogtepunte opgelewer.

Nie net het Prop en Sonja Herholdt die gehoor met hul musiek vermaak nie, maar Simoné Kruger, wat by die Paralimpiese Spele goud ontvang het, is met ’n Mathys Roets-toekenning vereer.

Die kersie op die koek was ’n halfmiljoen rand se skenking om Afrikaanse studente se studiedrome waar te maak.

“Ek kan dit net beskryf as spesiaal, kosbaar en besonders. Die boodskap vir my is dat jy moet waardeer wat jy het; niks is vanselfsprekend nie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Die LIG-konsert is in die AfriForum-teater in Pretoria gehou. Kunstenaars soos Prop, Ruan Josh en Heroldt het by die konsert opgetree en hul musiek en inspirasie met die gemeenskap gedeel.

Prop (links) en Mathys Roets (regs) met Willem Minaar.

Dit is ’n jaarlikse viering van mense met gestremdhede se deursettingvermoë.

Solidariteit Helpende Hand en AfriSkuld het hul kragte saamgesnoer vir hierdie jaar se konsert.

Dié konsert, wat vanjaar vir die vierde keer aangebied is, het sy oorsprong in 2021 gehad as die SING, HOOP, en WEERKLINK-konsert, maar het later van naam verander en staan sedertdien bekend as die LIG-konsert. LIG staan vir “Liefde in Gestremdheid”.

Chris Coetzee, stigter en uitvoerende hoof van AfriSkuld, het die organisasie se toewyding aan jongmense uitgelig en R500 000 geskenk vir voornemende studente om te kan studeer.

 

“AfriSkuld wil hoop en geleenthede vir alle Afrikaners skep, veral vir jongmense wat dikwels finansieel kwesbaar is. Ons glo sterk dat hierdie jongmense die kans verdien om te studeer, aangesien dit nie net hul lewensgehalte noemenswaardig kan verbeter nie, maar ook werksgeleenthede vir hulle kan skep,” sê Coetzee.

Die tema van vanjaar se konsert was “Die lewe skuld jou niks. As ek kan, kan jy ook”. Met dié tema wou Helpende Hand die boodskap oordra dat niemand moet voel hul gestremdhede beperk hulle nie. Hierdie spesiale geleentheid was ’n platform vir die gemeenskap om saam te staan en mense met gestremdhede te ondersteun.

AfriSkuld het vanjaar opgetree as die naamborg van die LIG-konsert en was daartoe verbind om ’n reuseverskil te maak in die lewens van mense met gestremdhede.

René Roux, hoof van media by Solidariteit Helpende Hand, sê: “Mense met gestremdhede en ’n aangepaste leefstyl bly ’n inspirasie vir ons. Oor die wêreld heen sien ons hoe hulle elke dag aanhou en ’n sterker gemeenskap bou.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version