Snotkop spoor jong Pretoria-seun op na Krone plakkaat

Die sanger en rapper, Snotkop, het ’n jong Pretoria-seun se wense vervul nadat hy sy plakkaat in die skare van die Krone-konsert gesien het.

‘n Jong Pretoria-seun se droom het waar geword nadat die sanger en rapper van Afrikaanse musiek, Snotkop, sy tuisgemaakte plakkaat in die skare van ’n vertoning opgemerk het.

Dié negejarige seun, Logan Botha van Pretoria-Noord, kon skaars wag vir Saterdag se vertoning nadat sy ouma Elize hom met Krone-kaartjies verras het.

Dié Krone-konsert het vanjaar by Loftus in Pretoria plaasgevind, en meer as 20 van die land se grootste kunstenaars het op een verhoog verskyn.

Volgens sy ma, Michaela, het Logan sy plakkaat die Vrydag voor die konsert reeds gemaak.

Op die plakkaat staan: “Snotkop, kan ek jou hoed of chain kry? Ek is jou grootste fan!!”

“Hy was verskriklik opgewonde toe hy hoor sy ouma het kaartjies. Sy ouma weet hoe groot aanhanger hy is van Snotkop, en sy het reeds verlede jaar die kaartjies gekoop maar eers ’n maand of twee voor die konsert daarvan vertel.”

Michaela sê Logan het al voor die verhoog gestaan kort nadat die hekke vir die publiek oopgemaak is.

“Hy het die konsert so baie geniet en het omtrent gedans, gesing, en sy plakkaat opgehou toe dit Snotkop se beurt was. Hy was uit sy vel van opgewondenheid toe Snotkop vir hom van die verhoog af waai en sy plakkaat lees. Snotkop het ook vir hom ‘n Sharp met sy duime gewys.”

Sy vertel dat Logan ná die konsert nie opgehou praat het oor Snotkop nie. Min het hy geweet dit was net die begin.

Op Maandag het ’n foto van Logan met sy plakkaat ’n internet-sensasie geword toe Snotkop op Facebook begin vra of iemand weet wie die seun is.

“Ouens! Help my om die laaitie (ouers) te vind! Ek wil graag my chain vir hom stuur wat ek op die Krone-verhoog gedra het.”

Binne ure was Michaela in kontak met Snotkop, en nog verrassings is vir Logan beplan vir die komende naweek.

“Hy het die nuus by die skool gekry en wou in trane uitbars van blydskap. Logan sien so baie uit om vir Snotkop te ontmoet.”

Sy sê hulle is geskok oor hoe groot die storie geword het.

“Ons het nooit gedink dit gaan so uitdraai nie. Ons waardeer dit so baie.”

Logan se gunsteling-liedjies van Snotkop is Pens en Pootjies en Koos Kombuis. Hy is in Gr. 3 by Laerskool Danie Malan.

Michaela vertel Logan luister al na Snotkop vandat hy ’n baba is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version