EntertainmentLocal newsNews

Inhoudskepper benoem vir tegnologiejoernalistiek

'n Inhoudskepper met die internethandvatsel Furious Kitty is 'n katjie wat jy nie sonder handskoene kan aanpak as sy eers begin rekenaarspeletjies speel nie.

Wanneer tegnologiejoernalis en inhoudskepper vir die internet, Ingrid Bure van Brooklyn, oor haar passie gesels, is die opgewondenheid voelbaar oor die Comic Con Africa tegnologie, popkultuur en rekenaarspeletjiesfees.

Vir Bure, wat as inhoudskepper en tegnologiejoernalis benoem is vir die DStv Inhoudskepper-toekennings, is dit immers op ’n manier waar haar reis met tegnologiejoernalistiek begin het.

Die benoeming is in die kategorie vir die speletjies-inhoudskepper van die jaar en wel vir die werk wat Bure onder die internethandvatsel Furious Kitty doen.

Saam met haar is Beamerboy TV, Canton Parker, Natural Cauzes en Sam “Tech Girl” Wright benoem.

Die wenners word op 12 Oktober bekend gemaak.

Sy het meer as 25 000 volgelinge op haar Instagram-profiel, ’n stewige YouTube-aanhangerSbasis en meer as 2 000 Tik-Tok-volgelinge.

Bure vertel dat sy onlangs die vertrek waarvandaan sy uitsaai oor nuwe tegnologieprodukte, rekenaarspeletjies beproef en resenseer opgeknap het.

Sy is ’n opgeleide grafiese ontwerper, maar het ook ’n draai in die onderwys gemaak.

In ’n stadium wou sy ’n speletjiesontwerper word en het selfs gedink sy is uitgeknip vir inligtingstegnologie, maar het tydens ’n animasiekursus besluit sy is nie daarvoor in die wieg gelê nie.

Sy het wel ’n tuiste in die e-sportbedryf gevind waar rekenaarspeletjiestoernooie wenners met pryse beloon.

Die vroeëre voorlopers van Comic Con Africa soos rAge Expo het in 2017 aan haar die geleentheid gegee om video’s oor tegnologie, rekenaarspeletjies en produkte te maak en op haar eie YouTube-kanaal daaroor berig te doen.

Skielik het dit haar voltydse werk geword en het sy tot haar verrassing uitnodigings as lid van die media na soortgelyke uitstalling en tentoonstellings gekry.

In dié fase van haar lewe waar sy en die liefde van haar lewe, Philip Korff, ’n toekoms saam beoog, is sy doodgelukkig om rekenaarspeletjies te beproef en tegnologieprodukte te toets en te bemark.

“Ek het nooit gedink ek sal hiervan ’n lewe kan maak toe ek die eerste keer begin kommentaar lewer het op ’n speletjie op die speletjiesstromingsdiens, Twitch, nie,” vertel sy.

Ingrid Bure en Phillip Korff Foto: Elize Parker

Bure, wat haarself ’n introvert noem wat eerder na mense luister as om self te veel aan ’n gesprek deel te neem, vertel hoe sy tuis gevoel het tydens die speletjie en gevoel het of sy vriende maak.

Sy onthou egter hoe haar gesin haar altyd herinner dat sy reeds op driejarige ouderdom ’n destydse rekenaarspeletjie rondom die Lion King begin en klaargemaak het.

“Dit was glo ’n prestasie wat nie eers veel volwassenes kon behaal nie!”

Vandag het die uittoets van rekenaarspeletjies en bemarkingswerk daarrondom haar werk geword.

“Dis ’n harde werk al dink mense net jy speel die hele dag speletjies,” meen sy.

Hierdie oudleerling van Hoërskool Wonderboom glo die rekenaarspeletjiesbedryf moet omsigtig benader word, veral as jy gereeld as speler betrokke raak.

Haar reël is: “Bly uit die drama uit”.

“Daar is meer mans as vroue wat deelneem en die omgewing kan gou toksies raak. Omdat jy in die publieke oog is, moet jy vir jouself grense stel. Ek glo altyd ek het niks om te bewys nie en hoef nie kommentaar oor als te lewer nie. As jy nie iets goed het om te sê nie, bly eerder stil. Jy kan maklik ’n teiken word.”

Comic Con Africa word in die Johannesburg Expo Centre (Nasrec) vanaf 26 to 29 September aangebied.

– Volg Ingrid Bure op Instagram 

– Ingrid Bure se YouTube-kanaal

– So lyk haar speletjieskamer

LEES OOK: Khoisan-koning kom kuier by die Voortrekkermonument

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button