Local newsNews

Vermaaksterre met Pretoria-bande skitter by Silwerskermfees

Pretoria mag dalk nie die mekka van die Suid-Afrikaanse film en TV-bedryf wees nie, maar indien die aantal toekennings by die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV getel word, is die hoofstad wel die woon- en grootwordplek van vele sterre en kunstenaars.

Verskeie media- en silwerskermsterre van Pretoria asook voormalige Pretoria-inwoners, het ’n ryke oes van toekennings by die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV ontvang.

Die gesogte toekennings is tydens ’n gala op Saterdag, 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum oorhandig.

In die kategorie van beste aanbieder in ’n vermaaklikheidsprogram het die bekende aanbieder en oud-omroeper sowel as restaurant-eienaar van Centurion, Rian van Heerden ’n toekenning ontvang vir sy aanbiedersrol in die program Wie word ’n miljoenêr?

Van Heerden het aan Rekord gesê: “Dis goed om te weet dat die kykers die program geniet en die baie klein rolletjie wat ek speel!”

Hy is opgewonde oor ’n Afrikaanse gruwelrige slagtersrolprent (slasher) wat gedeeltelik in Pretoria verfilm is en teen die einde van Oktober vrygestel word.

Oudleerling van Hoërskool Overkruin en Pretoria-inwoner, Bennie Fourie, het die toekenning ontvang vir beste akteur in ’n komedie vir sy rol in die TV-program Taktiek.

As die beste aanbieder in ’n joernaalprogram het oudleerling van Die Hoërskool Menlopark, Kabous Meiring, as ankeraanbieder van Prontuit ’n toekenning ontvang.

Oud-Tukkie Lourensa Eckard het as die beste aanbieder in ’n aktuele program vir haar ankeraanbiederwerk een van die gesogte toekennings gekry sowel as in die kortfilmkategorie ’n toekenning vir beste draaiboek vir ’n kortfilm.

Pretoria-aanbieder van die TV-program Die GROOT Ontbyt, Pierre Breytenbach, het gewys hy is ook ’n man van vele talente met sy toekenning vir beste manlike byspeler in ’n speelfilm vir sy rol in Som van twee.

Pretoria-ma van twee, Simoné Pretorius, het gesorg vir die beste draaiboek van hierdie speelfilm (Som van twee) wat ook met talle ander toekennings weggestap het.

Vanjaar is die gesogte Silwerskermbeeldjies weer uitgedeel aan akteurs, aanbieders en persoonlikhede wat tussen 1 April 2023 en 31 Maart 2024 vir uitmuntende vermaak op die kykNET-kanale gesorg het.

Daar is ook erkenning gegee aan legendes in die vermaaklikheidswêreld.

Hans Strydom, wat al van 1973 af diep spore in veral Afrikaanse flieks getrap het en die patriarg At Koster in Binnelanders speel, en die veelsydige Denise Newman, deesdae veral bekend vir haar ikoniese rol as Bridgette in Suidooster, is beide vir hul lewensbydraes vereer.

Die TV-vervaardiger Roberta Durrant is ook vir haar lewenslange toewyding aan die bedryf gehuldig.

Kliek hier om ’n voorskou van die rolprent te sien wat die meeste toekennings gekry het:

Som vir twee: https://www.facebook.com/Silwerskermfees/videos/1529383504315471

Ander wenners:

In die TV-kategorie:

Beste byspeler in ’n komedie: Taktiek – Mandri Sutherland

Beste aanbieder in ’n leefstylprogram :Ommighellie – Frazer Barry

Beste nuweling in ’n telenovela of sepie: Wyfie – Mienke Ehlers

Beste aktrise in ’n komedie: Magda Louw – Desiré Gardner

Beste aanbieder in ’n realiteitsprogram: In die sop – Bertus Basson

Beste ensemble-aanbiederspan: Toks en Tjops – Breyton Paulse, Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt, Rikus de Beer, Janina Oberholzer, Jean de Villiers, Jonathan Mokuena, Jannie du Plessis, Tommy Dickson (Chef Vaatjie)

Beste byspeler in ’n telenovela of sepie: – Wyfie – Marguerite van Eeden

Beste manlike byspeler in ’n drama: Koek – Dawid Minnaar

Beste vroulike byspeler in ’n drama: Koek – Sandra Prinsloo

Beste aanbieder in ’n dokumentêre realiteitsprogram: Grondpad geloof – Dana Snyman

Beste aanbieder in ’n geselsprogram: Hannes aan huis – Hannes van Wyk

Beste akteur in ’n drama: Koek – Jacques Bessenger

Beste aktrise in ’n drama: Koek – Cindy Swanepoel

Beste aktrise in ’n telenovela of sepie: Suidooster – Jill Levenberg

Beste akteur in ’n telenovela of sepie: Arendsvlei – Jody Abrahams

Persoonlikheid van die Jaar: Rachelle Fourie

Wenners in die speelfilm-kategorie

Beste draaiboek van ’n speelfilm: Som van twee – Simoné Pretorius

Beste oorspronklike klankbaan in ’n speelfilm: Som van twee – Snoozefest, Hunter Kennedy

Beste klankontwerp in ’n speelfilm: Die Kwiksilwers – Sound Surgeon Studios, Morné Marais

Beste kinematografie in ’n speelfilm: Hier.Na – Ebrahim Hajee

Beste redigering in ’n speelfilm: Som van twee – Dries Scholtz

Beste grimering en haarstilering in ’n speelfilm: Die Kwiksilwers – Hanri Neethling

Beste kostuums in ’n speelfilm: Hier.Na – Ayesha Khatieb

Beste vroulike byspeler in ’n speelfilm: Hier.Na – Trudy van Rooy

Beste regie in ’n speelfilm: Som van twee – Simoné Pretorius

Beste akteur in ’n speelfilm: Som van twee – James Borthwick

Beste aktrise in ’n speelfilm: Hier.Na – June van Merch

Beste speelfilm: Som van twee

Wenners in die kortfilm-kategorie

Beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Marie se laaste dag – Mercy Kannemeyer en Lourensa Eckard

Beste regie van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Die Skynwerper – Dewet van Rooyen

Beste kinematografie in ’n kortfilm: Marie se laaste dag – Tom Marais

Beste redigering in ’n kortfilm: Baas se honne – Leon Visser

Beste akteur in ’n kortfilm: Die Skynwerper – Ben Albertyn

Beste aktrise in ’n kortfilm: Selah – Erica Wessels

Beste Shotgun-kortfilm: Baas se honne

Die wenners in die dokumentêr kategorie:

Beste kort dokumentêr: Maak stil die geblaf

Beste regie in ’n kort dokumentêr: Maak stil die geblaf – Marisa van Tonder

Beste redigering in ’n kort dokumentêr: Vergeet van my – Pierre-Arnold Theron

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Back to top button