Sosiale media: Hoe om nie in die sop te beland nie

'n Sosialemedia-regskenner beveel aan tieners moet verstaan dat dit hul verantwoordelikheid is om te dink voordat hul doen wanneer daar agter sleutelborde ingeskuif word.

“Selfs die mees beskermde tiener gaan iewers met die web se goeie en slegte kant gekonfronteer word.”

So sê ’n bekende in die mediareg van Mpumalanga, prokureur en joernalis, Helene Viljoen.

“Ons is dit aan ons kinders verskuldig om hulle met kennis te bemagtig, sodat hulle hierdie hulpmiddels verantwoordelik kan gebruik.

“Vergelyk dit met die bestuur van ’n motorkar: ek gaan my kinders vir seker nie toelaat om agter die stuur in te skuif sonder ’n leerlinglisensie nie. Netso gaan ek my kinders nie aan die web blootstel sonder die nodige kennis vir die verantwoordelike gebruik daarvan nie.”

Viljoen bied in die week van 9-13 September ’n seminaar aan, Social Media, The Law and Your Family, by Nebula College in Murrayfield wat oop is vir die publiek.

’n Afrikaanse weergawe van die seminaar wat meer op tieners gefokus is, Sosiale Media, Die Reg en Ons Tieners, word aan leerders van Die Hoërskool Menlopark op 12 September tydens skoolure aangebied.

Onderwerpe wat aangeraak gaan word sluit in basiese menseregte, kubergeoriënteerde wetgewing en misdade wat aanlyn gepleeg word.

Voorbeelde van regsverskynsels wat bespreek word sluit in laster, privaatheidskendings en kuberboeliery asook haatspraak, teistering en aspekte van aanlyn veiligheid.

Viljoen se raad aan tieners, ouers en gebruikers van sosiale media kan ook bondig in een sin raakgevat word: “Hou jouself dop voor jy jouself skop”.

Sy gee tydens haar seminare ’n inhoudsdigte verduideliking van die risiko’s – veral uit ’n regsoogpunt – wat met die gebruik van sosialemediaplatforms gepaard gaan, asook praktiese wenke om slaggate te vermy.

“Kyk, mense besef dit nie altyd nie, maar Suid Afrikaanse wetgewing het in die laaste vyf jaar aangepas om verskeie aanlyn misdade te inkorporeer. Dinge soos kuberboeliery, minderjarige uitruil van intieme inhoud en wraakpornografie word as misdade erken en dienooreenkomstig verhoor en bestraf,” verduidelik Viljoen.

“Ons tieners moet weet dat die wetlike landskap waarbinne sosiale mediagebruikers se dade geoordeel word, nou strenger is, sodat hulle hul eie optrede dienooreenkomstig kan aanpas,” waarsku sy.

Maar nie als rondom sosialemediaplatforms is vir haar negatief nie.

“Die bemagtiging wat dit meebring, weeg swaarder as die gepaardgaande risiko’s. Deur reg op te tree, sorg die gebruiker dat hy nie van ’n goeie ding iets boos maak nie,” glo sy.

Sy meen die koms van sosiale media het kommunikasie vergemaklik, skep ruimte vir gesonde selfuitdrukking en vergemaklik die verkryging van inligting.

“En dit is wonderlik! Die versigtige gebruik van sosiale media is geen uitsondering nie en moet soos alle ander hulpmiddels verantwoordelik gebruik word.”

Sy het heelwat wenke juis om verantwoordelik op die platforms te werk te gaan.

“Stap een is altyd om daaroor te praat as iets soos ’n internetgeboelie jou pla; verkieslik met ’n volwassene wat jy vertrou. Dit is belangrik om sulke voorvalle te dokumenteer met byvoorbeeld skermgrepe en om boelies to rapporteer op die platforms wat jy gebruik,” verduidelik sy.

Sy beveel aan indien hierdie stappe nie werk nie of as die boelie ’n oorlas bly, ’n tiener met ouers of voogde oor moontlike ingryping moet gesels.

“As ’n geboelie by die skool gebeur, gaan sien die skool saam met jou ouers om klarigheid te kry oor hul boeliebeleid, sodat die kwessie aangespreek kan word. In sekere gevalle is ingryping deur die polisie of die howe nodig.”

Die Teenteisteringswet maak dit vir slagoffers moontlik om ’n hofbevel teen ’n boelie te verkry wat hom/haar in sy/haar spore kan stuit.

Wanneer ’n geboelie ook ’n misdaad soos intimidasie of aanranding insluit, kan strafsake dienooreenkomstig oopgemaak word.

Die verskynsel van tiener-beïnvloeders op sosiale media moet ook omsigtig hanteer word volgens Viljoen.

“’n Wonderlike eerste stap sal wees om seker te maak dat die aard van hul inhoud opbouend is. Ons het rolmodelle nodig, beïnvloeders na wie my kinders kan kyk en kan sê: “Ja, dis ’n voorbeeld wat ek kan nastreef!”

Die aanbied van die seminare lê Viljoen, ’n ma van twee, na aan die hart en sy glo dit kan nut inhou vir onderwysers, beheerliggame en ouers.

“Ons kinders het iemand nodig om vir hulle te wys dat sosiale media ’n positiewe hulpmiddel kan wees, maar dat daar ’n regte manier is om dit te gebruik. Vandag se tieners is in die meeste huishoudings en skole die eerstes wat met die 24/7-werklikheid van sosiale media te doen het. Ouers kan óf die werklikheid omarm en vir tieners ’n flitslig skyn om die onbekende te navigeer, óf die werklikheid ignoreer en hul tieners daartoe verdoem om self deur die onsekerheid van hierdie nuwe wêreld te worstel.”

– Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie sal eersdaags saam met Viljoen ’n aanlyn lesing oor die onderwerp aanbied. Aanlyn werkswinkels sal ook via Quicket aangebied word vir ouers, onderwysers, beheerliggame en tieners.

Vir meer inligting, kontak Helene via e-pos by helene@heleneviljoeninc.com, 082 269 6991 of besoek haar Facebook-blad: Helene Viljoen Incorporated.

Viljoen beveel die volgende sosialemediaprofiele sterk aan vir tieners:
– Mark Rober se Youtube-kanaal (https://www.youtube.com/@MarkRober) Viljoen dink hy is baie oulik en propvol wetenskapeksperimente wat interessant aangebied word.
– Bernice West se profiele is vir haar positief en vol pret – definitief ’n volg werd (https://www.tiktok.com/@bernicewest_?lang=en).
– Mia le Roux is haar heldin en ’n wonderlike rolmodel. (https://www.instagram.com/mialerouxx/?hl=en)

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version