Local newsNews

Pretoria-kinderkore bekoor by fondsinsameling vir diegene met demensie

'n Suksesvolle konsert met bekende soprane en Pretoria laerskole is ten bate van diegene met demensie-siektes aangebied.

Die konsert van die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se Siekte Suid-Afrika, oftewel Adasa, op 15 September by NG Kerk Universiteitsoord het menige konsertganger laat terugdink aan liedjies uit vergange se dae en met reg ook.

Herinneringe was juis die tema van die Memories Matter-konsert onder leiding van musikale regisseur Ilse Schürmann.

Die fondse wat met die konsert ingesamel is, sal aangewend word om diegene wat aan demensie-siektes soos alzheimersiekte ly, te versorg en bewusmaking daarvoor te doen.

Die vereniging is daartoe verbind om die lewenskwaliteit van persone met demensie en alzheimersiekte, hul naasbestaandes en versorgers te verbeter en te ondersteun.

Dié konsert is deel van die internasionale bewusmakingsveldtog rondom demensie wat jaarliks op 21 September gevier word en het paslik afgeskop met die bekende liedjie van Mary Hopkin, “Those were the days my friend”.

Daarna was die nostalgiese reis ’n vrolike en opbeurende musiekskouspel met Pretoria-oos se bekende TV-aanbieder en gewilde sanger Leon Gropp se staaltjies en kenmerkende humor.

Gropp het sy veelsydigheid op die kitaar weereens bewys, maar ook met sy deernisvolle vertolking van die immergroen liedjie, “Starry, starry night” oor die lewe van skilder Vincent van Gogh, wat sekerlik vele nuwe aanhangers verkry het.

Die medleys van Abba, Anton Goosen-treffers en Suid-Afrikaanse tradisionele liedjies het ook die bekoorlike sang van die kinderkore van Laerskool Elarduspark en Laerskool Menlopark ingesluit onder die bekwame leiding van koorleier Elize Eloff.

Eloise Cupido

Eloise Cupido, omroeper en TV-persoonlikheid was op haar stukke met ’n stewige stukkie selfspot, maar het ’n sterk pleidooi gelewer aan die gehoor om hul te vereenselwig met die lot van bejaardes wat met demensie-siektes dikwels op die agtergrond gestoot word.

“Ons is dit aan hulle verskuldig om hulle bly raak te sien en die krag van liefdevolle aanraking te gebruik om hulle geliefd te laat voel,” glo Cupido.

Talle lede van die gehoor het nie geweet die talentvolle en borrelende persoonlikheid vol anekdotes uit haar kleintyd kan ook sing nie. Cupido het ’n aandoenlike vertolking van Koos du Plessis se “Gebed” gegee.

Magdelene Minnaar

Die hoogtepunt van die opvoering was die sopraan Magdelene Minnaar se emosionele vertolking van JRL van Bruggen se gedig “Heimwee” getoonset deur S Le Roux Marais. Minnaar, ook die artistieke direkteur van Cape Town Opera, se vertolking het die gehoor se harte aangespreek en dawerende applous ontvang.

Timothy Moloi

Met sy fluweelstem het Timothy Moloi tydens duette asook saam met die res van die sangers ’n op-en-wakker jazzerige klank aan verskeie liedjies gegee.

Vir meer inligting rondom die werksaamhede van Adasa, besoek hul webwerf by www.adasa.org.za.

Marlene Freislich en Ilse Schürmann

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Check Also
Close
Back to top button