Local newsNews

Veelpartykoalisie bespreek opsies vorentoe

Verskeie scenario's vir die gesonde bestuur van die stadsraad vorentoe is by 'n vergadering van die Pretoria Sakekamer bespreek.

Daar is verskeie moontlikhede van hoe Tshwane vorentoe kan gaan na die raadsvergadering van 26 September.

’n Mosie van wantroue is reeds deur die ANC ingedien om burgemeester Cilliers Brink uit sy pos te verwyder en ’n nuwe stadsregering vir die hoofstad aan die bewind te stel.

Twee van die koalisievennote, die Vryheidsfront Plus (VF+) en die DA, het moontlike scenario’s aan sakemanne voorgehou vir die stad se toekoms nadat die leier van die voormalige Tshwane-koalisievennoot ActionSA die koalisie op 15 September onttrek het.

“Ons sal nou die beste van die slegte opsies moet volg aangesien opsie nommer een, om die koalisie staande te hou, nie meer bestaan na ActionSA onttrek het nie,” sê Brink.

“Ons sal nou oopkop na al die opsies moet kyk.”

Tiaan Ebersohn en prof. Koos Malan

Die scenario’s wat gevolg kan word, is tydens ’n vergadering van die Pretoria Sakekamer bespreek en ’n opname is vir die Sakekamer se TV-kanaal daarvan gemaak.

Brink sê een van hierdie opsies behels die moontlikheid van om ’n regering van plaaslike eenheid te vorm deur met die ANC ’n samewerkingsooreenkoms te sluit waardeur beide partye hul identiteit behou en nie voorstelle van mekaar in die raad teenstaan nie.

Só ’n moontlikheid is op die tafel volgens Brink met die DA se nasionale leierskap wat die ANC genader het om ’n stabiliteitsooreenkoms te sluit en die mosie van wantroue terug te trek.

’n Verdere gedagte is om dieselfde struktuur plaaslik as op nasionale vlak in Tshwane in werking te stel waar die ANC, DA, en kleiner partye soos COPE, GOOD en die IFP sowel as die ACDP ’n meerderheidsregering in stand hou.

Nog ’n moontlikheid vir Brink is dat die koalisiepartye vir die volgende 17 maande tot die 2026 munisipale verkiesing die opposisie in die stadsraad inneem en so moontlik besluite van ’n ANC, ActionSA en EFF-stadsregeringskoalisie teëwerk.

“Dit gee ons die moontlikheid om slegte besluite en die EFF se toksiese invloed te verhoed en die skip weer om te draai en ’n meerderheid in die verkiesing te behaal,” meen Brink. “Ons kan ’n groter stemblok vorm met dieselfde waardes.”

Hy wys op struwelinge en wrywing tussen die ANC en EFF ook in die Johannesburg-stadsraad wat wel dalk “die pad vir die DA-geleide koalisie in Tshwane kan oopmaak om dalk om die tafel met die ANC kan sit om ’n samewerkingsooreenkoms te kan beding.”

Volgens hom het die ANC en ActionSA die EFF in Tshwane nodig om vorentoe te kan gaan.

’n Getal van 108 stemme is in die stadsraad nodig om enige besluit deurgevoer te kry.

Tans het die DA 69 raadslede, die VF+ 17, die ANC 75, ActionSA 19 en kleiner partye soos COPE, Good en die IFP elkeen een raadslid met die ACDP wat twee raadslede het.

Brink glo woelinge op nasionale vlak na die nasionale verkiesing in Mei het veel te make met die onsekerheid wat nou na die stadsraad oorgespoel het.

Hy kom tot die slotsom dat ActionSA se swak vertoning in die verkiesing die party genoop het om pogings aan te wend om weer relevant te word vir kiesers.

Riaan Grobler en Carly Esterhuisen

Brink glo die optrede van ActionSA se leiers moet in hierdie lig gesien word.

Persoonlikheidsverskille tussen leiers van ActionSA en die DA op nasionale vlak het volgens hom ook ’n invloed op die vertrouensbreuk tussen die veelpartykoalisie en ActionSA.

Plaaslik, meen Brink, dat die skroewe wat die DA-geleide koalisie stywer gedraai het rondom tenders soos met vullisverwydering en die oopkrap van korrupsie ook redes kan wees vir die wrewel van sommige ander partye teenoor die huidige veelpartykoalisie.

Volgens Brink kan ’n minderheidsregering in Tshwane nie werk nie want om belangrike besluite rondom sake soos die goedkeuring van begrotings goedgekeur te kry, is ’n meerderheid van stemme nodig.

“Dis belangrik vir ons as koalisie om met iemand te kan saamwerk sodat funksionaliteit van die stad soos met dienslewering kan voortleef anders kom die stad tot ’n stilstand,” glo Brink.

Johan Smith, Ninette van Graan en Rentia Kruyshaar

Hy benadruk dat die slegste scenario vir Tshwane die opsie is waar die ANC, ActionSA en EFF-koalisie saamspan.

“Dit moet ten alle koste vermy word. Ons sal wel die opposisiebanke inneem as ons moet beskerm wat tot op hede bereik is, maar dan is daar veel minder uitvoerende mag om ’n beleid te maak,” benadruk Brink.

Die leier van die VF+ in die stadsraad, Grandi Theunissen, wys op bespiegelinge dat die ANC ook bekommerd is om saam met ActionSA en EFF in ’n koalisie in Tshwane saam te werk.

Hy wys op die feit dat met so ’n koalisie van die ANC en die EFF in die Ekurhuleni-metro, die burgemeesterkomitee ’n lid van die EFF verantwoordelik vir finansies afgedank het as gevolg van beweerde swak prestasie.

Vir Theunissen is daar hoop in die feit dat sou ’n koalisie met die ANC, ActionSA en EFF wel die Tshwane-stadsraad oorneem, nuwe wetgewing die stadsraad ten goede gedwing het om die sewe-belangrikste aanstelling in die administrasie en bestuur van Tshwane, permanent te maak.

Net die stadsbestuurder, Johann Mettler, is op ’n dienskontrak van vyf jaar waarvan min of meer twee reeds verby is. Die gevaar bestaan egter dat ’n nuwe stadsregering pogings kan aanwend om hom van sy pos te onthef.

“Sulke dreigemente is onlangs deur lede van die ANC en EFF in ’n raadsvergadering gemaak om van die stadsbestuurder ontslae te raak,” sê Theunissen.

“Goeie bestuur deur bekwame amptenare is deel van die nalatenskap van 18 maande se bouwerk. Hoekom sal ons dit nou wil vernietig?” vra Theunissen.

Bennie Ferreira en Moira Klopper

Fergus Ferguson van die Pretoria Sakekamer het ’n beroep gedoen op sakelui om steeds aan te dring op ’n stadsraad wat behoorlik op goeie bestuursbeginsels werk en om aan te dring op goeie, volhoubare dienslewering.

“Ons moet diegene ondersteun wat dieselfde waardes as ons onderskryf in terme van hoe om met integriteit hierdie stad te bestuur. Met elke korrupte en omkooptransaksie op enige regeringsvlak verloor elke sakeman in Pretoria,” glo Ferguson.

“Belastingbetalers en sakelui trek geen voordeel uit mense wat op die stadsraad dien wat net daar vir persoonlike gewin is nie.”

Die politieke analis, Theuns Eloff, het ook aan sakelui ’n boodskap gebring en daarop gewys dat hy meen dat indien die DA en ANC op nasionale vlak gesprek kan voer oor stabiliteit in die metro’s soos Tshwane, dit vrug kan dra.

“Dit kan lei tot dieselfde model van ’n regering van plaaslike eenheid wat kan keer dat partye soos die EFF onverantwoordelike besluite kan deurvoer,” verduidelik Eloff.

Hy glo ook dat wetgewing in Suid-Afrika verander moet word sodat toekomstige koalisies op plaaslike vlak in hul ooreenkomste ’n klousule bevat wat hulle tot meer stabiele en volhoubare koalisievennote verbind.

– Kliek hier om ’n video van die gesprek van die Pretoria Sakekamer te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button