Kuierkonsert vir persone met gestremdhede roer die hartsnare

‘n Deurwinterde kunstenaar, Jannie du Toit, het met ’n wye verskeidenheid musiek en staaltjies rondom sy musiekvriende tydens ’n fondsinsameling die gehoor geboei.

Van ’n skattige liedjie deur Jannie du Toit se 95-jarige Weskus-vriendin oor ’n skilpad se manewales en ’n aangrypende duet oor vroegoggend gedagtes oor die liefde was van die hoogtepunte by die konsert in die Pierneefteater op 31 Augustus.

Die konsert met sy 22 liedjies deur Du Toit en ’n ensemble sangers, wat ’n ma en haar dogter ingesluit het sowel as ’n driestuks bestaande uit ’n getroude paar en hul swaer, het stemmingsvol en meelewend ou en nuwe treffers aan die gehoor gebied.

Die konsert is ten bate van die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdheid gehou as ’n fondsinsamelinggeleentheid asook as deel van die organisasie se vieringe rondom sy 85-jarige bestaansjaar.

Boonop is hul vlagskip-bewusmakings-aksie, Loslitdag, vanjaar 30 jaar oud en word die heuglike gebeurtenis vanjaar op Vrydag, 6 September gevier.

Therina Wentzel du Toit, nasionale bestuurder van die raad, sê vanjaar se Loslitdagtema is “Ek Sien Jou”.

“Die slagspreuk het ’n verskeidenheid betekenisse. Met Loslitdag 2024 wil ons graag die boodskap ‘Ek Sien Jou’ so wyd as moontlik versprei. Ek sien jou met my oë, ek sien jou met my hart, ek sien jou swaarkry, ek sien jou beste pogings, ek sien jou vorder, ek sien jou verstaan. Wanneer jy vanjaar deelneem aan Loslitdag, kan jy weet: ons sien jou omgee – dankie daarvoor!” vertel Therina, Jannie se eggenoot.

Vir haar is dit belangrik dat mense wat aan Loslitdag deelneem, weet dat dit oor veel meer gaan as om gemaklike klere vir Loslitdag (Casual Day) aan te trek.

“Mense moet op die dag kan stil staan en onthou daar is miljoene mense in ons land wat gestremdhede het. Hulle het ons hulp nodig. Elke R20 Loslitdagplakker wat die publiek koop, maak ’n verskil,” beklemtoon sy.

Die raad se hoof van Voorspraakmaking en Programme, Andrew Hofmeyer van Pretoria, sê tydens sy onlangse besoek aan projekte het dit hom opgeval dat mense met gestremdhede se uitdagings 24/7 en langtermyn is.

“Dit is nodig dat ons hierdie feit erken en onsself afvra, watter verandering kan ek aan ’n persoon met ’n gestremdheid se lewe maak?” vra Hofmeyer.

Riël en Lars Franzsen

Hy het sy linkerarm in ’n ongeluk 30 jaar gelede verloor.

Hierdie hulp aan individue met gestremdhede gaan ook vir hom nie net “oor die groot dinge soos skenkings en ondersteuning nie, maar ook oor klein dingetjies soos om die vermoë om iemand met ’n gestremdheid in die oë te kan kyk”.

Hofmeyer het daarop gewys dat die raad trots daarop is dat die bewusmakingsdag ook die Covid-19-pandemie oorleef het.

“Daar was baie druk op die raad en op mense met gestremdhede gedurende die pandemie, maar ons vier ook op 6 September die feit dat Loslitdag nog steeds kan plaasvind om ons fondse te versterk,” sê hy.

Fearika Heyns en haar dogter Willemien Rust, die trio Karin, Riël en Lars Franzsen, Chanie Jonker op die klavier en trekklavier, en Annelie du Plessis-Hoberg op die dwarsfluit het saam met Du Toit sy eie liedjies en ook gewilde goue oues met groepsang en solo’s vertolk.

Tydens die kuierkonsert het hy herinneringe aan ander musikantvriende in staaltjies en anekdotes herhaal.
Hy het laggend vertel hoe die 95-jarige Marie Tredoux se liedjies soos “Jacobsbaai se aandlied” nog voortleef en dat daar met haar ondeunde sin vir humor nog geensins fout is nie.

Die sangeres Willemien Rust, ook bekend as Philomène, het ook ’n paar persoonlike oomblikke as musikant gedeel.

Sy het verwys na die vertaling deur wyle Liesl van Wyk van Jannie du Toit se ikoniese liedjie, “Liedjie vir jou”, in Frans. Rust het ook die liedjie saam met Du Toit in Frans gesing en die optrede aan Van Wyk opgedra.

Andrew Hofmeyer, Helene van Wyk en Tharina Wentzel du Toit

Rust se ma, Fearika Heyns van Pretoria, het saam met haar opgetree en liedjies soos “Laat daar musiek wees” gevoelvol saamgesing.

Du Toit en Heyns sing sedert die tagtigerjare saam en het ook die hartsnare geroer met hul vertolking van Gisela de Villiers se introspektiewe liedjie, “Die eggo van jou oë”.

Die driestuks bestaande uit die Franszen-broers, Riël en Lars, en Karin Franszen het konsertgangers met hul soete harmonieuse sang ou treffers soos die Beatles se “Norwegian Wood” laat saamneurie.

Koop Loslitdagplakkers aanlyn by www.casualday.co.za of by ’n deelnemende winkel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version