Local newsNews

Geliefde operaster bekroon met gesogte liedere-toekenning

Die geliefde sopraan het geen bekendstelling nodig in die musiekwêreld nie en is onlangs vereer vir haar bydrae tot veral die sing van die kunslied in Afrikaans.

Geliefde opera-, operette, konsert- en musiekblyspelsanger van Centurion, Barbara Veenemans (86), se hoogtepunte in haar loopbaan skets ’n prentjie van musiektye in Suid-Afrika toe operas en blyspele op groot skaal opgevoer is met prag en praal sowel as tegniese professionele kundigheid.

Veenemans het op Vrydag, 16 Augustus tydens die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees wat deur die Cantare-kinderkoor by die NG Kerk Alberton-Suid aangebied is, by die FAK die gesogte S le Roux Marais-toekenning ontvang.

Dié toekenning, wat uitsonderlike bydraes tot Suid-Afrikaanse musiek en kultuur vier, is nog net een keer vantevore toegeken, met Jannie Moolman as die eerste ontvanger in 2022.

Vir die vrou met die sprankel in haar oë en met die lieflike gemoduleerde stem, was dit heel onverwags.

“Ek dink dis ’n wonderlike eer. Liewe deug, maar dit was ’n verrassing. Ek het dit absoluut en nooit verwag nie!” lag sy met haar kenmerkende vriendelike en vrolike lag.

Veenemans gaan haal die herinneringe ver wanneer sy oor die gloriejare van opera in Suid-Afrika en haar optredes gesels met ’n frase so hier en daar wat geneurie word of ’n koorlyn wat foutloos gesing word.

Dit is veral haar optredes vir die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste in die Johannesburg-stadskouburg sowel as die Aula en Staatsteater in Pretoria, wat haar bybly.

Veral dan ook is dit stelontwerper en teaterdirekteur, Anthony Farmer, wat vernuftig sy verhoogdekor met ingenieursvaardighede ingespan het om gehore na hul asems te laat snak, waarvan sy met bewondering gesels.

“Daar was tot op ’n keer ware waterspuitfonteine op die verhoog! Wie kan nou ooit vergeet hoe die orkes uit die orkesput uitgestyg het op ’n platform terwyl hulle die ‘Beautiful Blue Danube’ van Johann Strauss speel?”

Vir hierdie gevatte storieverteller gaan dit nie net oor die dawerende applous wat sy gedurende sulke opvoerings soos Kismet van komponiste Charles Lederer en Luther Davis en The Great Waltz gekry het nie.

Veenemans se gesonde sin vir humor en haar ondersoekende geaardheid, het haar ook menigmaal agter die skerms ’n ywerige belangstelling in die kom en gaan op verhoë gegee.

Soos met die inlywing van die Staatsteater in Pretoria in 1981 toe sy ’n uittreksel uit Johann Strauss se tweede se operette Die Fledermaus moes vertolk. Na pouse was daar uittreksels uit Giuseppe Verdi se Aida waarvoor leeus in hokke op die verhoog gebruik is.

“Ek het elke aand met die optredes vir daai leeus met hulle mooi maanhare gaan hallo sê,” vertel die diereliefhebber wat graag met haar dogter, Michelle, se twee Duitse herdershonde, speel.

Barbara Veenemans en haar dogter, Michelle

Veenemans is ook nostalgies oor die era toe die kunslied nog enige sanger van klassieke musiek se intreepunt was.

“Min mense is bewus daarvan dat ek in my jonger dae kunsliedere gesing het. Mens begin by hierdie sangvorm en spring nie sommer weg met opera nie.”

Vir haar was van die mooiste kunsliedere wat sy kon sing die liedere van S le Roux Marais, PJ Lemmer en Sidney Richfield.

“Die komponiste van die kunslied vandag het nog ’n entjie om te gaan om by die hoë standaard van destyds te kom,” meen Veenemans.

Voor haar lê talle van die foto-albums wat haar dogter Michelle oor die jare met sorg saamgestel het met uitknipsels van ’n loopbaan ryk aan verskeidenheid en saam met die room van Suid-Afrika se sangers. Teen die mure is die bakens van haar loopbaan noukeurig in foto’s aangebring.

Sy onthou met ’n glimlag in haar stem details oor haar optrede in die opera van Mozart, Die huwelik van Figaro, toe sy in Afrikaans die rol van Susanna vertolk het.

“Dit was die langste rol wat ooit vir ’n sopraan geskryf is. Ek was die hele tyd aan die gang op die verhoog!”

Veenemans sing vandat sy drie jaar oud is.

“Ek het toe in die kerk gesing en vandaar af nog nooit opgehou sing nie,” lag en vertel sy van hoe sy en haar suster, wyle Lenore en haar broer Bennie as sangers en as groep gou orals in aanvraag was.

Selfs as tieners het sy en haar suster vir die SAUK liedere en konserte gedoen sowel as die bekende musiekreekse, die Koffiehuiskonserte, opgeneem.

“Ons het die hele Oos-Rand en Wes-Rand, altyd in stadsale, duette gesing. Veral ook die vrolike liedere soos ‘Kom dans, Klaradyn”,” vertel sy.

Oor hierdie tyd spot sy heerlik met haarself. “Van aldrie kinders was ek die heel uitspattigste en luidste!”

Sy kyk veral terug op die tyd toe sy op Tukkies by Zander Hagen meer van die uitvoering van kunsliedere geleer het. Sy het self ook klas gegee en was lief om haar studente met klein en kort klassieke arias te laat wegspring.

Maar sy onthou veral haar Walliese sangonderwyseres, Gladys Webber, by wie sy les gekry het vanaf 11-jarige ouderdom totdat sy op 22 getrou het.

“Sy het my geleer hoe om ’n lied se stemming te voel en oor te dra. Ek hoor haar nou nog sê: ‘Don’t just sing it, feel it with your heart’.”

Sy glo ’n vrolike en blymoedige mens word so gebore.

“Ek dink dis ’n geskenk van die Here. Dit was altyd vir my heerlik gewees om grappies te maak en snaaks te wees en toneel te speel terwyl ek sing want dis die siel en wese van operas, musiekblyspele en operettes: sing terwyl jy toneel speel.”

Maar Veenemans het ook ’n ernstige kant en moes al veel tragedie in haar lewe verwerk.

“Ek staan stil by sulke hartseer oomblikke en verwerk dit in my innerlike. Daar kom egter ’n tyd wat jy jouself moet maan die verwerking moet nou stop want die lewe gaan voort.”

Vir Veenemans, sekerlik die een Suid-Afrikaanse operaster wat nooit vir ’n oudisie genooi was nie, maar altyd rolle aangebied is, is en bly ma-wees die rol waarvoor sy gebore is.

Om na nege jaar van getroude lewe vir Michelle op 31-jarige ouderdom en drie jaar later haar seun Jaco te kon vashou, bly vir haar die hoogtepunt van haar lewe.

“Ek het nie gedink ons sal ooit kinders hê nie en toe gebeur die twee wonderwerke. Dit was vir my vir die nege jaar so ’n leemte in my lewe al was ek hoe besig met my loopbaan. Om ’n ma te wees, was die grootste geskenk wat ek ooit kon ontvang.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button