Twee Pretoria-groepe eindig in topvyf in musiekstryd

Groepe van heinde en verre het vir die stryd van die nuwe supergroep in Suid-Afrika met lede onder 30-jarige ouderdom ingeskryf.

Twee musiekgroepe van Pretoria, BCOM en Vertigo, is in die topvyf van die radiostasie GROOTfm in hul onlangse epiese musiekstryd, Battle of the Bands.

Dié kompetisie is gehou om die nuwelingorkes van die jaar aan te wys en die nuwe groot Afrikaanse supergroep te vind.

Op ’n groot konsert het die twee groepe by Loftus Versfeld die verhoog met die gewilde groep Spoegwolf gedeel sowel as met ander topvyf finaliste: Eastlynne, Skedelkus en Sonder Onderbroeke.

Na die stryd op die verhoog op 16 Augustus is Sonder Onderbroeke, ’n groep van Johannesburg, as wenners aangewys.

Wilco Meyer, kitaarspeler van BCOM, vertel hy het saam met Francois Smith op tromme en Heinrich Buys die groep in 2018 begin toe hulle saam in matriek by Hoërskool Zwartkop in Centurion was.

Meyer is trots op hul kompetisieliedjie “Specials” wat deur aldrie groeplede geskryf is.

“Ons wil iets nuut op die musiektoneel inbring en ons dink dis tyd om dinge bietjie nuwe lewe te gee,” sê Meyer. “Ons speel al saam vir vyf jaar en daar is geen intensie om te stop nie.”

Elise Cloete van die groep Vertigo vertel hul groep het ontstaan “omdat ons saam skoolgaan. Ons is nog steeds op skool in Afrikaans Hoër Meisiekool Pretoria. Ons is beste vriendinne wat nog geniet om saam musiek te maak.”

Hulle het saam die lirieke en melodie geskryf van hul liedjie “Secondhand smoke”.

Sy verduidelik die groep is nie seker van hoe hul toekoms gaan lyk nie.

“Ons sien uit vir die groot geleenthede wat voorlê en is gretig om nuwe projekte aan te pak,” vertel Cloete.

Sy verduidelik hul liedjie gaan oor ’n meisie se lewe wat voel asof sy lewe in haar vriendin se tweedehandse rook.

Elise Cloete en Rose Cooper van die slegs-meisies-groep, Vertigo

Die kompetisie het op 1 April vanjaar afgeskop met inskrywings wat gemaak kon word deur orkeste waarvan die lede tussen 13 en 30, en deel van ’n groep van minimum twee groeplede is.

Vanaf 1 April tot 26 Mei het elke orkes die geleentheid gehad om in te skryf. Slegs ’n selfoonvideo en die voltooiing van ’n inskryfvorm was nodig.

Daarna het die beoordelingproses begin met behulp van beoordeelaars, Charonike Nel (musiekhoof: GROOTfm), Nina Coetzer en Jacques Du Preez (Die GROOT Trek-aanbieders), Rouxan Cloete, A&R (Artists and repertoire) van Universal Musiek, en Danie Reënwolf van Spoegwolf.

Na talle inskrywings en twee uitdundrondes is die topvyf op GROOTfm se middagprogram Die GROOT Trek aangekondig en het die geleentheid gekry om hulself regstreeks op lug voor te stel.

Intussen was die topvyf se inskrywingsliedjie ook afgerond en geskaaf met ’n regstreekse opname deur Universal Musiek vir die finale ronde.

Die ander finaliste is Skedelkus (’n groep uit Namibië), Sonder Onderbroeke (’n dinamiese manne-groep) en Eastlynne wat uit twee gemmerkop-broers bestaan.
Die vierman-wengroep Sonder Onderbroeke bestaan uit Braam Kaps, Adriaan Janse van Rensburg, Josh Ireland en Henro Steyn.

Hul prys is ’n professionele enkelsnit vervaardig deur Universal Musiek en ’n R20 000 geskenkbewys van Oosthavens Music.

_ Kliek hier om Vertigo te sien:

Kliek hier om B COM te sien:

– Kliek hier om die Battle of the Bands-optredes te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version