Khoisan-koning kom kuier by die Voortrekkermonument

Die Khoisan-koning het uiteindelik vandat hy in Pretoria seder 2017 woon die Voortrekkermonument besoek.

Die bekende gemeenskapsleier, Koning Khoisan SA, kan uiteindelik die Voortrekkermonument (VTM) van sy wenslysie afmerk na hy onlangs daar besoek afgelê het om meer te leer oor die Groot Trek en die Afrikaner se geskiedenis.

Die leier van die Khoisan-gemeenskap sit al sedert 2017 in sy tydelike woning by die Uniegebou in Pretoria en uitkyk oor die VTM en vanjaar het hy uiteindelik besluit dat dit tyd is om self te gaan kyk hoe dit daar lyk.

“Gedurende die tyd wat ek hier in Pretoria bly, het ek al baie Afrikaner-vriende en -bondgenote gemaak en een vraag wat altyd gevra word wanneer ons gesels, is: ‘Was jy al by die monument?’ Daarom het ek besluit dis nou tyd,” sê Koning Khoisan toe hy die eerste keer die monument inkom.

“Dit is wonderlik om te sien hoe ongelooflik goed die Voortrekkers se storie hier vertel en bewaar word. Dit is iets wat my baie na aan die hart lê omdat my mense se storie ook iets is wat ek graag vertel.”

Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die VTM, sê dit is vir hom wonderlik om te sien dat verskeie kulture in Suid-Afrika ook inkoop by die verhaal van die VTM.

“In die verlede het ons al baie hooggeplaaste besoekers van ander kulture hier verwelkom en dit is werklik verblydend om te sien dat ander kultuurgroepe ook graag meer wil leer oor die Afrikaner se geskiedenis,” sê Jordaan.

In Julie verlede jaar het ’n groep stamleiers van ROLESA (Royal Leaders of South Africa) uit verskillende groepe van Suid-Afrika ook die monument besoek om nie net meer te leer nie, maar kulturele bande te smee en die gesamentlike erfenis van ons land en sy mense te vier.

Koning Khoisan SA

Die lid van die Zoeloe koninklike familie, dr. Mangosuthu Buthelezi, het sélf in 2022, tydens die onthulling van die Shawu-beeld in die Trekroetetuin, gesê hy is trots dat die VTM ’n kultuurtuiste vir menige kan wees.

“Vandag voel ek, meer as ooit in die verlede, die belang van die VTM as deel van ons gedeelde kulturele erfenis en ek glo ek is nie alleen nie,” het hy destyds vertel.

Tydens dieselfde geleentheid het Bhelekazi Mabandla, prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile Tradisionele Gemeenskap wat naby Maclear in die Oos-Kaap woon, dié woorde van die ontslape Buthelezi beklemtoon. Sy het gesê sy sal enigiemand aanmoedig om by die VTM besoek te kom aflê om meer van ons geskiedenis en gedeelde erfenis te leer.

Koning Khoisan SA en sy mense voer al vir jare ’n verbete stryd vir erkenning van hul kultuur en kulturele erfenis en vandag, bykans 190 jaar na die Groot Trek, herinner sy besoek aan die VTM mens weer aan die Voortrekkers se vryheidsideaal en stryd om dié ideaal te verwesenlik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version