Local newsNews

Waterbeperkings om ineenstorting te verhoed

Vlak 1 waterbeperkings geld tot en met Maart 2025 om ’n waterkrisis te vermy.

Alle munisipaliteite in Gauteng, insluitend Tshwane, is onder Vlak 1 waterbeperkings geplaas weens erge druk op watertoevoer.

Inwoners sal aan beperkings moet voldoen soos om nie jou tuin tussen 18:00 to 20:00 te besproei nie. Ander beperkings sluit in om nie jou oprit met ’n watertuinslang skoon te spuit nie, terwyl karwasbesighede gereguleer word en storte tot drie minute beperk word.

Munisipaliteite word gewaarsku om hoë waterverbruik te verminder of om met droë krane opgeskeep te sit.

Die beperkings word toegeskryf aan die erge waternood wat Rand Water in die gesig staar en ’n poging om ’n waterkrisis te voorkom wat Gauteng in nood kan dompel.

Die waterdiens het tydens ’n imbizo-vergadering op Vrydag, 13 September onthul dat dit onder erge druk verkeer weens hoë waterverbruik deur die groeiende bevolking asook ander faktore soos swak waterbestuur.

Die imbizo is gedoen in samewerking met die Gautengse provinsiale regering, raadslede van verskeie munisipaliteite en die Departement van Water en Sanitasie.

Rand Water se uitvoerende groepshoof Sipho Mosai sê om ’n waterkrisis en die ineenstorting van die sisteem te vermy, moet munisipaliteite saamwerk om te verseker dat beperkings voldoen word.

Mosai het onthul dat Tshwane konsekwent hul skuldig maak aan hoë-verbruik en dat dit hul waterverbruik moet sny.

Hy voeg by dat Rand Water onder finansiële druk verkeer weens munisipaliteite wat dit meer as R5-miljard skuld.

“Gauteng se munisipaliteite neem gemiddeld tot en met 89 dae om hul waterdiensfakture te vereffen en dit is as gevolg van onderprestasie en nie-prestasie munisipaliteite se versuim om hul lopende rekeninge betyds te betaal.”

Mosai sê die vlak 1-waterbeperkings en ’n opskorting om openbare fasiliteite te besproei moet toegepas word tot en met Maart 2025.

Hy het verder onthul dat onwettige waterverbindings in informele nedersettings en wanbetalende inwoners ook bydra tot die watertekorte in ’n provinsie wat reeds deur waterskaarste geraak word.

“Ek dring aan dat munisipaliteite beslissend optree in die belang van volhoubaarheid en die wet toe te pas deur onwettige waterverbindings te ontkoppel.”

Hy doen ook ’n beroep aan munisipaliteite om met individue af te reken wat hulself skuldig maak aan vandalisme van waterinfrastruktuur aangesien dit die situasie vererger.

He het bekendgemaak dat gedurende die lae waterverbruiktydperk in winter, het Tshwane steeds hoë verbruiksgetalle gehad.

Mosai doen ’n beroep op gemeenskappe om saam met die waterverskaffer te werk om onwettige verbindings te verwyder.

“Gemeenskappe dreig Rand Water-personeel wat areas wil betree om onwettige verbindings te verwyder en dat sommige areas slegs toeganklik is as hul vergesel word deur ’n sekuriteitsvoertuig.”

Hy sê inbreuk op Rand Water se diensplig verhinder normale bedrywighede en vertraagde projekte.

Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die Tshwane watertoevoer is tans stabiel.

“Die verergerende faktore is onwettige verbindings en waterlekkasies op die verspreidingstelsel.”

Mashigo sê die stad het begin om pype te vervang en om drukbestuur, opvoeding- en bewusmakingsprogramme as instrumente vir waterbesparing en vraagbestuur toe te pas.

Hy sê openbare opvoeding en bewusmakingsveldtogte sal deur die stad se waterbesparingsbeamptes gedoen word.

Raadslid vir Wyk 101 Malcolm de Klerk maan inwoners om waterwys te wees om watervoorsiening vir almal te verseker.

Adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo Foto: Facebook/Gauteng Provinsiale regering

De Klerk sê onwettige verbindings in sy wyk word aangespreek.

Raadslid vir Wyk 82 Siobhan Muller sê sy sal met die metro saamwerk om te verseker dat alle inwoners in haar wyk aan die beperkings voldoen en water bespaar.

“Die enigste oplossing nou is om seker te maak dat inwoners water bespaar, dat lekkasies gerapporteer en aan gewerk word om watervermorsing te verminder.”

Muller sê indien water bespaar en verbruik verminder word, kan die stad droë krane vermy.

Die water en sanitasie adjunkminister David Mahlobo waarsku dat verwaarlosing van waterinfrastruktuur en watervoorsieningbestuur nie net vordering belemmer nie, maar ook ’n ernstige watersekerheidsbedreiging vir die provinsie inhou.

Die adjunkminister lig uit dat Gauteng voortdurende uitdagings met watervoorsiening in die gesig gestaar as gevolg van verhoogde watervraag.

“Wat kommerwekkend is, is dat geen munisipaliteit binne die provinsie konsekwent 100% of 99% watervoorsiening bereik het aan hul inwoners sonder ontwrigting nie. Ons kan nie toelaat dat die situasie so voortduur nie want water sal ’n hindernis word tot sosiale transformasie en ekonomiese groei en kan in ’n sekuriteitsbedreiging binne die provinsie ontaard,” sê Mahlobo.

Mahlobo doen ’n beroep op raadslede om nie die besluitnemers toe te laat om dienslewering aan hul gemeenskappe uit te stel nie.

Tshwane waterverbruik. Foto: Skermskoot

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button