Kla metro-amptenare aan, vra VF Plus na verslag op R60m korrupsie wys

'n Verslag oor waardasies van eiendomme in Hartbeeshoek, Donkerhoek en Derdepoort maak opslae en kan een van die redes wees hoekom die koalisieregering aan die wankel is.

Waaksame VF Plus-stadsraadslede het tydens die raadsvergadering aan die einde van Augustus verhoed dat miljoene rande deur die stadsraad afgeskryf word.

’n Aanbeveling is bykans deur die raad goedgekeur dat miljoene rondom ’n waardasieprojek van R116.4-miljoen afgeskryf word.

Van hierdie bedrag kan meer as R60-miljoen volgens die verslag aan korrupsie deur amptenare, maatskappye betrokke by die waardasieproses en individue toegeskryf word.

’n Aanbeveling is egter nou aanvaar deur die stadsraad dat metro-amptenare strafregtelik vervolg word.

Die VF Plus het tydens die raadsvergadering aanbeveel dat verskeie interne waardeerders en amptenare van die metro wat in die forensiese verslag van ouditeure genoem word, aangekla moet word.

Dié aanbeveling volg op ’n verslag wat einde Augustus vanjaar voor die raad gedien is rakende grond wat die metro reeds in 2013 aangekoop het.

Die verslag behandel breedvoerig die waardasieprosesse met die aankoop van gedeeltes van Hartbeeshoek, Donkerhoek en Derdepoort.

Luidens die verslag verskil die markverwante- en die waardasiebedrae van die eiendomme met meer as R60-miljoen.

Die metro het dus buitensporige kunsmatig-verhoogde pryse vir die eiendomme betaal.

Burgemeesterskomiteelid Grandi Theunissen

Volgens VF Plus-burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, Grandi Theunissen, is die verslag een van die verslae oor beweerde interne metro-korrupsie wat sedert 2013 uitstaande is.

Die miljoene rande sou bes moontlik afgeskryf gewees het indien raadslede nie saamgestaan het en hierdie aanbevelings gemaak het nie.

Hy glo ook dat sulke forensiese verslae een van die redes is waarom partye soos die ANC en EFF so gretig is om van die huidige burgemeester, Cilliers Brink, en die huidige burgemeesterskomitee, ontslae te raak.

“Die koalisieregering is besig om korrupsie te ontbloot en feite daarrondom uit te krap wat al lankal aandag vereis en hierdie partye sal als in hul vermoë doen om te verhoed dat die korrupsie aan die lig kom,” meen Theunissen.

Hy benadruk dat partye wat met die indien van twee mosies van wantroue in die burgemeester gepoog het, reeds verskeie dreigemente in die openbaar geopper het dat hulle skoonskip sal maak onder die amptenary in bestuursposte soos die stadsbestuurder, Johann Mettler.

Mettler is deur die koalisieregering aangestel.

“Hulle wil sulke aksies neem om te verhoed dat hierdie en ander bewese korrupsie by die owerhede aangemeld word,” verduidelik Theunissen.

Hy doen aan die hand dat lede van die koalisie se wegbreekparty ActionSA hulself moet afvra of dit hul wens vir die stad is dat korrupsie verder onder die mat ingevee moet word.

“Of wil hul liefs met die koalisie saamwerk om sulke euwels uit te roei?” vra Theunissen.

VF Plus raadslid Mari Joubert

Die VF Plus raadslid Mari Joubert het aan Rekord gesê die verslag is een van die Seksie 32-verslae waarop daar aangedring is deur die koalisieregering.

Sulke verslae word opgestel in terme van die reg op bevordering van toegang tot inligting-wetgewing wat lui dat elkeen die het reg op toegang tot enige inligting wat deur owerhede gehou en benodig word vir die uitoefening of beskerming van enige regte.

“Die opposisie wou die koste afskryf en nie die aanbeveling aanvaar nie dat dit verhaal moet word van amptenare asook dat klagtes aanhangig gemaak moet word deur die stadsbestuurder teen sulke amptenare. Ons aanbeveling het danksy samewerking van koalisievennote voor die raad gedien en ons aanbeveling is aanvaar,” verduidelik Joubert.

“Die ondernemings wat geïmpliseer word in die verslag moet ook nou ondersoek word,” glo Joubert. “Die waardeerders wat betrokke was by die transaksies, moet na die SA Raad vir Professionele Eiendomswaardeerders verwys word.”

Sy sê die VF Plus sal als in die stryd werp om vir ’n skoon administrasie te veg.

“Indien die koalisieregering val, is al ons goeie werk op die Openbare Rekeningkomitee daarmee heen,” sê sy.

Kommentaar is by die metro aangevra maar nog nie teen publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version