News

Familie verpletter ná vermiste broer sterf in taxi ongeluk

'n Pretoria familie is verpletter ná hul vermiste broer, Alfred Kirsten (52) verlede maand in 'n ongeluk gesterf het.

‘n Pretoria familie is verpletter en opsoek na antwoorde ná hul vermiste broer, Alfred Kirsten (52) verlede maand in ‘n ongeluk gesterf het.

Kirsten se suster, Wilma Gouws sê hulle het hom van 15 Augustus af gesoek.

“Ons het hom van 15 Augustus af gesoek omdat ons geweet het hy sou nooit op straat slaap nie. Hy was nie ’n dwelmgebruiker nie en het nie met sulke mense uitgehang nie.

“Niemand het geweet waar hy is of hom gesien nie.”

Sy sê op 18 Augustus het hulle hom as vermis aangemeld.

“Op die 20ste het ek vir my suster gesê ons moet dalk by die staatslykshuis gaan kyk, maar ons het nooit verwag om hom daar te kry nie. Dit was ’n groot skok om hom agter die glasvenster vol bloed te sien lê. Hy het geen identifikasie aan hom gehad nie en is as onbekend ingeneem.”

 Alfred Kirsten

Volgens Wilma is sy meegedeel dat Kirsten op die hoek van Bremer- en Marketstraat deur ’n taxi raakgery is.

“Die bestuurder beweer glo die lig was groen, maar ons almal weet hoe taxis op die pad ry – hulle ignoreer dikwels rooi ligte.

“Die ongeluk het omstreeks 22:00 gebeur en hy is om 22:40 dood verklaar. Die ongeluk is nie dadelik aangemeld op enige noodgroepe nie, al was die pad vir ’n ruk lank gesluit vir forensiese ondersoeke. Die taxibestuurder het egter die toneel verlaat nog voordat die fotograwe opgedaag het.

“Daar was geen remmerke nie, wat beteken dat hy baie vinnig moes gery het. My broer is dood aan ernstige kop- en inwendige beserings.”

Kirsten het sowat drie blokke weg van die ongelukstoneel gewoon.

“Hy en my suster het in Bremerstraat gewoon, maar ek weet nie of hy oppad was na my toe in Tuine of na sy vriendin in Danville nie. Hy was geskei en het saam met sy eks-vrou gebly totdat sy twee jaar gelede oorlede is. Hy het geen kinders gehad nie.”

Wilma is desperaat om inligting te kry oor haar geliefde broer se dood en die ongeluk.

“Nou vra ek: Is daar iemand wat my meer kan vertel oor die tref-en-trap ongeluk op die hoek van Bremer- en Marketstraat, Booysens, op Woensdagaand, 14 Augustus omstreeks 22:00? Is daar dalk ooggetuies?

“Wat het regtig gebeur? Ek soek net antwoorde. Hoe wreed kan mense wees om besittings van ’n lyk te steel? Ons het hom orals gesoek en nooit geweet hy het daardie nag in ’n ongeluk gesterf nie. Toe ons uiteindelik na vyf dae by die lykshuis gaan kyk, het ek hom daar agter ’n glasvenster gekry, vol bloed. Dit is te erg vir woorde.”

Sy het haar broer beskryf as ‘n sagte mens met ’n groot hart.

“Hy sou sy laaste vir iemand gee, al het hy self niks gehad nie. Hy het ons altyd “Sus” genoem. Hy was ook baie handig met sy hande en het altyd gehelp om dinge in my huis reg te maak. Sedert my man ’n beroerte gehad het, was dit my broer wat my gehelp het, en ek mis hom elke dag. Dit is so verkeerd dat hy nie meer hier is nie.”

Lees ook: Pretoria-kinderkore bekoor by fondsinsameling vir diegene met demensie

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button